Kommer oor plasing van gesondheidspraktisyns

medies behandeling dokter

Argieffoto (Foto; DarkoStojanovic, Pixabay)

Solidariteit Jeug, die jeugvleuel van die vakbond Solidariteit, het Donderdag sy kommer uitgespreek oor die plasingsproses wat die departement van gesondheid volg om afgestudeerde gesondheidspraktisyns vir die jaar 2019 by hospitale te plaas.

“Dié proses moes al in 2018 afgehandel gewees het, maar talle dokters, verpleegsters, tandartse en ander gesondheidspraktisyns wat pas afgestudeer het, is steeds nie geplaas nie, en dit meer as ʼn week nadat hulle moes begin werk,” het Paul Maritz, die koördineerder van Solidariteit Jeug, gesê.

Volgens Maritz is dit ontstellend dat ʼn land soos Suid-Afrika, wat so ʼn enorme behoefte aan opgeleide mediese personeel ondervind, afgestudeerde gesondheidspraktisyns op dié manier hanteer. “In sommige gevalle moes hulle honderde kilometer verder heen verhuis, net om te verneem dat daar nie poste vir hulle is nie, al was hul plasing só aangedui op die nasionale stelsel.”

Maritz sê volgens bekommerde ouers wat Solidariteit Jeug gekontak het, daag hul kinders by die betrokke hospitaal of gesondheidsentrum in ʼn spesifieke distrik op waar hulle volgens die ICSP-stelsel geplaas is, maar dan weet die owerhede daar niks van die plasing nie, en kan hulle nie begin werk nie omdat daar nie ʼn werkskontrak is nie.

Maritz beklemtoon dat hierdie afgestudeerdes teen 15 Januarie geplaas moet wees, anders word dié poste gevul en moet die betrokke kandidate heraansoek doen om later vanjaar, of selfs eers in 2020, geplaas te word.

“Solidariteit Jeug doen ʼn beroep op die nasionale departement van gesondheid om die krisis-situasie so spoedig moontlik op te los sodat geen opgeleide persoon in die mediese veld maande lank benadeel word nie. Talle mense soek tans na antwoorde en ons eie kommunikasie met die departement van gesondheid was tot dusver onsuksesvol,” sê hy.

“Alhoewel daar heelwat gewag gemaak is van ʼn nuwe begin, wil dit voorkom of die resultate maar net dieselfde as verlede jaar is.”

Solidariteit Jeug het diegene wat hierdeur geraak word, aangemoedig om ʼn e-pos na [email protected] te stuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Nico ·

Skaf geheel en al die gemeenskapsdiensjaar af!

Om nie te mag kies waar jy wil werk nie en dan jou loopbaan gyselaar te hou is verregaande!

My vrou sukkel al sedert Nov 2017 met haar plasing en sy mag nie by ‘n ander hospitaal of kliniek werk nie, want sy moet hierdie eers voltooi

Het al vir Paul ‘n Epos gestuur – dankie vir die pad wat julle al saam ons gestap het in hierdie verband

Boskind ·

Ek rig my oë en hande op na die hemele. Waar sal ons hulp vandaan kom? Daar is reeds min of geen staatsgesondheidsdiens in SA so wat nou???

Thinus Erasmus ·

Al weer al weer al weer en nog ‘n keer, die wielie draai maar die marmot vorder nie ‘n millimeter nie.

PJC ·

Hierdie is meer as genoeg om mense moedeloos te maak want niemand rig iets uit met hierdie totaal onbevoegdes. Almal hoop maar Solidariteit kry iets reg want daar is niemand anders waar hulle kan aanklop vir hulp nie.

Bekommerde ·

BAD MANAGEMENT STARTS AT THE TOP
so lui die engelse spreekwoord.
Ek is seker die sakie kan mos maklik afgehandel word met ‘n “Spreadsheet” en al die nodige informasie van wat het jy waar en hoeveel kort jy en hoeveel is beskikbaar ,
Hierdie is maar weer net die bewys dat as jy mense plaas in poste waarvoor hulle nie bekwaam of opgelei is nie – die man in die straat benadeel word.
Die nuwe drs en al die ander is erg ontwrig – wat my WOEDEND KWAAD maak is die pasiente wat doodgaan of permanente skade optel omdat daar nie dienste gelewer word nie.

EN wie moet ons bedank …….. Ons leef in ‘n tegnologiese wonder wêreld en tog faal dit die mensdom!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.