Kommer oor ernstige gebreke in Onteieningswet

Argieffoto (Foto: Michal Jarmoluk/Pixabay)

Sakeliga sal alle nodige druk uitoefen en litigasie onderneem om te verseker dat die Onteieningswetsontwerp, wat hierdie week deur die Nasionale Vergadering goedgekeur is, nie in werking tree nie.

Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, sê sekure eiendomsreg is ʼn voorvereiste vir ‘n veilige en florerende samelewing en kommersiële orde.

“Die Onteieningswetsontwerp hou groot skade vir eiendomsreg in. Dit beoog konfiskering (sogenaamde ‘onteiening sonder vergoeding’) onder die dekmantel van vergoeding, met dien verstande dat sodanige vergoeding egter ‘nul rand’ kan wees. In die nasleep van ‘n mislukte poging om artikel 25 van die Grondwet te wysig, is die Onteieningswetsontwerp ‘n opvolgpoging om dieselfde wysiging deur die agterdeur van ‘n parlementswet in te sluip.”

Die goedgekeurde Onteieningswetsontwerp sal nou na die Nasionale Raad van Provinsies verwys word, en indien dit aanvaar word, sal dit aan die president voorgelê word vir bekragtiging en ondertekening.

“Sulke bykomende wigte en teenwigte is histories na bewese nie in staat daartoe om die aanvaarding van skadelike wetgewing te stuit nie. Sakeliga doen nietemin ‘n beroep op die Nasionale Raad en die president om wyse oordeel aan die dag te lê en die wetsontwerp te verwerp. Indien hulle versuim om dit te doen, sal Sakeliga dadelik voortgaan met litigasie en ander stappe tot ons beskikking,” voeg Le Roux by.

’n Onafhanklike burgerlike samelewing, sakegemeenskappe, en individue vereis sekure eiendomsreg om nie net ekonomies te floreer nie, maar ook om hulself te beveilig en hul konstitusionele pligte op te neem. Die burgerlike samelewing en besighede speel ‘n belangrike konstitusionele rol as sentra van burgerlike mag wat misbruik van staatsmag en staatsverval kan uitbalanseer.

Dit is moontlik omdat individue en kommersiële instellings ‘n eiendomsgrondslag het – private eiendom – wat nodig is vir sekuriteit, ekonomiese produktiwiteit, en staanplek in regsgeskille.

“Wanneer eiendomsregte ondermyn word op die wyse waarop die Onteieningswetsontwerp dit beoog, verswak dit hierdie deurslaggewende rol en funksie van die burgerlike samelewing en die kommersiële sfeer. Hierdie konstitusionele bedreiging word vererger deur ander skadelike voorstelle soos die Grondhof-wetsontwerp en die wetsontwerp op Onwettige Betreding van Persele. Sakeliga sal nie hierdie bedreigings vir die sosiale en ekonomiese orde, duld nie.”

Die inisiatief om artikel 25 van die Grondwet te wysig het in Desember, 2021 misluk. Sou die wysiging geslaag het, sou dit opsigself ongrondwetlik gewees het. Weens die onsuksesvolle wysiging, is die Onteieningswetsontwerp egter soos dit daar uitsien op die mees elementêre vlak strydig met die grondwet.

“Ons merk op dat sommige akademici onder die dekmantel van kreatiewe regsdiskoers argumenteer dat ‘nul vergoeding’ as vergoeding kwalifiseer. Dit kom neer op ʼn doelbewuste denkfout. Artikels 25(2) en (3) van die Grondwet bepaal ondubbelsinnig dat waar daar ook al onteiening is, daar vergoeding moet wees. Dit kan nooit aanvaar word dat iemand wat regtens op vergoeding geregtig is, ‘vergoed’ word in geval waar die vergoeding niks is nie. Dit kom neer op konfiskering, en die Onteieningswetsontwerp sluip dit by die agterdeur in.”

Le Roux sê konfiskering is onversoenbaar met ‘n konstitusionele orde. Sakeliga beskou dit as sy konstitusionele plig om te verhoed dat konfiskering in wetgewing opgeneem word. “Ons moedig ander instellings van die burgerlike samelewing aan om dieselfde te doen.”

Terwyl die insluiping van konfiskering in die Onteieningswetsontwerp die mees kommerwekkende aspek daarvan is, het Sakeliga ook reeds ’n verskeidenheid ander bepalings in die wetsontwerp uitgewys wat dit onaanvaarbaar maklik maak vir die staat om te onteien – ook in gevalle waar vergoeding betaal word. Sakeliga se volledige parlementêre voorlegging oor die Onteieningswetsontwerp kan hier besigtig word.

