Kommer oor gevaarlike ysterpenne op Gautengse paaie

Ysterpenne op paaie. (Foto: Gautengse verkeerspolisie)

Die DA is bekommerd oor die aantal lewensgevaarlike voorvalle weens ysterpenne wat boosdoeners op veral die R104 en N4 van Pretoria na Bronkhorstspruit plaas om slagoffers in lokvalle te lei.

Oor die afgelope 12 maande was daar altesame 13 sulke voorvalle by die polisie aangemeld, maar min inhegtenisnemings is al gedoen.

Faith Mazibuko, LUR vir gemeenskapsveiligheid in Gauteng, het onlangs die getal voorvalle in ʼn skriftelike antwoord op die DA se vrae in die Gautengse provinsiale wetgewer bekend gemaak.

In een van die jongste voorvalle is twee mense byna dood toe hulle deur die ysterpenne op die R104 gery het. ʼn Saak van poging tot moord is aanhangig gemaak, maar niemand is nog aangekeer nie.

Uit al die voorvalle wat in Gauteng aangemeld is, is slegs twee inhegtenisnemings al gedoen. Die sake teen hulle is hangende en geen skuldigbevindings is al gemaak nie.

Volgens die DA kom hierdie gevalle neer op poging tot moord, aangesien die ysterpenne veroorsaak dat motoriste beheer oor hul voertuig verloor.

“Wanneer sulke voorvalle plaasvind, is die bestuurder se aanvanklike reaksie om dadelik die voertuig te stop of van die pad af te draai, maar in die meeste gevalle bars die voertuig se bande en verloor die bestuurder beheer oor die motor. Dit verhoog veral die risiko vir die motor om te rol en dat die insittendes op die toneel omkom,” sê Crezane Bosch, die DA se woordvoerder oor gemeenskapsveiligheid in Gauteng.

Die GPF in Mpumalanga het verlede maand motoriste in die provinsie gemaan oor ysterpenne op die N4 nadat ʼn taxibestuurder wreed vermoor is toe hy op hierdie manier in ʼn lokval gelei is. Die polisie het destyds gesê dat alles daarop dui dat ʼn sindikaat motoriste teiken.

Bosch meen dat motoriste nie meer veilig voel om snags te bestuur nie omdat daar nie ʼn polisieteenwoordigheid op hoofweë is nie.

Volgens Mazibuko is daar egter wel polisiepatrollies op die paaie en dat meer beamptes die afgelope ruk ontplooi is.

“Daar word weekliks twee veiligheidsoperasies uitgevoer en lede van die gemeenskapspolisiëringsforums (GPF) patrolleer die gebied met hommeltuie,” het sy gesê.

Die DA meen egter selfs meer moet gedoen word om hierdie soort misdaad hok te slaan, juis omdat voorvalle drasties toeneem. Volgens Bosch moet die polisie die provinsie se paaie ononderbroke patrolleer.

Die DA wil ook antwoorde by die minister van vervoer, Fikile Mbalula, eis oor wanneer die Gautengse verkeerspolisie tot ʼn noodsaaklike diens verklaar sal word sodat hulle dag en nag, sewe dae per week aan diens kan wees.

Volgens Bosch is daar in Gauteng se 2022-’23-begroting voorsiening gemaak vir die Gautengse verkeerspolisie as ʼn noodsaaklike diens. Die DA sal ook skriftelike vrae aan Mazibuko rig oor vordering met die proses.

“Die veiligheid van ons motoriste word bedreig, dus sal ons nie rus tot Gautengse paaie 24 uur per dag deur owerhede gepatrolleer word nie,” sê Bosch.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Leana ·

My pa se werkskar was erg beskadig toe hy ‘n week terug oor penne gery het. Dis genade van BO dat wiele nie beskadig was nie en hy het net aanhou ry. Daar moet meer patrollies en dinge wees op hierdie paaie…

Danie ·

Die probleem dat hulle dan sal moet werk vir die salaris wat hulle tans net kry. Daar is orals kennisgewing dat mens sekere paaie sekere tye moet vermy. Dit terwyl die polisie lekker sit en slaap onder ‘n brug of ‘n boom êrens. Mens kan nie altyd vooraf kies wanneer jy ‘n stuk pad moet gebruik nie. Sommige van ons werk vir ons salaris. Daarom gebruik ons die paaie.

Hendrik ·

Polisie in die hierdie gebied het partykeer net een voertuig on ons lede moet dan help om die polisiestasie te beman. Probleem 1. Swak ondersteuning vanaf SAPD topbestuur en swak bevelvoeders. 2. Die gemeenskap in hierdie gebied word opgepas deur gemeenskaplede en ons het van die laagste misdaadsyfers in die land. Ek weet wraggies nie hoe dit aangaan in ander stedelike gebiede.

Marius ·

Ek was altyd ‘n voorstaander om snags of sommer twee uur die oggend al te begin ry, veral met verlof. Daar is nie ‘n manier dat jy dit nog kan doen nie. Die beste is om te begin ry sodra die son opkom en om by jou bestemming of oorslaapplek te wees voor die son sak.

Juan ·

Snaaks hulle noem niks van die N4 tussen Pretoria en Rustenburg nie. Meer gevalle hier al gewees as die 13 wat genoem word.

Miena ·

Ek woon in Bronkies en dien as volunteer saam met ons plaaslike noddbystand groep – en die 13 is beslis nie akkuraat nie. Daar is baie meer gevalle wat gebeur en ons vrouens is beveel om nie meer saam met die GPF, Ambulans of die Noodbystand groep saam te gaan snags in sulke gevalle na die N4 of R104 toe nie.

Toy ·

Dit is geen land van melk en heuning hierdie nie, dit is ‘n nes vir kriminele.

Pietertjie ·

Min inhegtenisnemings? Julle bedoel seker GEEN inhegtenisnemings! Ek het nog geen vonnisopleggings gesien nie. “inhegtenisneming” help ook niks. Dis mors net belastingbetalers se geld, want die vuilgoed is vinniger terug op straat as wat hulle agterin ‘n vangwa geprop kan word.

SjN ·

Hul weet dus waar dit plaasvind, verskerp die optrede teen die boosdoeners.

Manie ·

Een van die nuutste gevalle was by die N4 en R512 kruising op die Brits en Rustenburg pad waar ‘n pa wreed vermoor en sy vrou gewond is en die baba van ‘n gesin opvoeding ontneem is. Die regering en ministers is te onbevoeg on iets te kan of wil doen. Haal hierdie goed summier uit en kry hulle aan ‘n paal dat almal kan sien wat gebeur met onbevoegdes en moordenaars.

Nie Verbaas ·

Moet hulle nie arresteer as hulle gevang word nie. Verwyder hulle permanent. So sal hulle dan met dieselfde respek behandel word en ander leer dalk iets.

Lillian ·

Nou laat die polisie hul werk doen in stede daarvan om “static” te staan op sekere punte op die paaie!

Vlekkie ·

Bheki Cele moet ophou slaap en sy polisiedienslede moet ook ophou slaap; deur ‘n volle polisiemag in die nag ook te ontplooi en sigbaar te wees!!

Jana ·

Die probleem is, selfs al is daar polisie teenwoordigheid, hoe weet ek of ek hulle kan vertrou aangesien boewe hulle deesdae ook voordoen as polisie en ongelukkig is party polisie regtig boewe?? Hulle ( boewe) hou net aan nuwe planne uitdink volgens die situasie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.