Kommer oor oortreders binne polisiemag

‘n Skermskoot uit die video.

Francois Beukman, die voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor polisie, het die inhegtenisneming van twee senior polisiebeamptes van die Wes-Kaap op aanklag dat hul omkoopgeld van ʼn lid van die publiek aanvaar het, verwelkom.

Beukman het gesê die stryd teen misdaad moet begin met oortreders binne die polisie, veral op stasievlak, wat misdaad moontlik maak.

“Die polisie moet gedien word deur toegewyde en eerlike beamptes wat ʼn passie het vir veiligheid en sekuriteit in die land. Dit is die grondslag vir ekonomiese groei,” het Beukman gesê.

Volgens Beukman is die komitee bekommerd dat die beweerde omkoopgeld glo verband hou met die verkryging van ʼn sertifikaat om ʼn vuurwapen te besit. “Die kwessie van vuurwapenbeheer is deur die komitee as onontbeerlik in die geveg teen misdaad geïdentifiseer.”

Maroela Media het vroeër berig ʼn video waarin twee polisiebeamptes in ʼn restaurant by ʼn winkelsentrum in hegtenis geneem word, het die afgelope naweek soos ʼn veldbrand op sosiale media versprei.

In die video kan gesien word hoe die twee mans, van wie een in gewone drag en een in uniform geklee is, by ʼn tafel in die restaurant sit waar hulle in hegtenis geneem word.

Sers. Noloyiso Rwexana, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media bevestig dat kapt. Jerome Adams (48) en ao. Tobias Prins (56) Vrydagmiddag by ʼn winkelsentrum in Kuilsrivier vasgetrek is. Die beamptes is in hegtenis geneem op aanklag van korrupsie nadat hulle glo omkoopgeld by ʼn lid van die publiek aanvaar het.

The Daily Voice berig dat die beamptes, verbonde aan die Lentegeur-polisiestasie in Mitchells Plain, glo R10 000 by ʼn lid van die publiek geneem het om ʼn persoon wat nie ʼn vuurwapen mag besit nie te “help” met sy wapenaansoek.

Die verdagtes het Maandag in die Kuilsrivier-landdroshof verskyn op aanklag van korrupsie.

Beukman het ʼn beroep gedoen op mense om enige korrupte aktiwiteite van beamptes by die betrokke provinsiale kommissaris en die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) aan te meld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Why ·

Dis maar net die twee wat uitgevang is. Kyk na die range/titels van hierdie mense . .kyk waar is hulle al .. wil jy vir my se dit was hulle eerste oortreding? Hoeveel duisende ander is daar nie net wat net nie uitgevang word op video nie. JA dit is goed om te weet daar is twee minder in die polisiediens .. die vraag is net WAT gaan van hulle word en tweedens HOEVEEL ANDER Is daar nog??

christa ·

die polisie het ontaard in ‘n misdaad eenheid. enigeen kan polisieman word, hoe meer en groter misdade jy gepleeg het hoe sekerder is jy van ‘n pos. Ek was self in uniform en was trots daarop maar deesdae sou ek my skaam as ek ‘n uniform moet dra.

Mrs H ·

Help my reg as ek verkeerd is, maar hier is hoe ek n polissie man in uniform verstaan…. In uniform is jy aan diens, en hoort jy nie gesien te word by restaurant tafels nie. Jy moet besig wees om jou gemeenskap te dien met dissipliene en respek wat jy as polissie man self afbreuk doen deur gemaklik en laks in jou uniform gesien te word net die tyd verdryf. In uniform dra jy jou instansie se naam hoog en met trots soos ons van die begin af geleer het met skool uniform. Ek glo ook dat jy nie met gemeenskapslede in jou polissie voertuig gesien mag word nie, wat ons tog so gereeld sien. Nou die dag, sit n polissieman in sy uniform by Multichoice Vereeniging, en kletter rustig die tyd verby met n werker agter die toonbank oor alles behalwe sy DSTV verrigtinge, terwyl die rye besig was om by die voordeur uit te staan. Maar n mens durf nie iets se, wat ek so graag wou, want dan is jy mos n rassis. Daar is twee onlangse, afsonderlikke insidente wat ek aan dink, toe ek die polissie gebel het vir dringende bystand….en wag nog steeds vir hulle…. Nou weet ons wat vat prioriteit by hulle ne?

Theresa B ·

Wel, as Ministers geskors word en vir 2 jaar plus by die huis lê en salaris verdien. Dan kan diè ook seker maar dieselfde pad loop of net aanhou vir diens rapporteer. “Tot die vreeslike ondersoek afgehandel is”.

Piet Pompies ·

Beslis ‘n stap in die regte rigting, ten minste is daar twee minder korrupte polisie manne. Die wat so kla, het jy al enige klagtes ingedien of korrupsie gerapporteer waarvan jy bewus is, indien nie, is jy net so skuldig daaraan!

Gert ·

Die polisie is vol kriminele wat daar is om hulself te veryk met kriminele aktiwiteite hoekom dink julle raak misdaad al erger want die wat dit moet bekamp is vrot tot op die been

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.