Kommer oor moorde op private veiligheidswagte

(Argieffoto)

Die Association of Private Security Owners of South Africa (Tapsosa) sê hy is diep bekommerd oor die vlaag moorde op veiligheidswagte die afgelope ruk.

Net dié week is drie veiligheidsbeamptes in twee afsonderlike voorvalle vermoor. In die jongste voorval is ʼn veiligheidswag wreed vermoor tydens ʼn inbraak by die Mthiyazi Primary School in Mpumalanga.

Maandag is twee wagte doodgeskiet toe hulle Eskom-tegnici wat ʼn fout aan die kragnetwerk in Philippi-Oos gaan herstel het, vergesel het. Altesaam 16 veiligheidsbeamptes is sedert Januarie in die uitvoering van hul pligte vermoor.

Die veiligheidswagte was verbonde aan Vusa Isizwe, wat gekontrakteer is om Eskom se tegnici in gebiede te beskerm wat bekend is vir vuurwapen-verwante geweld. Die twee is doodgeskiet en van hul wapens beroof kort nadat die herstelwerk afgehandel is en hulle in hul voertuie geklim het om te vertrek. Die twee wagte het op die toneel gesterf, terwyl die Eskom-tegnici ongedeerd kon wegkom.

Tapsosa het in ʼn verklaring gesê die “ongebreidelde moordvlaag” dui daarop dat veiligheidswagte ʼn maklike teiken is in ʼn land met hoë misdaadvlakke en een waar misdadigers al hoe meer toegang tot vuurwapens het.

“Die moorde op die veiligheidsbeamptes is uiters onrusbarend. Ons is verlede jaar veiligheidstandaarde vir die bedryf beloof toe ons met die polisie vergader het, maar hulle het tot vandag nie daaroor na ons toe teruggekom nie. Ons sal probeer om die kwessie en ander dringende sake aan die [parlementêre] portefeuljekomitee vir dringende ingryping voor te lê,” het Jones Maphalaphathwa, Tapsosa-president, gesê.

Brig. Vishnu Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, het gesê die polisie werk nou saam met maatskappye wat “behoorlik by Psira [die reguleerder van die private sekerheidsbedryf] geregistreer is” om die moorde te voorkom.

Alwie Lester, Eskom se bestuurder vir verspreiding in die Wes-Kaap, het die geweld veroordeel en gesê Eskom betreur die verlies aan lewens en die trauma waaraan almal betrokke onderwerp word. Berading sal aan die tegnici wat by die voorval betrokke was, verskaf word, asook aan die maatskappy waarvoor die wagte gewerk het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Fedup ·

Don’t hold your breath for any answers from mad hatter and co.
Whispers is what’s causing this chaos in these hard times.

Mallie ·

So “black lives matter”, wat dan van sekuriteitswagte. Nou word daar nie gehoe ha nie dis net nog n lewe. Standaarde !!!

Michael 1 ·

Hoe weet jy hulle is swart ,die gemuilbande media weier om daardie tipe inligting te gee.

Michael 1 ·

Wie is verantwoordelik vir die wrede moorde in SA, ondersoek dit en dan kan die ware feite soos dit is gegee word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.