Kommer oor misdaad op grens van Lesotho, SA

Vermeende veediewe is in Maart in hegtenis as deel van ‘n oorgrensoperasie deur die polisie van Phuthaditjhaba in die Vrystaat. (Foto: ANA)

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) bestee meer as R88 miljoen per jaar aan die salarisse van 370 soldate wat op die grens van Lesotho en Suid-Afrika ontplooi is.

Tog lyk dit nou of dié soldate se pogings nie ’n duit se verskil aan die misdaadsituasie, waaronder veediefstal en plaasaanvalle, op die grens maak nie.

George Michalakis, DA-LP verantwoordelik vir veiligheid en sekuriteit in die Nasionale Raad van Provinsies, het vandeesweek gesê daar is die afgelope drie jaar 431 inhegtenisnemings op die grens van sowat 900 km gemaak. Nosiviwe Mapisa-Nqakula, minister van verdediging en militêre verdediging, het dit in antwoord op ’n parlementêre vraag deur die DA onthul.

Volgens Michalakis stem hierdie statistieke egter nie ooreen met die statistieke van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) rakende die 13 polisiestasies langs die Vrystaatse grens of met die groot aantal veediefstalsake wat boere ervaar nie.

Elf van die 17 brandpunte vir veediefstal langs die grens is in die Vrystaat geleë, wys Michalakis daarop.

Volgens Vrystaat Landbou (VL) het oorgrensmisdaad gevolglik al meer as 500 boere genoop om boerdery te staak. Die misdaad sluit boonop nie net veediefstal in nie, maar ook ernstige geweldsmisdade soos plaasaanvalle.

Vermeende veediewe is in Maart in hegtenis as deel van ‘n oorgrensoperasie deur die polisie van Phuthaditjhaba in die Vrystaat. (Foto: ANA)

“In ʼn kwessie van 12 dae het drie plaasaanvalle voorgekom by Kommissiepoort, Zastron en in die Boesmanskop-area,” het Francois Wilken, president van VL, in Julie vanjaar gesê kort nadat Daleen van der Hoven, vermoedelik in haar 80’s, in haar plaashuis in die omgewing van Zastron oorval, vasgebind en aangerand is voordat sy in haar motor gelaai en na die Lesotho-grens ontvoer is.

Maroela Media het vroeër berig die verdagtes het haar hier gelos. Van der Hoven, wat die omgewing goed ken, het die grens oorgesteek en hulp gaan soek by inwoners.

“Sulke aanvalle dra grootliks daartoe by dat boere hul plase verlaat en ophou boer en die grensbuffer al verder na die binneland skuif,” het Wilken ná die voorval gesê.

“Wat Lesotho betref blyk dit dat politieke onstabiliteit en die feit dat baie Lesotho-burgers nie kan terugkeer werk toe in Suid-Afrika nie, asook die tekort aan basiese voedsel, die groot dryfvere vir oorgrensmisdade is.”

Michalakis sê oorgrensmisdaad het ’n verwoestende uitwerking op gevestigde en opkomende boere, sowel as op die ekonomie van die Oos-Vrystaat.

Soldate op die grens

Om sake te vererger het die DA volgens Michalakis rede om te glo dat ondanks die feit dat soldate van die SANW inhegtenisnemings op die grens maak, baie dossiere nie eens oopgemaak word wanneer dit aan die polisie oorhandig word nie.

Michalakis en Roy Jankielsohn, DA-leier in die Vrystaat, het tydens ʼn onlangse besoek aan die grens bevind dit is heeltemal oop en daar was slegs twee soldate wat langs ʼn kruising ʼn entjie van die grens af gesit het.

Die DA ontvang boonop by geleentheid klagtes oor wanordelike optrede van die soldate wat langs die grens gestasioneer is.

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: ANA)

“Die Suid-Afrikaanse regering se versuim om op te tree teen oorgrensmisdaad het ʼn negatiewe impak op die goeie verhouding tussen wetsgehoorsame burgers van albei lande wat ons nie kan bekostig nie,” sê Michalakis nou.

