Kommer oor ondersoek na Phiyega sloer

Riah Phiyega. Foto: GCIS

Riah Phiyega. Foto: GCIS

Die Suid-Afrikaanse Polisie-unie (Sapu) het Dinsdag sy kommer uitgespreek dat Riah Phiyega, die geskorste nasionale polisiekommissaris, se termyn tot ʼn einde kan kom nog voordat haar voortslepende dissiplinêre verhoor afgehandel is.

Phiyega is verlede jaar deur pres. Jacob Zuma met volle betaling geskors. ʼn Kommissie van ondersoek wat die dood van 34 stakende Lonmin-mynwerkers, wat in Augustus 2012 deur die polisie by Marikana doodgeskiet is, ondersoek het, het aanbeveel dat Phiyega geskors word hangende ʼn ondersoek na haar bevoegdheid om haar amp te beklee.

Die presidensie het destyds gesê die skorsing is ʼn tydelike maatreël totdat die ondersoek na Phiyega se bevoegdheid, bewerings van wangedrag en haar kapasiteit om haar amptelike pligte effektief uit te voer, afgehandel is.

Phiyega het nie oproepe na haar selfoon beantwoord nie, maar Oscar Skommere, Sapu se woordvoerder, het gesê Phiyega is steeds geskors. “Ons hoop dat die kommissie tot ʼn gevolgtrekking sal kom voordat haar termyn verstryk,” het Skommere gesê.

Hy het bygevoeg Phiyega se termyn verstryk volgende jaar. Sy is in Oktober 2015 geskors.

Phiyega is in Junie 2012 aangestel om Bheki Cele op te volg. Cele is afgedank nadat ʼn presidensiële kommissie van ondersoek bevind het hy is onbevoeg om sy amp te beklee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Alida ·

Bring vir Cele terug. Tydens die wereldbeker toe hy die hoof was, was hier nie ‘n dag se misdaad nie.

Manie ·

Lekker om solank by die huis te sit en teer op die belastingbetaler se geld

Francie ·

Verseker! En sou sy “afgedank” word, gaan sy ‘n stewige goue handdruk kry?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.