Kommer oor invloed van aandklokreël op lugvaartbedryf  

(Argieffoto: Unsplash)

Die regering word versoek om die aandklokreël te heroorweeg in die lig van die invloed wat dit op die lugvaartbedryf en gevolglik op ander sektore sal hê.

“Die implementering van die nuwe aandklokreël tas die lugvaartbedryf se besoekersekonomie ernstig aan,” sê James Vos, Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir ekonomiese geleenthede en batebestuur.

Daar is die afgelope week berig dat tientalle vlugte gekanselleer is weens die wysiging aan die aandklokreël. In gebiede wat nie tot brandpunte verklaar is nie, geld ʼn aandklokreël van 23:00 tot 04:00. In brandpuntgebiede, naamlik die Nelson Mandelabaai-metro, die Tuinroete en die Sarah Baartman-distrik, geld ʼn aandklokreël van 22:00 tot 04:00.

“Baie lugrederye het laat vlugte en sal die nuwe Covid-19-regulasies oortree as die aandklokreël nie heroorweeg word nie. Dit sal baie werkgeleenthede kos en duisende mense se reisplanne beïnvloed in ʼn tyd waarin ons ekonomie nie weer ʼn terugslag kan bekostig nie.”

Vos sê daar is groot hoeveelhede kansellasies by plaaslike lugrederye wat negatiewe gevolge vir die hele waardeketting in die lugvaartbedryf inhou.

“In Kaapstad is die lugvaartekonomie ʼn belangrike dryfveer vir ekonomiese groei. Tans is daar gemiddeld 110 vlugte per dag by die Kaapstadse Internasionale-lughawe, terwyl daar aan Covid-19-protokolle voldoen word.”

Daar moet vinnig met oplossings vorendag gekom word, meen Vos, ten einde te voorkom dat groot hoeveelhede lugrederye hul vlugte kanselleer met die reis- en toerismebedryf wat die swaarste getref sal word.

“Ek is baie bekommerd oor die impak wat dit sal hê op die talle sektore wat toerisme ondersteun, soos akkommodasie, vervoer, restaurante, besienswaardighede ensovoorts. Ons vertrou dat die nasionale Covid-19-bevelsraad gehoor sal gee aan ons pleidooi.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.