Kommer oor nuwe dwelmneiging in KZN-skole

Argieffoto (Foto: stevepb, Pixabay)

Die Inkatha Vryheidsparty (IVP) het opnuut ʼn beroep gedoen vir dringende ingryping teen dwelmmisbruik in die lig van ʼn nuwe tendens onder KwaZulu-Natalse leerders om die middel Xanax as dwelmmiddel te misbruik.

Die IVP het Donderdag in ʼn verklaring gesê hy is bekommerd oor dwelmmisbruik onder die jeug wat kan lei tot ʼn onproduktiewe samelewing as dié kwessie nie dringend aandag geniet nie.

“Ons is op die punt om hierdie generasie aan dwelmmisbruik te verloor, maar ons beleidmakers beveg dit met retoriek. Ons jong demokrasie word bedreig as ons nie nou wakker skrik en iets drasties aan hierdie euwel doen nie,” lui die verklaring.

IOL berig leerders in KwaZulu-Natal meng hoesstroop wat kodeïen bevat met sap of koeldrank en gebruik dit dan as ʼn dwelmmiddel. Onlangs het leerders ook glo begin om Xanax, ʼn voorskrifmiddel wat gebruik word om angs, paniekversteuring en slaaploosheid te behandel, by hierdie verslawende en gevaarlike mengsel te voeg.

Luidens die berig kos een Xanax-tablet sowat R1 in ʼn apteek, maar word dit op straat vir R7 per tablet aan leerders verkoop.

Die IVP het sy skok oor dié neiging uitgespreek en gesê die party glo dwelmmisbruik in Suid-Afrika saai verwoesting en is ʼn groot bron van kommer vir ouers, owerhede en nie-regeringsliggame.

“Dit is ʼn uitdaging wat algemeen erken word as een met die potensiaal om ʼn negatiewe impak op mense se gesondheids-, kulturele, sosiale en ekonomiese welvaart te hê,” het Velenkosini Hlabisa, die IVP se provinsiale premierskandidaat, gesê.

Die party het die implementering van ʼn ernstige en omvattende onderwysprogram voorgestel wat sal handel oor die gevare van dwelmmisbruik wat hy meen ʼn belangrike deel van die skoolkurrikulum moet uitmaak. Volgens die party kan die 4 000 maatskaplike werkers wat tans werkloos is by skole ingespan word om dié program te implementeer.

“Maatskaplike werkers kan saam met onderwysers en ouers in skole werk om leerders te help wat sukkel [om kop bo water te hou],” het die IVP gesê.

Die party glo ook dat daar ʼn behoefte aan die implementering van openbare beleid is wat inligting verskaf oor die ernstige gevolge van die gebruik van enige voorgeskrewe medisyne.

Die IVP is ook bekommerd oor sekere plekke soos parke, drankwinkels en straatpartytjies waar dwelms vrylik onder leerders versprei word.

“Verder het sommige wetstoepassingsagentskappe lui geword óf medepligtig geword óf begin om bloot verby dwelmhandelaktiwiteite te kyk wat reg onder hul neuse gebeur,” het die IVP gesê.

Die party het verder gesê dat die belegging in behandeling en rehabilitasie om sodoende dwelmmisbruik en afhanklikheid te verminder, nie nét sal help om lewens te red nie maar ook ekonomiese en sosiale uitgawes sal verminder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

John ·

Maroela kan jul miskien ‘n mediese nis byvoeg? Daar is soveel te sè oor gesondheid ens. Tans is stories oor maselinenting en die verset daarteen groot nuus, soos die feit dat New York ‘n noodtoestand verklaar het weens ‘n uitbraak en sterftes wat verband hou. Groot maselpartytjies is glo deur teenstanders gehou om kinders doelbewus aan te steek. Soveel ander sake, soos bogenoemde, kan uitgelig word.

En nou? ·

“Ons wil alles verniet he, maar vir dwelms sal ons betaal!”

Henk ·

Ons kinders is vandag so in gevaar agv gewetenlose blik……wat niks voel nie, Wens ek ka 24/7 my dogtertjie onder oë hê. Ek sal erger as moord pleeg as ek n dwelmhandelaar in die hande kry!!

Robert ·

Is so Henk. Die ding vandag is dat kinders van so jonk as 2 sonder toesig in die strate is. Maar kom hulle iets oor wil die ouers hul oë uithuil op die tv. Dié ouers moet aangekla word en toegesluit word want dit is in die meeste gevalle hulle skuld as iets met die kinders gebeur. Van dwelm misbruik, verkragting , put toilet verdringkings ens. Die dinge gebeur elke dag en die agterlosige ouers kom niks oor nie. Maar nou ja , dit is mos ook maar ń regerings beleid van hoe meer kinders jy het , hoe groter is die toelaag.
Die vraag kan ook maar gevra word, of van die ouers werklik bekommerd is oor hul kinders?

Tong innie kies ·

Henk, moenie jou “evidence” in Pretoria in die mangate kom gooi nie, hulle is klaar “geboek”. Die Hennops en Apies is nog oop.

Pieter ·

Kom ons vra ook die vraag hoekom dwelms so aanloklik is. As daar nie ‘n vraag is nie sal daar ook geen dwelm probleem wees nie. Mense en veral jong mense sien nie meer ‘n gelukkige toekoms vir hulle nie. Die dwelms bring tydelike verligting vir die donker bestaan van baie mense. Mense is ook onder geweldige druk om te presteer en geld te maak. So gaan dei samelewing onder.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.