Die burgerregte-organisasie AfriForum het Woensdag sy kommer uitgespreek oor drie kandidate op die kortlys vir openbare beskermer (OB).
AfriForum het ʼn brief gerig aan dr. Makhosi Khoza, voorsitter van die ad hoc-komitee vir die aanstelling van die OB, waarin hy sy kommer uitspreek en vra dat die organisasie toegelaat word om ʼn voorlegging by die komitee in te dien. Die brief is gestuur aan die hand van onderhoude met die kortlyskandidate wat Donderdag begin. Die drie kandidate is regter Sirajudien Desai, adv. Nonkosi Princess Cetywayo en adv. Willie Hofmeyr.
Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, het gesê die organisasie is bekommerd oor regter Desai se aktiwiteite as regsadviseur vir uMkhonto we Sizwe gedurende die Motsuenyane-kommissie, oor adv. Cetywayo se politieke betrekkinge binne en buite die ANC en oor adv. Hofmeyr se beweerde betrokkenheid by die omstrede terugtrekking van korrupsie-aanklagte teen pres. Jacob Zuma in 2009.
Hoewel kommer oor die eerste twee kandidate reeds deur AfriForum uitgespreek is voordat die kandidate op die kortlys geplaas is, het Roets gesê die blote tikkie van betrokkenheid by pres. Zuma se korrupsie-aanklagte is genoeg rede vir kommer by die komitee aangaande adv. Hofmeyr.
“Adv. Thuli Madonsela het in die Nkandla-saak bewys die pos van openbare beskermer het ʼn kandidaat nodig wat nie bang is om teen Suid-Afrika se president te staan te kom indien nodig nie. Om hierdie pos toe te ken aan iemand wat, selfs effens, lyk asof hy of sy meer besorg is oor beskerming van die president, sal dus ʼn twyfelagtige sein na Suid-Afrika en die wêreld stuur,” het Roets gesê.
AfriForum het gevra om betrokke te bly in die aanstellingsproses en dat die komitee inligting sal verskaf soos en wanneer nodig.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
11 Kommentare
Ongelooflik hoe ver en diep Zuma se desperate kloue ingesink is om homself bo die vervolging van die gereg te kry en te hou…
zuma en almal wat belange het by hom en hom ondersteun moet nie toegelaat word om enige kandidate te benoem of aanstellings in enige poste te doen nie.
met regstellende aksie in volle swang in die staatsdiens en met ras wat ALLESOORHEERSEND is, sal hofmeyr nooit die pos kry nie want hy is wit.
afriforum hoef nie oor hofmeyr bekommerd te wees nie. met sy wit velkleur sal hy nie die pos kry nie. Die ANC is eenvoudig net TE veel behep met ras as dit by aanstellings kom.
Kom hier nog ‘n zupta aanstelling?