Kommer oor effek van beurtkrag op matriekeksamen

(Argieffoto)

Die portefeuljekomitee vir basiese onderwys het sy kommer oor die onbeplande kragonderbrekings en voortdurende beurtkrag uitgespreek, en die uitwerking wat dit op vanjaar se matriekeksamen sal hê.

“Dit is nie net die aflê van die eksamens wat hierdeur beïnvloed word nie,” sê Bongiwe Mbinqo-Gigaba, voorsitter van die komitee. “Dit het ook ʼn impak op die leerders, veral die matrieks, se voorbereiding vir die eksamen.”

Volgens Mbinqo-Gigaba het die departement van onderwys reeds ʼn vergadering met Eskom se uitvoerende hoof, André de Ruyter, aangevra. Dít sal na verwagting in die volgende paar dae plaasvind.

Verskeie sakeondernemings en huishoudings gaan die afgelope ruk gebuk onder onbeplande kragonderbrekings nadat fase 4-beurtkrag Maandag aangekondig is.

Bo en behalwe die uitwerking wat die land se kragkrisis op vanjaar se matriekeksamen gaan hê, is die komitee steeds bekommerd oor die leerders se gereedheid vir die eksamen, as gevolg van die Covid-19-pandemie wat kontakonderrig bemoeilik het.

“Die komitee is deur die departement verseker dat bykomende leerprogramme, soos ʼn herfs- en lenteskool, die leerders genoeg tyd gegee het om gereed te maak vir vanjaar se eksamen,” sê sy.

Die raad vir gehalteversekering in algemene onderwys en opleiding, Umalusi, het aan die begin van die eindeksamen gesê hoewel hy gereed is vir die eksamen om vlot te verloop, daar wel nasionale uitdagings met betrekking tot personeeltekorte is.

“Om vakante poste te vul bly ʼn uitdaging wat deur die huidige begrotingsbesnoeiings vererger word. Provinsiale onderwysdepartemente (POD’s) het egter maatreëls getref om te verseker dat die eksamen nie negatief beïnvloed word nie.”

Die eindeksamen het op 27 Oktober met die eerste Engels-vraestel afgeskop, wat die taalafdeling van die vak getoets het. Die eksamen sal na verwagting op 7 Desember eindig, waarna die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, die resultate volgende jaar op 20 Januarie sal aankondig. Skole sal ʼn dag daarna die resultate aan leerders bekend maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Chris dupreez ·

n Mens moet jou voorbereiding vir eksamens reel en doen in die tyd wat jy tot jou beskikking het, so jy kan reel dat jy hersiening doen wanneer die krag aan is, jou opsommings moes al klaar gedoen gewees het. Ek dink die wat nou so kla is maar die klomp wat nie hulle werk gedoen het nie. Wat dit vir julle so maklik maak, jy hoef net 30% van jou werk te ken om deur te kom.

Nuustak ·

En ons as finalejaars? Meer spesifiek Unisa studente? Alle leermateriaal is elektronies. Die sogenaamde ‘ondersteuningsklasse’ is aanlyn. Elke een van ons eksamens is aanlyn. Vir ons word daar net gesê dat as jy nie die eksamen kan skryf weens beurtkrag nie, jammer, jy sal maar volgende jaar Februarie jou toets gaan skryf.

Miskruier ·

Twak, my sus het 35jaar gelede met n flits gesit en studeer. Daar was geen elektrisiteit op die plaas nie. Twee jaar later het my broer ook matriek geslaag sonder elektrisiteit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.