Kommer oor gesondheidswerkers, hospitale tydens onluste

Daar is toenemende kommer oor die veiligheid van mediese werkers te midde van voortslepende geweld in veral Gauteng en KwaZulu-Natal. (Foto: Netcare911)

Die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging (Sama) het ʼn dringende beroep op die departement van gesondheid sowel as die polisie en weermag gedoen om te verseker dokters en ander veiligheidswerkers is veilig in gebiede wat deur onluste geraak word.

“Die gewelddadige aard van die betogings, met aanvalle op onder meer afleweringsvragmotors en ander noodsaaklike werkers, het groot kommer veroorsaak oor die veiligheid van gesondheidswerkers wat na en van hospitale probeer reis.

Sama sê gesondheidswerkers het nie die luukse gehad om tydens die koronaviruspandemie tuis te bly nie en dat die betogings hulle lewens in die gevaar stel terwyl hulle probeer om ander lewens te beskerm en te red.

Die vereniging vra dat bykomende veiligheidsmaatreëls ingestel word om gesondheidwerkers te beskerm.

Daar was die afgelope ruk verskeie berigte van nooddienswerkers, veral paramedici, wat gesukkel het om pasiënte vinnig te bereik weens die versperring van paaie of geweld wat woed.

ʼn KwaZulu-Natalse paramedikus het Woensdagoggend gesê daar is die afgelope paar dae verskeie kere met vuurwapens op hulle losgebrand, hulle word met klippe bestook en voer ʼn opdraande stryd om versperrings in die pad en brande te probeer omseil.

Sama vra ook dat die voorsiening van basiese dienste soos water, krag en mediese gas dringend geniet word om ʼn voortgesette diens te verseker.

“Gebeurlikheidsplanne vir lugvervoer en vervoer van pasiënte tussen fasiliteite moet ook aandag kry om die probleem met paaie wat weens die betogings gesluit is, te oorbrug,” sê die vereniging.

Die hospitaalgroep Netcare sê hy het in hierdie stadium steeds genoeg suurstof, medikasie en water en dat voorraad fyn dopgehou word.

Omvattende gebeurlikheidsplanne geld reeds om te verseker pasiënte kry die beste en veiligste behandeling, selfs onder die huidige omstandighede.

Die voortslepende geweld in KwaZulu-Natal en Gauteng plaas egter groot druk op ʼn reeds brose gesondheidsinfrastruktuur.

Dr. Richard Friedland, uitvoerende hoof van Netcare, waarsku ook dat die situasie onvoorspelbaar is en die groep bly op ʼn hoë gereedheidsgrondslag om op enige nuwe verwikkelinge te reageer.

“Soos talle ander ondernemings het ons uitdagings weens personeeltekorte ondervind omdat personeel nie by die werk kon uitkom nie. Netcare se hospitale landwyd bly egter oop,” sê Friedland.

“Ons het ʼn hele aantal mense behandel vir betoging-verwante beserings, wat verdere druk op ʼn reeds beperkte gesondheidsorgstelsel, ook nooddienste, plaas.”

“Ons het ʼn span spesialistraumaverpleegsters na KwaZulu-Natal gestuur en dringende medisynevoorraad na die streek gevlieg nadat een van ons groot verskaffers nie medisynevoorraad by ons hospitale kon kry nie.

“Ons moes ook inentings in KwaZulu-Natal opskort.”

As voorsorgmaatreël is sommige van die groep se primêre fasiliteite, Netcare Medicross en Netcare Prime Cure in KwaZulu-Natal, tydelik gesluit.

Netcare Medicross-sentrums wat gesluit is, sluit in Malvern, Bluff, Hayfields, uMhlanga, Richardsbaai en Meerensee. Die Netcare Prime Cure-sentrums wat gesluit is, is Verulam, Prospecton, Smith Street, Bluff en Pinetown.

Aanlyn konsultasies met dokters by Medicross gaan voort en pasiënte kan ʼn dokter steeds telefonies of via ʼn video-oproep kontak.

“Voorsorg is altyd beter as nasorg as jy vermoed dat jy ʼn mediese noodgeval ondervind.

“In die geval van Covid-19 lyk dit of pasiënte te lank wag om mediese hulp te kry, selfs wanneer dit ʼn noodgeval is,” sê Friedland.

Die groep het ook meer maatskaplike werkers aangestel om pasiënte en hul geliefdes te ondersteun.

“Ons wil mense die versekering gee dat ons alles moontlik doen om mense se veiligheid en dié van ons helde op die voorste linie te verseker. Ons loof en bedank ons gesondheidsorgwerkers vir hul nougesetheid en toewyding aan pasiënte wat in dié moeilike tye in ons sorg is.

“Ten spyte van die druk op ons is dit ons roeping om sorg te verskaf; dit is ons doelwit en dit is ons voorreg om in hierdie uitdagende tyd vir mense van diens te wees.

“Ons is uiters hartseer om die lyding van ons mede-Suid-Afrikaners te sien en wens dat ons land en sy mense hierdie trauma gespaar kon bly, veral in die lig van die lyding en lewensverlies wat ons reeds weens die voortgesette Covid-19-pandemie ondervind.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Corne123 ·

ag nee regtig loa hom hy wou plunder en afbreek so as hy seerkry sy eie skuld en moenie eers kom se maar was onskildig da nie wat soek hy daar in eerste plek.

Marius Gerhardus ·

Ek stem. Laat hulle by die huis bly. Ons polisie mag sal hulle nooit kan beskerm nie. Kani eers onluste beheer nie. Miskien as die oproer makers self n geliefde of ses mut versorg…. Daar darem so 3 minder plunderaars op straat. En ja daar is ook onskuldige mense onder hulle ek weet maar hel erens mut iets drasties gebeur. Askies die oor saak van alles is seker…. Diskriminasie.

VaalDonkie ·

Ek is nie ‘n dokter nie, maar ek wil ook graag lewe!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.