Kommer oor meer plaasaanvalle in Wes-Kaap

(Argieffoto ter illustrasie: Maroela Media)

Agri Wes-Kaap sê hy is bekommerd oor die onlangse toename in plaasaanvalle in die Wes-Kaap.

Dit volg nadat gewelddadige aanvalle die afgelope ruk in verskeie streke in dié provinsie aangemeld is.

Maroela Media het net Maandag berig dat ʼn boer van Rawsonville gewond is toe skote op hom en sy volwasse seun afgevuur is. Hy sterk tans in ʼn hospitaal aan.

Uys van der Westhuijzen, voorsitter van Agri Wes-Kaap se landelike veiligheidsbeleidskomitee, sê dit is belangrik dat mense paraat is en verantwoordelikheid vir hul eie veiligheid neem.

“Veiligheid begin by jouself – wees bewus van jou omgewing en wees paraat.”

Hy stel ook voor dat mense in landelike gebiede veral weens beurtkrag hul alarmstelsels aan ’n onafhanklike en betroubare kragbron koppel.

Uys meen dit sal ook verhoed dat veiligheidsmaatskappye met ’n magdom valse alarms oorweldig word, aangesien alarmstelsels ’n noodsein uitstuur wanneer dit weens ʼn tekort aan kragtoevoer afloop.

Verder, sê Uys, is daar onder meer alledaagse veiligheidsmaatreëls wat toegepas kan word.

“Dra ʼn paniekknoppie by jou, of iets dergeliks wat ʼn noodsein kan uitstuur sodra jy moeilikheid gewaar.

“Hou ʼn kamer of veilige plek in jou huis gereed waar jy vir jouself kan tyd koop.”

Uys sê dit is ook belangrik om bewus te wees van jou omgewing en wat by jou huis aangaan – nog voor jy uit jou motor klim.

Jannie Strydom, hoof‑ uitvoerende beampte van Agri Wes-Kaap, sê plaasaanvalle het ʼn aansienlike negatiewe uitwerking op die provinsie se ekonomie, sowel as landelike ekonomieë.

“Agri Wes-Kaap doen ʼn beroep op alle relevante rolspelers om betrokke te raak om landelike veiligheid ʼn prioriteit te maak.

“Ons vra dat landbouprodusente enige verdagte gedrag dadelik by hul plaaslike polisiestasie sal aanmeld. Produsente is ook welkom om Agri Wes-Kaap vir bykomende ondersteuning te skakel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Nie Verbaas ·

Wonder of “geen aksie” en hoof van onbevoegheid vanself Cele n plan het.

Swerwer ·

Beslis het Hoed hom geheel en al onttrek van sy pligte. Sienende Blind wat om hom aangaan en horende doof.

Blomme ·

So hartseer dat Boere wat veronderstel is om op boerdery en verskaffing van noodsaaklike voedsel te konsentreer, nou eers aan veiligheid en delgelikhede moet aandag gee. Vrot regering wat geen beskerming bied vir sy ‘essential workers’!

VaalDonkie ·

As iets “af” klink aan jou honde se blaf, dan moet jy dit hanteer soos ‘n aanval (of ten minste dat daar iemand is wie nie daar moet wees nie). sluit jou deure en laat hulle na jou toe kom waar jy met die lang gewere vir hulle wag. Daar is geen rede om uit te gaan in die nag om te gaan kyk hoekom jou honde so anders blaf nie. Dit behoort na 30 jaar (ons is in 1992 aangeval so dis al minstens 30 jaar aan die gang) al duidelik te wees wat aan’t gebeur is.

Misky ·

Ek stem saam met jou VaalDonkie. So paar weke gelede het ons klein hondjies in die huis (woon in meenthuis) baie anders geblaf en die enetjie se hare skoon gerys. Dadelik ligte afgesit en probeer deur vensters kyk wat aangaan buite. Niks gesien nie en was maar steeds op ons hoede. Volgende dag gaan bure deur hul CCTV kameras en sien toe sowaar was die makker in ons kompleks en krap rond. Mens moet regtig bedag wees op verandering in die diere en hulle voel dit aan en waarsku vir ‘n rede

Samuel ·

Om polisie toe te gaan is in baie gevalle nodeloos. Kriminele weet die kanse dat hulle gaan wegkom baie goed is. Skrik nie vir wetstoepassers nie.

Misky ·

Ek sal geld daarop sit en sê dat 80% van hierdie aanvalle in die Wes-Kaap gedoen word deur ouens wat “ingevoer” word vanaf die Oos-Kaap.

Andries ·

Helaas word sake deesdae alleenlik vir versekeringsdoeleindes aangemeld – ongelukkig is die SAP ‘n nasionale saak en op die nasionale vlak van nutteloos.

Pietertjie ·

Plaasaanvalle sal aanhou solank die oortreders daarmee wegkom. Dit help nie om na die onbevoegde regering te kyk vir hulp of oplossings nie: dit mors net tyd en lewens.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.