Rampspoedige impak op die landboubedryf

Christo van der Rheede, uitvoerende direkteur van Agri SA, sê die Nasionale Vergadering het versuim om verskeie gebreke in die wetsontwerp te takel en die geleentheid misgeloop om die skadelike impak wat die wetsontwerp op die landboubedryf en breër ekonomie sal hê, te versag.

“Die wetsontwerp wat goedgekeur is, laat nul vergoeding vir onteiening toe. In die aanvanklike voorleggings aan die regering oor die wetsontwerp het Agri SA twee studies laat doen om sy kommentaar te staaf en te ondersteun. Ons standpunt bly dat die insluiting van nul vergoeding toegang tot kapitaal en kapitaalvorming vir die bedryf en ekonomie ondermyn.”

Van der Rheede sê voorbeelde van soortgelyke grondbeleide wat in lande soos Zimbabwe en Venezuela ingestel is, dui op die moontlike rampspoedige impak wat dié beleid op landbou, die breër ekonomie en die samelewing kan hê.

“Nóg ʼn beduidende kwessie met die wetsontwerp is hoe dit onteiening definieer. Agri SA glo dié definisie is te nou. Dit maak die deur oop vir indirekte onteiening deur die beperking van eiendomsregte sonder dat vergoeding betaalbaar is.”

Hy meen hierdie kwessies sal ʼn negatiewe impak hê op die gedeelde nasionale toewyding om ʼn meer inklusiewe landboubedryf te bou. “Dit sal die beskerming verswak wat toegeken word aan privaat eiendom en dit kan tot ʼn uitvloei van kapitaal in die landboubedryf en ekonomie lei. Die verwagte werksverliese en verliese aan beleggings sal ʼn impak hê op gevestigde en opkomende boere.”

Agri SA doen ʼn beroep op wetgewers om die wetsontwerp se foute en gebreke in ag te neem tesame met die verwoestende impak wat dit op die ekonomie kan hê.

“Eiendomsreg is die hoeksteen van ekonomiese ontwikkeling en Agri SA sal elke instrument tot sy beskikking gebruik om die voortgesette beskerming onder die Grondwet van Suid-Afrika te verseker.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Althes ·

Eiendomsreg is ñ menseregte ding. Baie van ons en ons ouers en voorouers moes huur betaal ( indien nie, beland jy op straat) of ñ huislening aangegaan het, om ñ dak oor jou kop te hê.
Ons was NIE bevoorreg om RDP huise te hê nie en die minimum munisipale rekening te betaal nie.
Indien hul ons wil terugkry oor die 1975 wet, daardie mense het immers behuising gekry.
In 1975 was ek slegs 6jr oud en duisend maal nee gaan ek staan vir ongeregtigheid. Ek moes my hele lewe lank werk, slim beplan en met klein salaris ñ eiendom besit.

Patrys80 ·

Ek sê liewers niks nie anders gaan ek verdwyn. Wie het Suid-Afrika op gebou in stand gehou. Nou soek hulle als op n skinkbord terwyl hulle reeds als het

Marshall ·

Mr DeKlerk’s speech in the Cape Town City Hall on 2 March 1992 clearly states that one of the MINIMUM REQUIREMENTS ABOUT WHICH AGREEMENT MUST BE ACHIEVED IN ORDER THAT THE HANDOVER OF POWER SHOULD PROCEED WAS THE “SECURING OF PROPERTY RIGHTS” (page4). If property rights were not secured, then the hand over of power was illegal (an act of treason) and the current government is illegitimate. These are the facts. I have it in writing, kindly sent to me by Mr De Klerk himself.

Harley Davidson ·

de klerk lied to everyone he sold his party to the ANC but in order to do it he made many statements and promises, this proofed to be all lies and therefore he would be remembered as a traitor

Voilet ·

As dit so kom moet ons almal op hou behuising aan die banke betaal. Dat hul agter kom dit gaan nie werk nie

Gaitsigubib ·

In 2019 skryf een kommentator, ‘n ene “Francois Lecocon” dat: “……..dan sal ons mos kos goedkoper kan invoer (AS BOERDERY EERS VERNIETTIG IS DEUR GRONDGRYPE), hoe sleg kan dit nou wees”? Ek wonder net of hy vir ons terugvoer sal gee van die goedkoper kos wat hy nou al begin invoer het? Nie lank voor dit nie skryf ‘n ene Mr of Me “Ellisras” dat Oom Cyril nooit sal grond vat nie, hy is dan self ‘n boer, vra sy/hy ewe verontwaardig. Moet julle eers vrek van die honger voor mens kommentaar van julle sal kry wat sin maak, dit lyk my so?

Joe Olivier ·

Almal wat in ’92 JA gestem het, het hiervoor gestem.

Nie Verbaas ·

ANC kon en sal nooit met logiese wetgewing vorendag kan kom nie. Hulle kan nie so ver dink nie, behalwe as dit by korrupsie kom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.