Kommer oor Dros-verkragter wil appelleer

Nicholas Ninow in die hof. (Foto: Mia Spies/eNuus)

Die #NotInMyName-beweging het met ontsteltenis gereageer op die nuus dat die sogenaamde Dros-verkragter Nicholas Ninow aansoek om verlof tot appèl gaan doen.

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) kon egter nie bevestig of Ninow teen die uitspraak of vonnis, of albei, gaan appelleer nie. Ninow sal Vrydag in die hooggeregshof in Pretoria die aansoek bring.

Themba Masango, sekretaris van #NotInMyName, meen Ninow het geen gronde om te appelleer nie en dat dit onstellend is dat die saak enigsins aangehoor gaan word. “Dit moes onmiddellik en stilletjies van die hand gewys geword het.”

Ninow is op 17 Oktober 2019 lewenslank tronk toe gestuur deur regter Mokhine Mosope vir die verkragting van ʼn sewejarige dogtertjie.

Masango meen die regstelsel beskerm steeds diegene wat tronk toe gestuur word en wie se regte eintlik “opgeskort” moes word. “Die president weier om ʼn noodtoestand te verklaar met betrekking tot die afskuwelike aanvalle op vroue en kinders en die SAPD voldoen nie aan die Wet op Gesinsgeweld wat die president wil wysig nie, en dit dra by tot die gebrek aan vertroue wat die publiek in die regstelsel het.”

Nicholas Ninow. (Foto: Thobile Mathonsi/ANA)

Ninow is skuldig bevind aan verkragting, die besit van onwettige middels en dwarsboming van die gereg. Hy het skuldig gepleit dat hy die kind in 2018 in die badkamer van ʼn restaurant in Pretoria verkrag het.

“Ons is hartseer en teleurgesteld dat ‘n onskuldige kind wat net probeer om ‘n normale lewe te hê, steeds deur die Suid-Afrikaanse regstelsel geviktimiseer word,” het Masango gesê.

Mosope het Ninow ook vyf jaar tronkstraf opgelê vir die besit van onwettige middels en nóg vyf jaar vir dwarsboming van die gereg. Laasgenoemde vonnis word gelyklopend met die vonnis vir verkragting uitgedien. Die regter het ook beveel dat Ninow se naam in die register van seksoortreders opgeteken word.

ʼn Forensiese maatskaplike werker van die polisie het tydens die verhoor getuig oor die uitwerking wat die verkragting op die kind gehad het. Sy het gesê die voorval het nie net die kind nie, maar ook haar uitgebreide familie diep geraak en dat die verkragting haar waarskynlik lewenslank gaan bybly.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

15 Kommentare

jongste oudste gewildste
Strandloper

Siek siek!

Anoniem

Nicholas jy besef jy het verkeerd opgetree en ek veroordeel jou nie ou seun maar ek glo met my hele hart dat jy maar veiliger in die tronk is op hierdie stadium. Daar kan jy leer en jy kan inskakel by gebeds groepe. Wat gaan jy doen as jy nou daar moet uitkom. Jy gaan weer n kind verkrag en dan die kind ook doodmaak in die hoop dat hulle hierdie keer jou nie gaan vang nie. Jammer ou seun vat nou jou straf en leer daaruit en ek hoop dat ander ook daaruit sal leer dat jy nie wegkom… Lees meer »

Santjie

Ja, en dan doen hy dit dalk weer en NOG ‘n onskuldige kind moet boet! Soos met die ander tweetjies wat deur monsters op parool vermoor is.

Nette

Gelukkig weet ons almal dit sal nie slaag nie.

Patch

Hou hom net waar hy is, hy hoort nie in die samelewing nie. Geen verkragter en moordenaar moet ooit weer vrygelaat word nie.