Kommer oor kleuter se wonde ná hond-aanval

Martin en Mariëtte Oberholzer (Foto: Verskaf)

Martin Oberholzer (5) van Pretoria se wonde word nou septies nadat hy en sy ma, Mariëtte, verlede naweek tuis deur een van hul honde aangeval is.

Shaney Griesel, ʼn familielid van die ma en seun, het Maandagoggend aan Maroela Media gesê Martin en Mariëtte (31) is eindelik ontslaan nadat hul wonde aanvanklik in die Kalafong-hospitaal in die stad behandel is. Albei het egter nog baie seer.

“Mariëtte kan glad nie slaap met Martin nie. Hy is moeilik en huil baie.”

Volgens Griesel is Mariëtte se wonde onlangs in die hospitaalteater skoongemaak en met steke geheg. Haar voet is intussen in gips geplaas en die wonde aan haar hand is met verbande toegebind. Sy loop nou met behulp van krukke en moet gereeld saam met haar seuntjie vir doktersafsprake gaan om hul wonde te laat behandel.

“Martin is ook nou verskriklik bang vir enige groot hond.”

Volgens Griesel is die hond wat ma en seun gebyt het, intussen terug na die telers wat aanvanklik die hond aan die Oberholzers verkoop het.

Maroela Media het vroeër berig die gesin se reun het Martin verlede Sondag by hul huis in Elarduspark bestorm en onophoudelik gebyt. Mariëtte het verbete geveg om die hond van haar kind af te trek en is in die proses ook gebyt.

Martin is gedurende die voorval baie erg oor sy hele lyf gebyt en is kort ná die voorval in die ambulans onder verdowing geplaas. Sy wonde is gereeld onder verdowing in die hospitaal skoongemaak.

Mariëtte het gedurende die voorval haar voet voor die hond en haar hand in die hond se bek gedruk om te keer dat hy Martin aan die nek gryp. Sy het ’n groot sny aan haar voet in die voorval opgedoen.

Volgens Griesel doen die familie nou ’n beroep op mense om skenkings te maak en die Oberholzers sodoende met mediese en ander uitgawes by te staan. Dit sluit in die betaal van ’n verpleegster, asook die aankoop van verbande, ontsmettingsmiddels en ’n loopraam vir Mariëtte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Wonder net ·

Terug na die teler toe…. daai hond kan nie gerehabiliteer word nie, as hy eenkeer sonder ophou gebyt het, gaan hy dit weer doen! Hoop mamma en boetie word vinnig gesond.

Annelize ·

Ek is ‘n groot hondeliefhebber, maar hier stem ek ongelukkig saam. As ‘n hond dit doen wat hierdie een gedoen het, is die kans groot dat hy dit weer gaan doen.

Sylvia ·

Dit is so hartseer, ek begin al hoe meer ondervind dat mense baie lief is om groot honde aan te skaf vir “beskerming” en dan is hierdie honde onsosiaal, dis ‘n gesukkel om by dié mense te kuier, want die hond moet eers onder beheer gebring word, en dan moet jy toelaat dat jy “uitgeruik” word sodat die dier jou reuk gewoond kan raak, maar wees net versigtig moet nie skielik hard lag of vinnig opstaan nie, dan ly die honde aan amnesia en wil net storm en dan begin die hele proses weer van vooraf, dit is regtig nie plesierig nie, en elke keer as jy by die mense gaan kuier is dit weer dieselfde storie. Met die hoeveelheid honde wat vergiftig en vergas word, weet ek regtig nie of ‘n groot agressiewe hond jou regtig gaan beskerm nie, veral omdat dié sulkes in groepe aanval / inbreek …

Anel ·

Dit is juis dat die hond jou nie moet gewoond raak nie. Nou raak hy gewoond aan byvoorbeeld die tuinier. Hy kom breek in want die hond ken hom. Wat is dan die doel van die hind? Jammer vir jou maar dan is jy ook nie welkom nie. My honde is daar vir my beskerming. Hulle sal ons met hul lewens beskerm. Kinders moet ook geleer word van diere. Jy hou nie net groot hond aan en verwag hy gaan niks doen as hy seerkry nie. As dit groot hond was, is ek ook seker dat hy en die seuntjie se oë op selfde hoogte was. Die hond het gedomineer. Maar nou ja, opvoeding. Jammer dat julle so seer gekry het en baie sterkte.

ZellaQ ·

Ons het een groot hond en 3 klein hondjies, waneer enige tuinier of werker by ons kom werk, hou ons die honde in die huis en vat hul uit elke uur vinnig. hul is gewoond aan die mense wat op die jaard bly maar nie aan enige iemand anders nie reeds vir die doel dat hul ons moet waarsku of beskerm indien daar iemand anders is. dit help want glo my niemand kan naby die heining kom nie. daar kom kuier nie te veel mense nie en die wat wel kom kuier is die honde al gewoond.

Hans ·

Ek het al vir meer as 40 jaar Rottweilers. As jy so groot hond wil aanhou, MOET jy hom vat vir opleiding en sosiaal te wees. As jy dit nie doen nie, gaan jy net probleme he. Inteling is net so groot probleem, asook sekere honde rasse. N goeie rashond gaan jou baie geld uit die sak jaag, amper net soveel as mediese kostes vir wondbehandeling

Oujongvrou ·

Ons het 2 tewe wat mekaar so aanval. Dan kan mens nie tussenbeide tree nie. Die probleem kom as mense met honde verby ons erf loop. Of as daar iemand voor die hek kom staan. Uit frustasie begin byt hulle mekaar. Ons ry nooit ooit weg by die huis met altwee buite nie. Een word in huis toegemaak. Sit halsbande aan groot honde. Veral n bull terrier soos ons het. Al hoe ons hulle kan beheer is om hulle aan halsband te trek tot hulle lugweg afgesny word dan los hulle.

Agge nee ·

Vergeet van die treurige Kalafong Hospitaal. Koop vir jou ‘n groot pak wassoda (jy kry dit by die seeppoeiers by die supermark) NIE SEEPSODA NIE, en ‘n groot pak Engelse sout. Tap ‘n warm bad water en gooi een koppie van elk in bad. Lê met wonde in water tot koud. Die wonde lyk nou spierwit, maar genees sonder om septies te word. Ek weet dit klink soos ‘n ouvrou outydse boereraadstorie, maar glo my dit werk. Haal al die ontsteking uit die wonde.

Kerneels ·

Ek kan saam met die Engelse sout stem, maar is skrikkerig om wassoda op wonde te gebruik. Sal dit nie chemies brand nie?

Piet ·

Hoe vol moet jy die bad tap. Ek neem aan jy moet eers jou verbande afhaal voor jy in die bad klim. Moet jy weer skoon verbande opsit na die bad of net so sonder verbande los?

Jakes ·

Tragiese storie. Honde wat hul eienaars byt moet uitgesit word.

Almarie ·

Ek hoop en bid dat albei van julle gou gesond sal word. Miskien kan julle ook kyk na die volgende room, Miracle Comfrey, dit is baie goed. My pa het ‘n seerplek gehad en ek het dit gebruik en gou was sy wond gesond.

Mariaan ·

Ek voel so jammer vir die mense…hoop hul kry beter mediese sorg….5jaar nog so klein om soveel pyn te verduur..PASOP om sulke kwaai honde aan te hou..hier is al soveel gevalle..asb mense..hou kinders weg van sulke honde….dis die pyn en trane nie werd nie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.