Kommer oor grondbesettings

Van die huisies wat by Emfuleni opgerig is. (Foto: VF Plus)

Die burgerregtewaghond AfriForum het Vrydag ʼn bevel in die Pretoriase hooggeregshof verkry om die beleërde gemeenskap van Elandsfontein in die suide van Johannesburg te help om grondgrypers wat private eiendom daar toegeëien en strukture begin oprig het, te stuit.

Die organisasie sê die gemeenskap se pleidooie om hulp aan die De Deur-polisiestasie het op dowe ore geval.

“ʼn Desperate gemeenskap het AfriForum genader, wat op sy beurt ’n dringende aansoek voor die hof gebring het om die grondgrypers in hul spore te stuit. Die tussentydse hofbevel sal nou op die grondgrypers teenwoordig beteken word, waarna reëlings getref sal word om die strukture te verwyder en die grondgrypers die omgewing te ontsê,” het Marnus Kamfer, regs-en-risikobestuurder by AfriForum, gesê.

“Die arrogansie waarmee die grondgrypers hierdie misdade pleeg, is vreesaanjaend. Die hofbevel sal so gou moontlik uitgevoer en afgedwing word. Die gemeenskap het alle vertroue in die polisie verloor wat eenvoudig toekyk hoe misdaad onder hul neus gepleeg word,” het Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid, gesê.

Volgens Cameron het onluste en voorvalle van grondgrype met die inwerkingstelling van vlak 3-regulasies weer begin kop uitsteek.

Kamfer het gesê dit is baie belangrik dat grondeienaars weet wat hul regte is en gebeurlikheidsplanne in werking stel om enige poging tot grondgrype in die kiem te smoor. Dit is ook belangrik om die voorvalle dadelik aan te meld.

Die VF Plus het op sy beurt die Gautengse LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake, Lebogang Maile, gevra om dringend by die onwettige grondbesettings in die Emfuleni-munisipaliteit in te gryp.

Kobus Hoffman, ʼn VF Plus-lid van die Gautengse provinsiale wetgewer, het gesê sowat 400 onwettige strukture is op munisipale grond opgerig waar plakkers in haglike omstandighede sonder enige munisipale dienste woon.

Die VF Plus het ook sy kommer oor die besettings in De Deur uitgespreek.

“Die VF Plus is van mening dat owerhede en howe meer toeganklik moet wees vir grondeienaars om onwettige grondbesetters van hul eiendom te verwyder aangesien baie eienaars nie die nodige fondse het om duur regskoste aan te gaan nie,” het Hoffman gesê.

Intussen het die DA in Rustenburg in Noordwes gevra dat die munisipaliteit sy reaksie-eenheid teen grondgrypers herinstel ná verskeie voorvalle van onwettige grondbesettings in die gebied.

“Ons gaan ook in die raad vra dat geskikte, ongebruikte grond afgemerk en van water, sanitasie en elektrisiteit voorsien word en dat die erwe wettig aan begunstigdes oorgedra word,” het Luan Snyders, ʼn DA-raadslid by die munisipaliteit, gesê.

Snyders het gesê onwettige grondbesettings in die Rustenburg-omgewing is sedert 2016 ʼn alledaagse verskynsel. Besettings is onder meer in Zinniaville, Karlienpark, uitbreidings van Sunrise Park, Dinie Estates en Boitekong aangemeld. “Dit hou ʼn groot gevaar vir dienslewering, munisipale infrastruktuur en behuisingsgeleenthede in, omdat die behoorlike beplanning- en ontwikkelingsproses ontspoor.”

Die DA vra dat staatsgrond geïdentifiseer en aan verdienstelike aansoekers vir behuising toegeken word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Adam ·

Tragiese toedrag van sake en Ramaphosa se gebrek aan beslissende leiding tesame met die feit dat die Covid- pandemie op opportunistiese manier misbruik word om duistere agendas te bevorder wek groot kommer. Daar is waarskynlik heelwat landsburgers wat nie meer veel van ‘n verskil kan sien tussen
‘n Zumsa regering en die van die onlangse “messias” Ramaphosa nie.

Ansie ·

En dan wys mense ‘n beskuldigende vinger na Kaapstad Metro as hulle pro-aktief optree en halfgeboude en leë plakkershutte op hulle eiendom afbreek. Dis ‘n nagmerrie om plakkers van grond af te kry as hulle dit reeds beset het en dit bewoon.

Herman ·

Dis net so n storie om mense uit te kry wat jou woonstel huur, wat nie betaal nie. 3 maande en niks nie.

netekalleen ·

En binnekort gaan dieselfde onwettige besetters goed begin afbrand omdat daar geen munisipale dienste is nie

Nick ·

Ek wonder nogal wie bekommerd is ? Kannie die arme wittetjies wees nie want hulle worry oor niemand behalwe hulself nie!!!! Waar is die groepies BWB,Suidlanders ens??????/ Sit seker in loopgrawe en wag vir nog 30 jaar voordat daar dalk iets gebeur???? Hoekom blameer almal die anc en ramaphosa ??? Dis reg sit op ons hande en tjank op facebook!!!ramaphosa is met klein letters geskryf want ek erken hom nie as my president nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.