Kommer oor huidige kannabis-konsepwetsontwerp

(Argieffoto: Richard Vogel/AP)

Suid-Afrika se huidige konsepwetsontwerp rakende kannabis weerspieël nie die gees van die 2018-uitspraak deur die Konstitusionele Hof wat die bestaande wetgewing wat die gebruik, besit en verbouing van kannabis vir private gebruik kriminaliseer, ongrondwetlik verklaar het nie.

Só meen die drukgroep South African Drug Policy Initiative (SADPI).

SADPI het Maandag gesê hoewel welvarende gemeenskappe voordeel sal trek uit die wetsontwerp op kannabis vir private doeleindes, sluit die vereistes daaraan verbonde miljoene mense uit wat nie die ruimte het om kannabis onder streng voorwaardes in privaatheid te verbou en te gebruik nie.

“Dit diskrimineer teenoor behoeftiges deur ʼn de facto-verbod op die gebruik en verbouing van kannabis op te lê en beteken kwesbares loop die gevaar van buitensporige strawwe en voortgesette menseregteskendings deur die strafregstelsel.”

Die drukgroep sê verder die huidige konsepwetsontwerp oor kannabis het min vooruitsig om georganiseerde misdaad en korrupsie te verminder.

“Daarom is dit voor die handliggend dat ʼn sinvolle, nie-diskriminerende benadering, eerder as een wat op kriminalisering en straf gerig is, nodig is om die gebruik en handel in kannabisprodukte te beheer.”

Die parlement se portefeuljekomitee oor justisie en korrektiewe dienste het verlede week die sperdatum vir skriftelike voorleggings oor die wetsontwerp tot 30 November verleng.

Die wetsontwerp laat volwassenes toe om kannabisplantkweekmateriaal te besit, ʼn voorgeskrewe aantal kannabisplante te verbou, ʼn voorgeskrewe hoeveelheid kannabis te besit en om die produk te rook en te gebruik.

Dit poog ook om volwassenes en kinders teen die skade van kannabis te beskerm en maak voorsiening vir die verwydering van die misdaadrekords van diegene wat skuldig bevind is aan die besit of gebruik van kannabis.

Volgens SADPI behoort die reguleringsraamwerk vir die gebruik, produksie en handel in dagga gegrond te wees op die wetgewing en verordeninge wat veel meer skadelike dwelms en alkohol beheer.

“Die wette oor kannabis moet voortbou en verbeter op die wat reeds bestaan ​​om die drankbedryf te reguleer. Dit sluit in beperkte private produksie, sowel as vereistes en standaarde wat kommersiële produksie, bemarking, verpakking en verkoop reguleer.”

SADPI sê die maande lange verbod op alkohol en drank – wat sedertdien opgehef is – het die onvermydelike en skadelike gevolge wat selfs net ʼn tydelike verbod kan aanrig, duidelik gemaak.

“Die parlement het nou die geleentheid om ʼn wetsontwerp op te stel wat nie net sinvol, regverdig en nie-diskriminerend is nie, maar een wat die handel in kannabis uit die onbelaste, informele sektor sal verwyder en dit in staat stel om ʼn beduidende bydrae te lewer tot die opheffing van landelike gemeenskappe, die Suid-Afrikaanse ekonomie en die nasionale fiskus,” meen SADPI.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Sarel ·

Eerstens word hulle toegelaat om “Dagga” aan te plant.
Tweedens word ” Dagga”gedekriminaliseer maar Tabak worc gekriminaliseer.
Tabak verbruikers word al meer aan bande gelê maar rook van Dagga word azngemoedig
My kop is plat verstaan nie

Anel ·

So, as jy nou in byvoorbeeld motorongeluk is en jy is dom gerook, wat gaan nou gebeur.

Nico ·

Alkohol, sigarette en dwelms is skadelik vir die mens. Kyk na die jong mense wat lyk soos zombies maar die regering laat dit toe en hulle weet nie hoe die probleme op te los nie. Stop dit, myself rook en gebruik nie alkohol nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.