Kommer oor fondse vir ‘gratis onderrig’-plan

studentebetogings 2015 feesmustfall fees must fall

Studentebetogings in Oktober 2015. Foto: Verskeie bronne op sosiale media.

Die tydsberekening van die presidensie se aankondiging die afgelope naweek dat die regering gratis hoër onderwys vir voorgraadse arm en werkersklasstudente sal subsidieer, het talle Suid-Afrikaners nie net heeltemal onkant gevang nie, maar ook talle vrae gelaat oor presies hoe die befondsingsmodel daarvoor sal werk.

Zuma het vroeg Saterdagoggend gesê studente wat vir tersiêre onderrig kwalifiseer en uit ʼn huishouding kom met ʼn gekombineerde jaarlikse inkomste van R350 000 of minder se studies aan openbare universiteite en kolleges wat tegniese en beroepsgerigte onderwys en opleiding bied vanaf 2018 vir die eerste jaar ten volle gesubsidieer sal word. Daar sal ook nie enige verhoging in klasgelde wees vir studente vanuit huishoudings wat tot R600 000 per jaar verdien gedurende dié akademiese jaar nie. Die plan is om die subsidies oor die volgende vyf jaar in te faseer.

Dit blyk nou dat wie ook al die leisels by president Jacob Zuma as die nuwe president van die ANC gaan oorneem in die volgende paar maande sal moet kopkrap oor presies hoe om gratis universiteitsonderrig vir bykans 90% van die land se studente te verskaf.

“Zuma se aankondiging oor gratis onderrig was absoluut populisties en onverantwoordelik. As jy regtig ʼn samelewing wil ophef en werklik aandag aan onderwys wil gee, moet jy begin waar dit saak maak en dit is by primêre onderrig.

“Wie ook al gaan oorneem het groot moeilikheid en gaan sukkel om hierdie besluit om te draai,” het Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient Group, gesê.

Cas Coovadia, die besturende direkteur van die Bankvereniging van Suid-Afrika, het ook aan TimesLive gesê dit is ʼn onbekostigbare populistiese beleid wat net in die naam van die armes aangekondig is. “Die vermoë of politieke wil om hierdie belofte na te kom, bestaan nie en Suid-Afrikaners word net mislei,” het Coovadia gesê.

Professor Ahmed Bawa, bestuurshoof van Universiteit SA, ʼn vereniging wat meer as 20 Suid-Afrikaanse universiteite verteenwoordig, het Saterdag in ʼn onderhoud met die SAUK gesê dié aankondiging oor gratis hoër onderwys is kommerwekkend omdat daar geen voorafgesprekke daaroor met universiteite se bestuur of studente gevoer is nie.

“Ons is veral bekommerd oor die volhoubaarheid van Zuma se plan. Die grootste vraag is egter of alles betyds vir 2018 beskikbaar sal wees,” het Bawa gesê.

Adam Habib, visekanselier van die Universiteit van die Witwatersrand, het getwiet dat die aankondiging ʼn positiewe besluit is, maar gesê die eintlike kwessie is hoe dit befonds gaan word. “Ons benodig dringende klarigheid hieroor. As gratis hoër onderwys nie reg gehanteer word nie, sal die gehalte van universiteite afneem en dieselfde wat met basiese onderwys gebeur, sal nou op tersiêre vlak plaasvind.”

Hy het gesê die departement van hoër onderwys en opleiding het met die visekanseliers van die universiteite vergader oor die besluit om nie verhogings op klasgelde vir studente vanuit huishoudings met ʼn inkomste van minder as R600 000 per jaar in te stel nie. Daar was egter geen sprake van gratis hoër onderwys tydens die vergadering nie.

“Die voordeel is dat die plan darem oor vyf jaar ingestel moet word. Dit sou wel meer ideaal gewees het as hierdie besluit nie geneem is terwyl Suid-Afrika met ʼn R50 miljard begrotingstekort sit en lae ekonomiese groei ondervind nie, maar aangesien dit nou geneem is, moet ons uitvind hoe ons hiervoor gaan betaal,” het hy bygevoeg.

Sizwe Nxasana, voorsitter van die nasionale finansiële hulpskema vir studente (NSFAS), het ook gesê die tydsberekening van die presidensie se aankondiging is vreemd, maar het dit verwelkom. Hy het in ʼn onderhoud met die radiostasie 702 Talk Radio Maandagoggend gesê daar sal beslis meer klarigheid moet kom oor hoe die planne befonds gaan word. “Die minister van finansies het gesê die tesourie sal kyk hoe hulle geld kan bekom, so ons sal sekerlik meer besonderhede hieroor vóór die begrotingsrede in Februarie verkry.”

