Kommer oor min in SA inenting wil hê

(Argieffoto: Ted S. Warren/AP)

Met duisende nuwe Covid-19-infeksies en honderde Covid-verwante sterftes blyk ’n groot bekommernis te wees dat min Suid-Afrikaners die inenting wil ontvang.

Suid-Afrika, met ’n bevolking van sowat 60 miljoen, het die hoogste getal koronavirusinfeksies van enige land op die kontinent.

Plaaslike owerhede loop ook onder hewige kritiek deur oor hul entstofstrategie.

AFP berig die Suid-Afrikaanse regering het in Februarie, op ’n kritieke punt in die pandemie, een en ’n half miljoen dosisse van die AstraZeneca-entstof weggewys weens twyfel dat dit nie beskerming teen die toe dominante plaaslike variant van die virus sou bied nie.

Sedertdien het die regering miljoene entstofeenhede bekom en selfs die eerste Afrika-land geword wat die Johnson & Johnson‑ en die Pfizer-entstof produseer.

Die regering het ten doel om 70% van die volwasse bevolking teen die einde van die jaar in te ent.

Tog het dié veldtog ’n tekort aan arms om in te ent en is die regering ver agter met hul 70%-teiken.

Verskeie inentingsentrums staan leeg, terwyl talle inenters hulle na sosiale media wend in ’n poging om burgers te oorreed om die inenting te kry.

Redes vir die weiering van die inenting wissel van persoon tot persoon.

Luidens ’n studie deur die Navorsingsraad vir Menslike Wetenskappe in Johannesburg is die grootste bekommernisse onder mense die newe-effekte, doeltreffendheid van die entstof en wantroue in die entstof of owerhede.

AFP het met ’n taxibestuurder in Johannesburg gepraat wat uit vrees nie die inenting wil ontvang nie.

Hy sê ’n kennis van hom is dood kort nadat sy die entstof ontvang het.

Lori Bentley (59), ’n inwoner van Johannesburg, sê sy is een van min mense in haar familie wat in die doeltreffendheid van die inenting glo.

“Die meeste dink dit is heeltemal te vroeg vir wetenskaplikes om ’n inenting te kon ontwikkel.”

Nomafrench Mbombo, LUR vir gesondheid in die Wes-Kaap, het Donderdag gesê dat Suid-Afrika “entstof-apatie of entstof-tamheid” ervaar.

Sedert massa-inentings in Meimaand begin het, is nog net 11% van die bevolking ingeënt.

“Ons sit nie met ’n situasie van ’n tekort aan entstof nie. Ons het nou entstof-aanvraag nodig. Die aanvraag het afgeneem weens ’n verlies aan stukrag in die program,” sê dr. Nicholas Crisp, adjunk-direkteur-generaal van gesondheid.

Hoewel private instellings ook inentingsentrums op die been gebring het, bly die getalle van mense wat vir dié inentings aanmeld, afneem.

Mense van 18 jaar en ouer sal van Vrydag vir inenting kan registreer, wat beteken dat alle volwassenes in Suid-Afrika die opsie sal hê om ingeënt te word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.