Kommer oor riool in Vaalrivier

ʼn Onlangse foto toon die omvang van die rioolbesoedeling in die Vaalrivier. Foto: ANA

Die parlementêre portefeuljekomitee oor water en sanitasie het Donderdag gesê hy is bekommerd oor die toestand van die rioolsuiweringsaanleg van die Gert Sibande-distriksmunisipaliteit in Mpumalanga, wat gelei het tot gevaarlike stortings in strome en riviere in die gebied.

Die komitee het gesê hy het inligting ontvang dat geen van die rioolsuiweringsaanlegte in dié distrik ten volle funksioneel is nie. Die probleem word verder vererger deur ʼn groeiende bevolking en ʼn toenemende vraag na beskikbare infrastruktuur.

“Dit is onaanvaarbaar dat rou riool in riviere, en veral die Vaalrivier, en die damme van die provinsie beland,” het Mlungisi Johnson, voorsitter van die komitee, gesê.

“By die Standerton-rioolsuiweringsaanleg het die wanfunksionering van die filters daartoe gelei dat onbehandelde water in die Vaalrivierstelsel beland.”

Johnson het gesê die munisipaliteit voer aan lang verkrygingsprosesse is ʼn struikelblok om die dringende uitdagings te hanteer. “Verder is die tempo waarteen projekte geïmplementeer word kommerwekkend stadig en moet daar hierna gekyk word.”

Die komitee het gesê hy veroordeel ál die verskillende sfere van die regering se traagheid om in te gryp om die omgewingsrisiko-kwessie op te los. Die komitee het gesê ʼn omvattende benadering is nodig om die gevaarlike situasie te hanteer.

Johnson het gesê daar is geen teken dat behoorlike beplanning, gegrond op bewyse op munisipale vlak, gebeur nie. “Die komitee het die distriksmunisipaliteit aangemoedig om Statistiek Suid-Afrika (SSA) te nader om inligting te versamel wat gebruik kan word om projeksies vir die toekoms te maak.”

Die komitee het ook bewus geraak daarvan dat die gemeenskap van die informele nedersetting in Amersfoort steeds septiese tenks gebruik wat oorloop wanneer die watertafel styg, veral gedurende die reënseisoen.

“Dit is totaal onaanvaarbaar dat mense blootgestel moet word aan rou riool en dat dit deel van hul daaglikse lewens is. Dit beroof hulle van hul waardigheid en moet dringend aangespreek word,” het Johnson gesê.

Die komitee het gesê die provinsiale departemente van menslike nedersettings, samewerkende regering en water en sanitasie asook die distriksmunisipaliteit moet saamwerk om blokkasies te identifiseer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Manie ·

Daardie onbevoegde kriminele hoort in die tronk gestop word want hulle bedreig ander onskuldige mense

SjN ·

Riool loop in Jagspruit by klerksdorp en orkney wat in die vaalrivier uitmond, dit is onaangename ervaring en stank as jy daar verby ry, die bestaande infrastrukture word nie eers in stand gehou nie. Ons grootste probleem vorentoe gaan bruikbare water wees.

Alida ·

Dit is mos lankal nie meer nuus nie. Waar in SA kry jy skoon drinkbare water.

B-man ·

As die krane vol “luuunch bars” was… wie wil dan waaater hê?

Koos1 ·

Nee Mnr. Johnson, die probleem lê by twee plekke:
1. Geen toekoms beplanning nie.
2. Kundige werkers wat geloop het (om hoofsaaklik vir geen loopbaan vooruitsigte nie).
Het u geweet dat die PMFA voorsiening maak vir noodgevalle, maar swak beplanning is nie ‘n noodgeval nie!

Malan ·

Die komitee wat aandag aan die saak gee moet dadellik die saak aan die groot klok hang. Laat weet die EWN (Eye witness news) en ander nuus instansies dat hulle dit kom verfilm en self ruik hoe dit daar is !! Stig n fondsinsameling en vat die minister van watersake Nomvula en di minister van Nedersettings HOF TOE. N mens kan nie voorsien watter siektes kan daaruit voorspruit en dit maak die mense wat daar bly se lewe seker hel. ASB dis al soveel jare wat daar probleme is. Waar is die politieke partye, waar is die Menseregtekommissie ?? Mag die mense wat poog om iets te doen daaraan, sterk staan! Maar die Suid Afrikaanse publiek moet dit SIEN en HOOR in die media!

Henk ·

Ek wonder onder wie se beheer is die munisipaliteite wie se riool in die riviere in vloei? Of is dit dal apartheid se skuld of moontlik Jan van Riebeeck?

Braam Maree ·

Dit gaan nie meer lank wees nie dan lyk SA nes Haitti

johan ·

Ek verneem Frankfort in die Vrystaat se riool stroom ook by die tennisbane in die Wilge rivier. Iemand moet seker vertel word daarvan. Ek weet net nie wie om te vertel nie. Help asb .

PJC ·

Ek het gedurende Desember 2017 langs die Vaal en die Oranjerivier gekuier en as ek na die water kyk sal ek graag wil weet wat die ecoli telling daarvan is. Sal defnitief nie daarvan wil inkry nie.

Tannie. ·

Die visse vrek by Vaal Marina, moet asb. nie visvang en eet nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.