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het op Facebook gesê sy probleem met Zuma se aankondiging is eerder sy tydsberekening wat hy meen daarop gemik is om dr. Nkosazana Dlamini-Zuma se kanse op leierskap te bevorder.

“Ek wens ook alles soos skole, studies, medies en huise kan gratis wees. Die probleem in die regte wêreld is niks is verniet nie – iemand anders betaal daarvoor,” het Buys gesê.

Volgens hom kon lande soos Brittanje en die VSA nie daarin slaag om gratis hoër onderwys in te stel nie, en daarom weet hy nie wat die Suid-Afrikaanse regering laat dink hulle sal dit wel kan regkry nie.

“Ek het deernis met arm studente en daarom het Solidariteit Helpende Hand ʼn studiefondssentrum begin waar duisende studente met meer as R130 miljoen se rentevrye studielenings gehelp is. ‘Hoekom studielenings’, vra mense. Omdat ons nie staatsgeld kry nie. Die idee is dat die gemeenskap die student help om sy of haar inkomste te verhoog deur ʼn kwalifikasie te kry waarna die student die studielening terugbetaal en so terugploeg om die volgende student te help.

Buys is bevrees Suid-Afrika se openbare universiteite kan dalk nou dieselfde paadjie volg as talle ander universiteite in Afrika.

“Die ondergang van die universiteit het begin met gratis opleiding en toegang vir almal. Dit het gelei tot chroniese finansiële krisisse, verswakking in standaarde en ʼn toestroming van studente wat nie aan die akademiese vereistes voldoen het nie.

“Die oorvol universiteite, swak presterende studente, hoë uitvalkoerse, geldelike verknorsings, studente-onluste en uitvloei van top-akademici het saam gelei tot ʼn spiraal na onder. Dit is gevolg deur toenemende staatsinmenging wat net die krisis versnel en verdiep het.

“Topuniversiteite soos Uganda se Makerere het byna ten gronde gegaan en was vir lang tye onbepaald gesluit. Wêreldklasakademici soos Ali Mazrui is landuit – en die gevolg daarvan is dat Afrika nie ontwikkel het nie. Uiteindelik het die privaat sektor besef dat die oplossing in ‘vrye’ eerder as gratis universiteite lê, en is privaat universiteite besig om die staatsuniversiteite verby te steek.”

Hy reken die ANC is ideologies geprogrammeer om dieselfde resep te volg wat postkoloniale Afrika laat misluk het.

“Ons oplossing is om nie na hulle vir oplossings te kyk nie, maar na dieselfde privaat oplossings. Mazrui het gesê die gemeenskap moet eers die universiteit help voordat die universiteit die gemeenskap kan help.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Eish ·

Die verval klop al baie ongeduldig aan die deur. Akademia sal moet roer vir die toeloop studente uit Afrikaanse geledere.

Frans ·

Die gevolge van gratis onderrig wat Flip Buys aan ander Afrika-universiteite toeskryf, is ongelukkig reeds kenmerke van die huidige Suid-Afrikaanse universiteitsopset (en dít selfs voor die absurde Zuma-voorstelle geïmlpementeer word): oorvol universiteite, swak studente, hoë druipsyfers, finansiële druk, studenteproteste en akademici wat die sinkende skip verlaat. Ek is self in die universiteitsektor werksaam en ek neem dié tendense al geruime tyd waar. Dit gaan in die toekoms net vererger, met of sonder gratis onderrig. My advies aan ouers van voornemende universiteitstudente: skenk sterk oorweging aan privaatinstansies soos Akademia.

John ·

Kan Zuma hierdie aankondiging maak sonder om dit eers in die parlement te laat bespreek? Dit is ‘n riskante besluit wat die land se finansies direk gaan raak.

Leeutjie ·

Uitstekende mening Frans. Kan nie verstaan hoe die sotlike so n uitspraak kon maak op die vooraand van die presidentsverkiesing nie!!! Hy los sy opvolger met n dik pak probleme!!

Skoolseun (laerskool) ·

Dis geen probleem, selfs ek in standerd DRIE kan dit uitwerk . . .

Akademi Buktu ·

Voormalige buurman van my se seun was dosent aan ‘n SA universiteit. Hy het verkies om na Nieu Seeland te verhuis eerder as om die opdrag om druipelinge deur te sit na te kom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.