Leona Kleynhans, DA-LP in die Vrystaat, het intussen die voorsitter van die portefeuljekomitee van polisie versoek vir ʼn volledige inligtingsessie deur die provinsiale polisiekommissaris rakende die oorgrensmisdaad tussen Lesotho en Suid-Afrika.

Die opposisieparty beplan ook om met Naledi Pandor, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, te praat oor die moontlikheid vir ’n bilaterale ooreenkoms tussen Suid-Afrika en Lesotho vir die gebruik van hommeltuie en ander tegnologie vir grenspatrollies.

“Die regering het getoon dat daar hulpbronne beskikbaar is. Hy moet nou sorg dat hierdie hulpbronne nie vermors word nie, maar effektief gebruik word om Suid-Afrikaners en hul eiendom teen oorgrensmisdaad te beskerm.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Termiet ·

Almal is altyd “bekommerd” en “voer gesprekke” met mense wat nie ‘n duit omgee nie. Dit is net so goed jy kom af op ‘n persoon wat besig is om te verdrink, en vir hom se jy is baie bekommerd oor sy situasie maar hy moet nie vrees nie want jy sal met iemand gaan praat oor sy situasie.

Nie Verbaas ·

In die huidige Suid Afrika mom die vraag dadelik op oor hoe effektief ons weermag hulle taak uitvoer.

Hennie J ·

Ek het werklik deernis met die grensboere, maar dink dat Trompie en die boksombende meer sukses sal behaal as die sogenaamde soldate. Daar is nog in die RSA uitstekende privaat sekerheidsinstansies wat die joppie suksesvol kan verrig teen n fraksie van die huidige koste. Bygese, dan moet die KORRUPTES nie inspraak he in tendertoekenning nie. Betaal liewer die boere n’ gelyk aan huidige koste’ toelaag om hul eie sekuriteit op die been te bring en die hare sal waai! So kan ook werk geskep word vir ons wit seuns wat werkloos is weens diskriminasie.

Dup ·

Die minderheid word van alle kante omsingel,aangeval en beroof.Is daar nog oplossings vir hierdie vlaag van geweld en misdadige optredes?

Persheks Adri ·

Onbevoegdheid is die nuwe logo! Cele se syfers gaan in elk geval nie klop nie, want die probleem is dat die klimraam af geval het voor graad 1…

Werner ·

Die DA se grootste bekommernis is die stemme wat hulle verloor het.Hulle gaan niks bereik nie want eintlik Sal hulle stappe moet neem wat indruis teen hulle liberale sienings

Stefan ·

Nou hoe vinnig kan daai poliesman op die foto agter ‘n skelm aan hardloop?
As dit is hoe ons hulle probeer afskrik, lag hulle vir ons!

johanf ·

370 Soldate vir 9km, ek kan nie die som maak nie, ontplooi meer lede, daar was dan so baie tydens Covid…… 70 000, nie waar nie. ??
Laat die SAPD die dorpe beveilig, en die SANW die landsgrense……

shari ·

Is dit weer n geval van weet die weermag wat hulle doen of is hulle maar net daar vir decoration. Vra maar net

Johann ·

Ja wel as ek so na die eerste foto kyk verstaan ek hoekom dit so lekker gaan met die “krimenele”. Dis bou nie asof die twee iemand kan jaaf of vang nie? Tensy hulle hulle.bene en arms intrek en agter hulle aan ROL!!!!!!!

Askuus…hulle is besig met POLISIE WERK….MONNITORRRRRRRE!

Sarel ·

Huerdie misdaad gazn al vir jare aan.
Suid – Afrikaners gebruik ook Lesotho as wegsteek plek.

twaalfboor ·

Goeie genade. As ek so na die eerste foto kyk kan ek nie anders as om te dink dat ek in my joung dae polisie OF weermag generale gesien het wat ń uniform so vol gesit het nie. Ons moes ń sekere postuur wees vir in diensneming en dit sou na as moontlik onderhou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.