Kommer oor gehalte van drinkwater, rioolverwerking

Lambert de Klerk en Dewet Ungerer versamel watermonsters. (Foto: AfriForum)

AfriForum se blou-en-groendruppelprojek wat hy jaarliks onderneem, wys dat talle munisipaliteite steeds wetgewing wat ʼn gesonde omgewing vir Suid-Afrikaners verseker, verontagsaam.

Die organisasie het vanjaar die drinkwater (bloudruppel) in 220 dorpe en die verwerkte rioolwater (groendruppel) van 118 rioolafvalwaterbehandelingswerke getoets.

Luidens die verslag het vyf dorpe, naamlik Boshof, Brits, Delareyville, Sannieshof en Stella, se drinkwater en 90 rioolstelsels nie aan nasionale standaarde voldoen nie. AfriForum sê hy het die dorpe se munisipaliteite van die probleme in kennis gestel en nadat opvolgwatertoetse gedoen is, was die water weer geskik vir menslike gebruik. Die organisasie sê dit is ’n aanduiding van die regering en munisipale amptenare se swak dienslewering, veral met betrekking tot rioolaanlegte.

AfriForum sê die projek is weens die Covid-19-pandemie belangriker as ooit. Navorsing wys dat die siekte vanuit rioolstelsels opgespoor kan word – ’n manier om brandpunte te identifiseer.

Die navorsers waarsku ook dat enige verswakking in drinkwatergehalte lewensgevaarlik kan wees. AfriForum sê dié risiko word veral vererger omdat Suid-Afrika uit ’n ernstige droogtetydperk kom en min water steeds vir menslike gebruik beskikbaar is weens hoë waterverliese in waterretikulasie-infrastruktuur.

“Uiteraard benodig landbou en nywerhede die meeste van die land se beskikbare water vir verbouing en produksie. AfriForum is bekommerd oor die bestuur van die volledige watervoorsieningsketting, maar nog meer oor die bestuur van Suid-Afrika se behandelde rioolafvalwater.

“Die uitslae van die 2020-opname toon dat daar ’n verbetering is in die gehalte van drinkwater in Suid-Afrika. Die drinkwater van vier dorpe toon ’n verbetering vergeleke met verlede jaar se verslag, maar dit is steeds kommerwekkend dat daar nog dorpe is wat nie van skoon, veilige drinkwater voorsien word nie. Wat egter die grootste kommer wek, is dat die drinkwater in vier dorpe vir twee jaar agtereenvolgens nie aan die minimum standaarde voldoen nie. Daar is ook duidelike tekens van wanbestuur in Noordwes,” lui die verslag.

Lambert de Klerk, AfriForum se bestuurder van omgewing, het gesê gemeenskappe moet aandring op hul reg op toegang tot skoon, lopende water en moet voortaan die onderskeie munisipaliteite tot verantwoording roep deur die gehalte van drink- en rioolwater gereeld te moniteer.

“Die bloudruppelstatus van die dorpe wat nie aan die standaarde voldoen het nie, is kommerwekkend aangesien vier van hierdie dorpe verlede jaar ook nie op standaard getoets het nie,” het De Klerk gesê.

“Die groendruppeluitslae is nog meer kommerwekkend – veral ten opsigte van swak rioolbestuur – en dit dui op die verdere verval van Suid-Afrika se infrastruktuur. ’n Tekort aan bekwame personeel om dié infrastruktuur te bestuur en die gebrekkige instandhouding van aanlegte is ook kommerwekkend.”

AfriForum sê die regering is nie ernstig oor die gesondheid van Suid-Afrikaners nie en dít kan gesien word in die feit dat die departement van water en sanitasie bankrot is en die parlement ondersoek instel na beweerde wanbestuur daar.

Die organisasie sê altesaam 90 van die 118 rioolafvalwaterbehandelingswerke wat vanjaar getoets is, voldoen nie aan standaarde nie en daar is steeds ’n probleem met die bestuur van rioolafvalwaterbehandelingswerke.

“Dit is ’n groot bron tot kommer dat soveel aanlegte rioolvuil in ons riviere stort. Dit is ook merkwaardig dat toegang by aanlegte geweier is, en dat daar by sommige aanlegte geen water by die uitlaat vloei nie,” het De Klerk gesê.

Die laaste amptelike Blou-en-groendruppelverslag is in 2012 bekend gestel.

“Die ANC-regering probeer sy onbevoegdheid wegsteek deur inligting van die publiek en selfs die parlement te weerhou terwyl gewone mense daagliks onder dié waterkrisis gebuk gaan. Ons kan nie langer op die staat vertrou om veilige water te verskaf nie en daarom toets ons self die watergehalte.”

De Klerk sê die departement kom nie sy

verpligtinge na om wetgewing af te dwing wanneer munisipale owerhede hulle aan oortredings skuldig maak nie.

Kliek hier vir ’n volledige verslag van die toetsuitslae.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Andre ·

Die mense stem almal GRAAG vir die ANC as stemtyd kom en daarom is die dorpe se munisipaliteite almal onder deur en wanfunksioneel.Maar leer sal hulle eers as daar nie meer skoon water is nie.

Josua ·

Ek het so n rukkie gelede op sosiale media die vraag gevra, Covid 19 word of kan deur fog versprei word, hoeveel keer spoel mense hul hande af sonder seep of n hand skoonmaak middels en die selfde water eindig in elk geval by die dorp/e se riool werke op so as daardie water nie gereeld getoets word nie hoe die joos verwag die regering dat mense nie siek gaan word nie. Daardie water eindig ook in damme ens op en ek gebruik Covid slegs as voorbeeld wat van ander siektes en peste wat kan uitbreek. As ek Afriforum raad kan gee gaan toets ook die water in die wes Kaap dalk kry julle die oplossing vir die skielike styging in Covid gevalle daar , mense word dalk siek van heeltemal iets anders wat hul immune stelsel verswak wat hulle makliker vatbaar maak vir Covid!!!!! Verwerkte drink water moet daagliks getoets word en moet aangeteken word dat dit wel gedoen word.

Wonder ·

Kom hull dit nou eers agter?
Die probleem kom al van 1994 af!!!

Katryn ·

As jy nou ‘n water gemors wil beleef, kom kuier in Koster… Ons kan nie kla oor die water nie, want daar IS nie water om oor te kla nie…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.