Kommer oor infrastruktuur by peperduur skool vir gestremdes

Die komitee is bekommerd oor infrastruktuurprobleme by die skool vir leerders met spesiale behoeftes. (Foto: GPL)

Die Nokuthula Special School in Lyndhurst in Johannesburg, wat teen ʼn koste van nagenoeg R300 miljoen opgerig is, het oënskynlik reeds probleme weens moontlike swak bouwerk.

Die skool vir leerders met spesiale behoeftes het in Oktober 2017 sy deure geopen.

Toe dit destyds aan die gemeenskap oorhandig is, was daar egter geen okkupasiesertifikaat nie. Die sertifikaat is ʼn belangrike dokument wat toestemming gee dat alle verrigtinge by die skool kan begin, maar daar was glo probleme wat met stadsbeplanningskwessies verband gehou het, het Mpho Modise, voorsitter van die Gautengse wetgewer se komitee oor infrastruktuurontwikkeling, gesê.

Elf maande later het die skool ʼn tydelike okkupasiesertifikaat gekry. Dit het minstens beteken dat akademiese verrigtinge aan die gang kon kom. Die koshuise bly egter gesluit omdat ʼn permanente okkupasiesertifikaat nodig is om huisvesting te verskaf.

“Die komitee beskou dit as ʼn groot ongerief vir ouers en leerders met spesiale behoeftes wat nou heen en weer vervoer moet word, eerder as om in die koshuis tuis te gaan,” het Modise gesê.

Dit is algemeen bekend dat Gauteng ʼn groot tekort aan skole, en veral skole vir leerders met spesiale behoeftes, het.

Na sy oorsigbesoek aan die skool is die komitee ook bekommerd oor infrastruktuurgebreke wat moontlik deur “swak vakmanskap” veroorsaak is.

“Dit sluit in lekplekke op die dak, die ineenstorting van gedeeltes van die saal, geisers wat bars, verkeerde meubels wat vir stimulasieklasse afgelaai is, asook ongelyke teëls en gekraakte mure,” het Modise gesê.

Die skool se bestuur voer boonop aan onderwysers is nie behoorlik touwys gemaak oor hoe om al die fasiliteite behoorlik tot voordeel van leerders te benut nie. Slimborde word byvoorbeeld nie gebruik nie omdat onderwysers nie skootrekenaars daarvoor het nie.

(Foto: GPL)

Die Olimpiese grootte swembad is nie verhit nie en kan tans nie gebruik word nie. Die skool probeer nou ʼn vennootskap met die private sektor aangaan om dit gedoen te kry.

“Die komitee beskou die kwessies in ʼn baie ernstige lig omdat dit ʼn negatiewe uitwerking kan hê op die skool se vermoë om gehalte onderrig aan leerders te verskaf.

“Die komitee glo die infrastruktuur wat die provinsiale regering verskaf, moet sentrums van uitnemendheid word. Dit kan nie ʼn paar maande of jare later infrastruktuurgebreke ondervind terwyl dit ten bate van die gemeenskap gebruik moet word nie.”

ʼn Vergadering sal met die departement van onderwys en die departement van infrastruktuurontwikkeling in die provinsie belê word sodat oplossings vir die probleme gevind kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Frank ·

Ek kan net nie verstaan hoe ‘n onverhitte swembad ‘n “negatiewe uitwerking kan hê op die skool se vermoë om gehalte onderrig aan leerders te verskaf” nie. In my dae was GEEN swembad verhit nie. Jy moes maar vasbyt en swem. As jy ‘n warm swembad wou hê moes jy Warmbad toe gaan vir die naweek

Vonnie ·

die skool is vir spesiale behoeftes. duidelik verstaan jy nie dat nie almal in ‘n gewone swembad kan swem / oefeninge doen nie.

Benn ·

Dit is verstaanbaar want ek sou aanneem dat dit vir fisiese gestremde persone is. Lae of geen impak oefening is belangrik vir so ‘n persoon om nie te stagneer nie en koue water is nie noodwendig goed nie.

Jacobus ·

Lesufi, hou op politiek uit niks maak en maak reg wat gebreek is.

Nie Verbaas ·

Lesufi sal net nog lee beloftes en lam verskonings maak. Hy investigate sy hele lewe om.

Benn ·

Skande!!! Dit is al wat ek kan se! Suid-Afrika sien nie om na sy weerloses nie. Ieman moet tog seker verantwoording doen hiervoor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.