Kommer oor landbou as politieke speelbal in aanloop tot die plaaslike verkiesing in 2016

Argieffoto: Reint Dykema

Argieffoto: Reint Dykema

Kommer is gister tydens die Nasie in Gesprek-besprekingsforum uitgespreek dat landbou moontlik gebruik kan word as middel om stemme tydens die volgende verkiesing te wen, eerder as om ’n inklusiewe benadering tot grondhervorming daar te stel wat die ekonomiese lewensvatbaarheid van hierdie belangrike sektor sal verseker.

Die Nasie in Gesprekdialoog wat gister (13 Mei 2015) by die Nampo Oesdag plaasgevind het, het gewentel rondom die uitlatings oor grondhervorming wat die minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, Gugile Nkwinti, verlede week tydens sy begrotingsrede in die parlement geopper het.

Die meerderheid van die standpunte wat tydens die Nasie in Gespreksessies uitgelig is, het dit eens: “Dit blyk dat die minister ʼn simplistiese, ideologiese benadering tot grondhervorming volg met sy voorstelle vir die herverdeling van grond, grondplafonne en ʼn verdeling van grondeienaarskap op ʼn 50/50-grondslag.”

“Hierdie voorstelle het uit die bloute gekom,” sê Schalk Pienaar van Agbiz. “Ons aanvaar dat hervorming noodsaaklik is. In hierdie verband het georganiseerde landbou, in samewerking met verskeie ander sakesektore, ʼn hervormingsplan aan die minister voorgelê wat op politiese én praktiese vlak sin maak. Ons het egter nog geen terugvoer ontvang nie.”

Die landbousektor bevind hom tans in ʼn onseker gebied. Verskillende regeringsdepartemente en politieke besluitnemers stuur wisselende boodskappe aan die sektor. Volgens Chris Venter, uitvoerende hoof van Afgri, moet “die vertrouensverhouding tussen boere en die regering aangespreek word”.

“Die Nasionale Ontwikkelingsplan plaas landbou in ʼn sentrale rol, maar dit lyk nie of beleid by hierdie nasionale visie aansluit nie,” het Mondli Makhanya, assistentredakteur van City Press, gesê.

“Daar word aanvaar dat landbou ‘ont-ras’ en hervorm moet word. Hervorming behoort egter nie tot nadeel van die voortgesette lewensvatbaarheid en volhoubaarheid van die sektor te gebeur nie. Hervorming moenie net gaan oor regstelling nie, maar ook oor vooruitgang. Ons kan dit nie bekostig om nie voedselsekerheid en groei  te verseker nie,” het Makhanya gesê.

Roelf Meyer, voorsitter van In Transformation Initiative (ʼn hervormingsinisiatief), het die standpunte beaam. “Grondhervorming soos dit tans toegepas word, werk nie. Daar blyk ʼn grondliggende probleem met die beleid te wees. Nuwe benaderings moet deur oop gesprekvoering gevind word.”

Die landbousektor en die regering benodig ʼn gesamentlike en inklusiewe benadering tot die fasilitering van grondhervorming. “Ons moet die skakel tussen die politiese én die ekonomiese werklikheid van die regering en die land as geheel daarstel,” het Meyer gesê.

“Dit is uiters belangrik om weg te beweeg van ʼn ideologiese debat en ʼn wedersydse vertrouensverhouding te skep ten einde geïntegreerde oplossings te vind waarby kommersiële boerderypraktyke én opkomende boere kan baat. Boere behoort die kern van hierdie debat te vorm. Daar is verskeie opsies wat oorweeg kan word en ʼn aantal suksesstories waarop voortgebou kan word om volhoubare hervorming te bereik.”

“Dit is van kritieke belang dat die breër gemeenskap en die media betrokke raak by die gesprek. Uiteindelik gaan dit oor die kos wat na mense se maag gaan,” het Makhanya gesê.

“Gesonde verstand moet seëvier,” het Japie Grobler, voorsitter van Agri-Sektor se eenheidsforum, afgesluit.

Die Nasie in Gesprekdebatte word daagliks van 12 tot 15 Mei vanjaar aangebied by Graan SA se jaarlikse Nampo Oesdag by Nampo Park in Bothaville in die Vrystaat. Onderwerpe sluit in: arbeidsverhoudinge, grondhervorming (13/5/2015), die beskikbaarheid en volhoubaarheid van natuurlike hulpbronne (14/5/2015) en tegnologiese integrasie in landbou (15/5/2015).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Gielie - Namibië ·

Roelf Meyer, ek wil net vir jou sê dat hierdie hoogs kommerwekkende kwessie maar nog net een van die gevolge is van die uitverkoop van die land aan die ANC waarvoor jy en FW de Klerk en julle kaders verantwoordelik was en steeds is. Sedert ’94 het die ANC feitlik alles deurgetrek en landbou is die volgende; 2de Zim. Die ergste van alles is dat die horlosie nie teruggedraai kan word nie.

chris ·

Gielie.
Die “man”sal nie verstaan nie .Jy praat dan reguit en die waarheid.Jy moet dit meer “diplomaties” stel.Se dit is die ANC .Jy weet die een wat nie dieselfde is as die een met wie hulle so mooi gepraat het nie.Jy weet die een wat so versoenend,eerlik en opreg is,die een wat verkeerdelik op bv die FBI se lys van terroriste org was tot ver in die 2000, en ‘n reenboognasie wil bou saam met die tannie wat hulle so goed weggesteek het.AMANDLA.Of onse Madiba sou dit nooit toegelaat het nie.Of nog iets dergliks.

Gerhard Bezuidenhout ·

Roelf Meyer ek sal my skaam as ek jy is maar dit wil voorkom asof jou dikvelligheis geen perke het nie Jy,Pik en Frik de Klerk het ons blankes uitverkoop en steeds spoel jy jou mond uit. Julle is die oorsaak dat ons grond in gedrang is omdat julle te slap was om vir die blankes op te staan. Waar is julle wigte en teenwigte.

scalla ·

Geen skaamte nie,verraaiers, pik en fw ingesluit, julle monde en julle gevolg is nou die grootste

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.