Kommer oor inbrake by geregsinstansies

Die kantore van die direkteur van openbare vervolging vir Gauteng-Noord in Pretoria. Foto: Google Streetview

Die parlementêre portefeuljekomitee oor polisie het Maandag gesê onlangse inbrake by sleutelinstansies binne die geregtigheid-, misdaadvoorkoming- en sekuriteitsektor dui op tekortkominge binne die instansies se veiligheidsmaatreëls.

“Dit is van noodsaaklike belang dat die nodige veiligheidsmaatreëls in plek moet wees by hierdie instansies. Dit is nie onderhandelbaar nie,” het Francois Beukman, voorsitter van die komitee, gesê na aanleiding van die inbraak Sondagaand by die kantoor van die direkteur van openbare vervolging (DOV) in Gauteng-Noord in Pretoria.

“Ek dink die onlangse inbrake dui daarop dat daar inderdaad sekere tekortkominge in die toepassing van veiligheidsmaatreëls is. Die nodige stappe moet deur die betrokke beamptes gedoen word om die veiligheid op te skerp sodat die publiek sekerheid kan hê dat vertroulike inligting veilig gestoor word.”

Maroela Media het vroeër berig twee rekenaars is tydens die inbraak by die DOV se kantoor gesteel. Die voorval kom net ʼn week nadat daar by die Valke se kantoor in Pretoria ingebreek en sewe rekenaars gesteel is. In Maart is daar ook by die kantoor van die hoofregter ingebreek. Daar is tydens hierdie inbraak ook rekenaars gesteel waarop inligting oor die indiensneming van regters en ander werknemers gestoor was.

Beukman het gesê die waarnemende hoof van die Valke, lt.genl. Yolisa Matakata, sal op 4 Augustus voor die komitee geroep word om verslag te doen oor die inbraak. “Met betrekking tot die Valke is dit ʼn reusekommer vir die portefeuljekomitee omdat die Valke ernstige en georganiseerde misdaad moet ondersoek. Daar moet buitegewone maatreëls in plek wees om seker te maak dat daar nie inbrake plaasvind of inligting op onwettige wyse bekom word nie,” het hy gesê.

“Ons wil ook die gerusstelling hê dat daar landswyd pogings is om die Valke se kantore behoorlik te beveilig sodat daar nie ʼn herhaling is van wat verlede week gebeur het nie.”

Beukman het gesê hoewel hy nie op die bedryfskwessies van die polisie kan kommentaar lewer nie, dui die aard van die inbrake op ernstige veiligheidsoortredings. “Dit is kommerwekkend dat daar ʼn patroon te bespeur is en daarom is dit noodsaaklik dat die polisie ʼn deurbraak sal maak om die skuldiges vas te trek.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Johann Marx ·

Hoekom vra almal nou vir ‘n “spoedige deurbraak om die skuldiges vas te trek”? Wat van “voorkom dat dit gebeur”? Die “waarnemende wat ookal moet nie kom “getuig” oor die inbrake nie….hy moet sy “waarnemende pos” ontruim, aangekla word vir nalatigheid, en ‘n permanente aanstelling gedoen word…Hierdie landjie laat my al hoe meer my nuwe woord gebruik: Patetisme…

donker duiwel ·

Suid Afrikaanse geregsinstansies….bestaan daar daar nog so iets ?

Leendert ·

Ja, dan is daar die “inbrake” by die NVG, wat ook kommer wek. Eintlik gevat, steel, geen wonder Fikile Mbalula, glo dis mense binne die NVG wat korrup is nie. Dus neem die inbrake by die persone soos in die berig en lees dit saam met die ‘steel’ by die NVG, ook ‘n tyd gelede by Mogoeng se kantore waar daar ingebreek is, dan sien mens nog ‘n aanslag op die veiligheidsdienste en die reg van die land.

En kyk dan wat het die Openbare Beskermer in die afgelope weke aangevang, haar naam moet verander word, na Onbekwame Beskermer.

Toe val Baleka Mbete ook gister die regters aan en beskuldig hulle daarvan dat hulle teen die ANC regering saamspan. Iets neem in felheid toe.

Cherokee ·

Die vraag is steeds onbeantwoord of inligting wat gesteel is onheroepelik verlore is. Samehangend is die vraag of rekenaars gesteel word om bewyse te vernietig of is dit om inligting te verkry. Meer waarskynlik is laasgenoemde die geval want eersgenoemde behoort uitgeskakel te wees deur rugsteun wat elders (in ‘n ander gebou) geberg behoort te wees.

Aag Sies Tog ·

Dit is omdat elkeen info op sy eie rekenaar stoor en nie op n sentrale stelsel nie. Hierdie storie word van binne af gereel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.