Kommer oor natuurbewaring in KZN

Minister Barbara Creecy. (Foto: Departement van omgewingsake)

Kommer is besig om toe te neem dat die eertydse Natalse Parkeraad wat deur legendes in bewaringskringe soos dr. Ian Player en dr. George Hughes opgebou is, tans besig is om as Ezemvelo KZN Wildlife ten gronde te gaan.

Politieke partye van alle kante van die Nasionale Vergadering het Woensdagmiddag tydens ministeriële vraetyd ʼn beroep op die minister van omgewingsake, bosbou en visserye, Barbara Creecy, gedoen om in te gryp in die wanbestuur wat Ezemvelo tans teister, en Creecy het aangedui sy is bereid om dit te doen.

Die aanslag is gelei deur die hoofsweep van die Inkatha Vryheidsparty, Narend Singh, en Creecy het hom geantwoord dat die proses aan die gang is om die hele raad van Ezemvelo af te dank weens berigte van wanadministrasie.

In hierdie verband is daar goeie samewerking tussen die nasionale regering en die provinsiale regering van KwaZulu-Natal – maar as die provinsiale regering sy voete sleep, sal die nasionale regering onder haar leiding nie huiwer om in te gryp in belang van toerisme, natuurbewaring en biodiversiteit nie, het die minister onderneem.

EFF-LP Nazier Paulsen het uitgewys dat dit politieke aanstellings deur die ANC is wat hierdie kroonjuweel van natuurbewaring so laat verdof het, en dat ʼn onafhanklike oudit reeds drie jaar gelede die onbevoegdheid van hierdie politieke ANC-kaderaanstellings uitgewys het.

Creecy het dit nie ontken of erken nie, maar het gesê sy kan nie ma staan vir haar voorgangers se optrede nie. Sy het wel bevestig die volgende Ezemvelo-raad sal in staat wees om sy taak te verrig.

Op ʼn vraag van die DA-LP James Lorimer het Creecy darem ʼn bietjie goeie nuus gehad oor een van die land se mees geliefde, waardevolle en bedreigde spesies, naamlik die renoster.

Sedert die grendelstaat ingestel is, het renosterstropery landwyd so afgeneem dat daar byvoorbeeld in April vanjaar vir die eerste keer in tien jaar ʼn volle kalendermaand verbygegaan het sonder dat ʼn enkele renoster in die Nasionale Krugerwildtuin gestroop is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

marius ·

Waneer gaan sy die riool uit die riviere haal , of weier sy om ma te staan daarvoor ook ? In die beste taal in die wereld se gesegde ” hande in die saligheid en gatte deurentyd in die stoel “

Anoniem ·

Dit gaan nie veel beter in Kruger nie. Van die werkers se families is tydens die inperking goedgunstiglik toegelaat om onder vlak 5 en 4 in van die kampe se wooneenhede saam met hulle werker gades te woon. Nou weier hulle botweg om uit te trek en kan die eenhede nie verhuur word nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.