Kommer oor nóg afleggings in mediabedryf

(Argieffoto: Mahesh Patel/pixabay)

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef) sê hy is diep bekommerd oor die voortgesette vlaag afleggings by media-organisasies landwyd.

Primedia het nou ook gesê hy het met ʼn afleggingsproses begin. Cape Talk, KFM, 702 en Eye Witness News vorm deel van die maatskappy.

Volgens Sanef het Primedia 786 voltydse werkers, waaronder 323 werkers by Primedia Broadcasting, die maatskappy se grootste afdeling.

Die maatskappy het nog nie aangekondig hoeveel poste geraak word nie.

Sanef sê die aankondiging kom kort nadat Media24 aangekondig het dat soveel as 510 mense by dié maatskappy hul poste kan verloor. Dié mediahuis het die publikasie van sommige van sy tydskrifte en koerante gestaak nadat hy hard getref is deur die Covid-19-pandemie.

Die SAUK het ʼn ruk gelede aangekondig soveel as 600 mense by die nasionale uitsaaier kan afgelê word.

Die Caxton-groep het in Mei aangekondig hy onttrek hom aan tydskrifpublikasie en alle verwante bedrywighede en Associated Media Publishing (AMP), een van Suid-Afrika se grootste onafhanklike mediahuise, het in April aangekondig dat hy sy deure gaan sluit.

Volgens Sanef se berekeninge is nagenoeg 700 werksgeleenthede net in drukmedia reeds weens afleggings verlore.

(Argieffoto: Unsplash)

“Sanef neem kennis van die ontberings van joernaliste en mediawerkers wat hul werk verloor het – of moontlik kan – maar ook van die probleme vir ʼn demokrasie weens ʼn krimpende mediabedryf met krimpende nuuskantore en minder publikasies en mediahuise om oor ons mense se stories te berig,” lui ʼn verklaring van Sanef.

“Ons glo Suid-Afrika moet meer stemme hoor – en uit alle provinsies – as ons ʼn lewendige en florerende demokrasie wil verseker.”

Die forum het ʼn beroep gedoen op die regering, korporatiewe maatskappye en individuele burgers om die mediabedryf te ondersteun.

Volgens Sanef het pres. Cyril Ramaphosa in ʼn vergadering in Mei onderneem dat die regering gaan kyk na maniere om die bedryf te ondersteun. “Sanef gaan die president hou by sy belofte.”

Sanef het die maatskappye wat reeds tot sy medianoodverligtingsfonds bygedra het, bedank. Dit sluit in MTN, Alan Gray en Nedbank, asook die Open Society Foundation.

Die fonds word gebruik om joernaliste wat hul inkomste verloor het, by te staan.

Die eerste ronde aansoeke om hulp het reeds gesluit en betalings sal na verwagting vandeesweek nog gedoen word. Sanef sê hy sal binnekort ʼn aankondiging doen oor wanneer nuwe aansoeke ingedien kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Pieter ·

Baie goeie ding hierdie afleggings.
Nog net op RSG gehoor van die optogte in swart in Pretoria en Mosselbaai rakende protes teen plaasmoorde. Maar BLM kry onvoorwaardelik mediadekking.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.