Kommer oor nadoodse ondersoeke by Phoenix-lykshuis

Bedroefde familielede word glo omkoopgeld van tot R5 000 gevra om te verseker daar word vinniger by hul geliefdes uitgekom. (Argieffoto)

Die DA in KwaZulu-Natal sê hy is diep bekommerd oor berigte dat ʼn gebrek aan watertoevoer nadoodse ondersoeke by die Phoenix-staatslykshuis vertraag.

Dr. Rishigen Viranna, ʼn DA-lid van die provinsiale wetgewer en die party se woordvoerder oor gesondheid in die provinsie, sê die LUR moet dadelik ingryp ná bewerings dat liggame op die lykshuis se vloer opgestapel moet word.

Viranna sê bedroefde familielede word nou boonop omkoopgeld van tot R5 000 gevra om te verseker daar word vinniger by hul geliefdes uitgekom.

“Die situasie by die Phoenix-lykshuis is verstommend. Die DA is bewus van verskeie klagtes deur bedroefde familielede die afgelope paar dae.

“Benewens die waterprobleme, is daar ook ʼn algemene gebrek aan hulp deur personeellede by die fasiliteit. Dat families aan verdere emosionele trauma onderwerp word weens ʼn onbehulpsame en onbelangstellende bestuur, is skandelik,” sê Viranna.

Die DA het reeds die provinsie se portefeuljekomitee oor gesondheid gevra dat ʼn volskaalse en dringende inspeksie by die lykshuis gedoen word. Dit word na verwagting later vandeesweek gedoen.

“Dit is uiters belangrik dat oorledenes by die fasiliteit met waardigheid behandel word en dat hul geliefdes gerespekteer word en die afsluiting kry wat hulle verdien. Ons hoop dit is vroeër eerder as later die geval.”

Pieter van der Westhuizen, hoofbestuurder van Avbob, het by navraag gesê hulle ondervind nie enige vertragings of agterstande by die staatslykshuis nie.

Viranna sê die DA verwag van die LUR vir gesondheid in KwaZulu-Natal, Nomagugu Simelane-Zulu, asook haar departementshoof, dr. Sandile Tshabalala, om sonder versuim by die Phoenix-lykshuis in te gryp.

Meer as 400 mense is in voorverlede week se grootskaalse oorstromings in KwaZulu-Natal dood en skade aan infrastruktuur het groot gebiede sonder water gelaat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Misky ·

Absoluut skokkend en die regering en hul BEE kaders voel vere vir ons SA burgers nie – lewend of dood, hulle sien net geld!!!

Swerwer ·

Ongelukkig bestaan daar nie so iets in die ANC/EFF se optrede om oorledenes met waardigheid te behandel nie, en nog minder dat hul geliefdes gerespekteer moet word. As ‘n lyk uit modder/water gehaal word tydens ‘n ramp/vloed is dit baie duidelik wat die oorsaak was maar waar die liggaam steek wonde en koeëlwonde op het, is dit mos duidelik dat daar ‘n ander rede is. Daar is mos meer as 1 lykshuis. Selfs party begrafnisondernemings het hul eie lykshuise, al stem hul nie vir die ANC/EFF nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.