Kommer oor OB-kandidate

Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum. Foto: Verskaf

Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum. Foto: Verskaf

Die burgerregte-organisasie AfriForum het Woensdag sy kommer uitgespreek oor drie kandidate op die kortlys vir openbare beskermer (OB).

AfriForum het ʼn brief gerig aan dr. Makhosi Khoza, voorsitter van die ad hoc-komitee vir die aanstelling van die OB, waarin hy sy kommer uitspreek en vra dat die organisasie toegelaat word om ʼn voorlegging by die komitee in te dien. Die brief is gestuur aan die hand van onderhoude met die kortlyskandidate wat Donderdag begin. Die drie kandidate is regter Sirajudien Desai, adv. Nonkosi Princess Cetywayo en adv. Willie Hofmeyr.

Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, het gesê die organisasie is bekommerd oor regter Desai se aktiwiteite as regsadviseur vir uMkhonto we Sizwe gedurende die Motsuenyane-kommissie, oor adv. Cetywayo se politieke betrekkinge binne en buite die ANC en oor adv. Hofmeyr se beweerde betrokkenheid by die omstrede terugtrekking van korrupsie-aanklagte teen pres. Jacob Zuma in 2009.

Hoewel kommer oor die eerste twee kandidate reeds deur AfriForum uitgespreek is voordat die kandidate op die kortlys geplaas is, het Roets gesê die blote tikkie van betrokkenheid by pres. Zuma se korrupsie-aanklagte is genoeg rede vir kommer by die komitee aangaande adv. Hofmeyr.

“Adv. Thuli Madonsela het in die Nkandla-saak bewys die pos van openbare beskermer het ʼn kandidaat nodig wat nie bang is om teen Suid-Afrika se president te staan te kom indien nodig nie. Om hierdie pos toe te ken aan iemand wat, selfs effens, lyk asof hy of sy meer besorg is oor beskerming van die president, sal dus ʼn twyfelagtige sein na Suid-Afrika en die wêreld stuur,” het Roets gesê.

AfriForum het gevra om betrokke te bly in die aanstellingsproses en dat die komitee inligting sal verskaf soos en wanneer nodig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Johann ·

Ongelooflik hoe ver en diep Zuma se desperate kloue ingesink is om homself bo die vervolging van die gereg te kry en te hou…

Albert ·

zuma en almal wat belange het by hom en hom ondersteun moet nie toegelaat word om enige kandidate te benoem of aanstellings in enige poste te doen nie.

Rupert Ashford ·

Dit sluit omtrent almal in die regeringklas in. Mense wat afhanklik is van die staat vir hulle salarisse is omtrent almal in so ‘n posisie en dit is nie net Zuma nie dit gaan oor die ANC. Zuma is net ‘n onverfynde ou wat nie skroom om dikwels openlik krimineel op te tree nie terwyl sy voorgangers darem nog omgegee het wat die samelewing en die wereld van hulle dink en die dinge in die donker gedoen het. Na 20 jaar van ANC (10 van Zuma) is dinge maar beroerd.

jaco ·

met regstellende aksie in volle swang in die staatsdiens en met ras wat ALLESOORHEERSEND is, sal hofmeyr nooit die pos kry nie want hy is wit.

jaco ·

afriforum hoef nie oor hofmeyr bekommerd te wees nie. met sy wit velkleur sal hy nie die pos kry nie. Die ANC is eenvoudig net TE veel behep met ras as dit by aanstellings kom.

neelsie ·

Dankie Afriforum dat julle die proses met n valkoog dophou.
Ons sal julle ondersteun , want julle optrede is geloofwaardig.

John ·

Die OB se kantoor sal nie meer vir lank funksioneer nie. Die Skerpioene se angels is getrek, die polisie se eenheid teen dwelmgebruik is onder narkose en die howe se lugreelings wil-wil ingee. Die regering se suurstofpompies raak verstop… die spul spartel al… en die krag- en petrolmeters staan op rooi. Ons het binnekort in ‘n bosgevegbeleg waar bekgevegte onder aasvoelgekwer die botoon sal voer. Afrika se donker is te swaar bo… dit sak af.

Kaspaas ·

Hoekom moet almal hulle “Struggle Credentials” uitlig. As jy nie het nie beteken dit jy is minder goed as die ander wat het? Ek dink nie so dit gaan oor wie is die beste vir die posisie met of sonder affiliasies.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.