Kommer oor psigiatriese fasiliteite in Gauteng

Argieffoto

Die DA het sy kommer uitgespreek oor die toestand van fasiliteite vir geestesgesondheidpasiënte by Gautengse hospitale na aanleiding van ʼn verslag wat vandeesweek deur die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) uitgereik is.

Dié verslag is uitgereik ná ʼn besoek aan die George Mukhari-hospitaal in Pretoria.

Jack Bloom, die DA se woordvoerder vir gesondheid in Gauteng, het gesê die verslag beklemtoon ʼn algehele probleem met vertraagde opknappingswerk van geestesgesondheidsale by verskeie Gautengse hospitale aan die hand van onbevoegde kontrakteurs.

Volgens Bloom is 37 pasiënte tydens die MRK se besoek in die geestesgesondheidsafdeling van die George Mukhari-hospitaal behandel. Dié afdeling is egter net vir 14 pasiënte toegerus. Die pasiënte word ook versteur deur lawaai en indringende kontrakteurs wat die fasiliteit probeer opknap.

“Pasiënte gebruik een bad in ʼn isolasievertrek wat bedoel is vir onbeheerbare pasiënte. Daar is ook ʼn gat in die muur waar diere kan inkom,” het Bloom in ʼn verklaring gesê.

Volgens Bloom laat die geestesgesondheidsafdeling van die Charlotte Maxeke-hospitaal in Johannesburg ook veel te wense hoor met dié afdeling wat veronderstel was om reeds tien jaar gelede voltooi te wees. Die opknappingswerk van die Helen Joseph-hospitaal in Johannesburg is ook drie jaar agter skedule.

Bloom het die Gautengse departement van gesondheid aangemoedig om die aanbevelings wat die MRK gedurende besoeke gemaak het ter harte te neem.

“Dit is baie ontstellend dat pasiënte met swak geestesgesondheid steeds sleg behandel word in Gautengse hospitale, selfs ná die Esidimeni-tragedie waar 144 pasiënte weens verwaarlosing gesterf het,” sê hy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Foxi ·

Nee kyk….hulle het nou alles verwoes. Wat wag nog in 25jaar? WIL OOK NIE WEET NIE.

Kobus ·

Esidimeni Tragedie – nog niemand vervolg nie en geen antwoord ooit verkry nie! Hier en by Chris Hani gaan selfde gebeur. Hoe lank word al gekla!

Gert Midstream ·

Integriteit en waardigheid en etiese norme bestaan nie. Al die gesondsdepartemente / fakulteite by die hospitaal behoort in ‘n holistiese oudit aangespreek te word. Swak bestuur op alle vlakke. Niks meer of minder.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.