Kommer oor polisie se hantering van dwelms

Polisiebeamptes het beslag gelê op dagga in Brackenfell (Argieffoto (Foto: SAPD Wes-Kaap)

Die polisie in die Wes-Kaap lê gereeld beslag op dwelms ter waarde van miljoene rande, maar inwoners is bekommerd omdat daar nie behoorlik rekenskap gegee word oor wat met dié dwelms gebeur nie. Die tendens is ongelukkig dat dwelms wat gekonfiskeer word, hul weg na die strate terugvind.

“Ons sien nie dat dit vernietig word nie,” het ʼn besorgde inwoner tydens die 2019-jaareindvergadering van die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) in Elsiesrivier op die Kaapse Vlakte gesê. Die inwoner meen dat die publiek die vernietiging van alkohol kan sien gebeur, maar wanneer dit by dwelms kom, is dit nie duidelik sigbaar wat daarmee gebeur nie.

Bonteheuwel op die Kaapse Vlakte in die Wes-Kaap is ʼn hoërisiko-bendegeteisterde gebied. Angus McKenzie, die wykraadslid van Bonteheuwel, meen: “Die dryfveer agter bendeverwante-misdaad en bendes in ons gemeenskappe is dwelms en die verspreiding daarvan. Ongelukkig is die tendens dat dwelms wat gekonfiskeer word, hul weg terugvind na die strate.” Volgens hom is die meerderheid wetstoepassers vaardig, met ʼn hoë vlak van integriteit. “Maar ongelukkig is daar ʼn paar individue wat nie hierdie kwaliteite deel nie.” Dit skryf McKenzie toe aan die jaag na meer geld, bevrediging van persoonlike behoeftes en sommige wetstoepassers wat self kop in een mus met bendes is.

Polisiemagte wêreldwyd is ontvanklik om in die korrupte aktiwiteite van dwelmhandel betrokke te raak, hoofsaaklik omdat dit kontantgebaseer en gekriminaliseer is. Dit is volgens ’n 2019-navorsingsverslag, Hiding in plain sight, deur ENACT, ’n inisiatief wat deur die Europese Unie gefinansier is om oorgrens- georganiseerde misdaad teen te werk. Die verslag fokus op die toename van heroïengebruik in Suid-Afrika en is geskryf deur die senior ontleder Simone Haysom. Dit beklemtoon die driehoeksverhouding tussen dwelmverskaffers, dwelmverbruikers en die polisie.

Tik en Mandrax gevind in Philippi-Oos (Argieffoto) (Foto: SAPD Wes-Kaap)

Volgens ʼn polisielid van die Kaapse Vlakte het hy in sy nege jaar as polisiebeampte nog nooit gesien dat enige dwelms vernietig word nie. “Ek weet nie waarheen dit gaan nie. Ek weet dit word laboratorium toe gestuur en dan word die verslae na die hof teruggestuur om te bevestig of dit ʼn dwelm is, maar waar dit daarná gaan, weet ek nie.”

Sodra dié polisielid gekonfiskeerde dwelms amptelik aangeteken het en sy senior die ontvangs daarvan skriftelik bevestig het, is hy nie verder by die proses betrokke nie.

Kol. Vuyisile Payi, Elsiesrivier se bevelvoerder vir sigbare polisiëring, sê: “Die wegdoen van dwelmmiddels vind op provinsiale vlak plaas. Wanneer die polisie dagga en vuurwapens konfiskeer, word dit na die provinsiale kantoor in Bellville, bekend as FLASH (polisie-eenheid vir onwettige vuurwapens, drank en tweedehandse goedere) geneem. Die vernietiging word deur hulle gedoen, nie deur ons nie.”

Kol. Jacques van Lill, provinsiale bevelvoerder van FLASH, het egter by navraag gesê hy is nie by magte om op enige dwelmverwante vrae te reageer nie omdat hulle nie daarmee werk nie.

Volgens ʼn senior polisiebeampte word slegs dagga, die gewildste dwelm in Suid-Afrika, op stasievlak by semi-private instansies vernietig. Volgens die beampte is ʼn offisier tydens die vernietigingsproses van dagga teenwoordig. Hy voeg egter by “daar is nog nie ʼn persoon wat toesien dat dit gebeur nie”.

Alle ander chemiese dwelmmiddels soos Mandrax, heroïen en metamfetamien (Tik), moet onder gekontroleerde omstandighede deur die forensiese wetenskaplaboratorium vernietig word, ongeag die hoeveelheid. Selfs ʼn enkele Mandrax-tablet word deur dié laboratorium vernietig. Lt.kol. Andre Traut, woordvoerder van die polisie in die Wes-Kaap, het die versekering gegee dat “alle middels wat die forensiese wetenskaplaboratorium vir ontleding ontvang, onder gekontroleerde toestande en met die nodige magtiging vernietig word”.

Miljoene rand se dwelms in Laingsburg gevind (Argieffoto)(Foto: SAPD Wes-Kaap)

Volgens Traut word die polisie se hantering van dwelmmiddels deur Nasionale Instruksie 8 van 2017 reguleer. Dié instruksie handel oor die bestuur van eiendom en bewysstukke.

Die nasionale polisiewoordvoerder, brigadier Vish Naidoo, het ook bevestig dat deeglik rekord gehou word van alle onwettige dwelmmiddels tot by die punt waar dit vernietig word. Volgens Naidoo word die rekords vir “ouditdoeleindes” gestoor en nie bekend gemaak nie.

Op die vraag of die media en publiek die ouditverslae kan besigtig met die doel om vas te stel hoeveel dwelms oor ʼn tydperk gekonfiskeer is en hoeveel uiteindelik vernietig is, gee hy net opnuut die versekering dat alle gekonfiskeerde dwelms vernietig word.

McKenzie voel dwelms moet dieselfde roete as alkohol volg.

“Dit is belangrik om dit in die openbaar te vernietig waar die publiek dit kan sien. Maar ek dink dit is van kritieke belang om vanaf die SAPD ʼn oorsig te kry oor hoeveel dwelms gekonfiskeer is en waarheen die dwelms gaan ná beslaglegging. Ons benodig ʼn deursigtige proses wat dwelms naspoor vandat dit op beslag gelê word, reg deur die hofproses, totdat dit vernietig word. Ons benodig ook die versekering dat daardie prosedure wel plaasvind.”

Intussen moet die publiek, ook gemeenskappe wat swaar ly onder die gevolge van onwettige dwelmhandel, berus by die polisie se versekering dat hulle stelsels het om rekord te hou van die dwelms in hul besit en dat dit vernietig word. Solank dit nie openlik gedoen word en die omvang daarvan bekend gemaak word nie, bly dié versekerings maar ʼn skrale troos.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae