Kommer oor rooftogte by Gauteng-skole

(Argieffoto: Unsplash)

Groot kommer heers oor rooftogte by minstens twee Gautengse skole wat die begin van die nuwe skooljaar versuur het. In een van die gevalle is ʼn skoolhoof met vuurwapens gedreig en personeel beroof.

Drie mans het Maandag by die Caiphus Nyoka Secondary School in Etwatwa opgedaag waar hulle gevra het dat die skoolhek vir hulle oopgemaak word omdat hulle kwansuis ʼn afspraak met die hoof het, sê Steve Mabona, woordvoerder van die departement van onderwys in die provinsie.

In die kantoor het die verdagtes vuurwapens uitgepluk en die skoolhoof, haar adjunk en nog twee personeellede gedwing om op die vloer te lê.

“Die verdagtes het glo die skoolhoof voor haar kollegas aangerand,” sê Mabona. Die aanvallers het na bewering aan haar gesê sommige inwoners “soek haar nie by die skool nie”.

Die verdagtes het daarna die vier slagoffers se sakke leeggemaak en hul motorsleutels, selfone en skootrekenaars gebuit. Nadat hulle op die toneel weg is, het ʼn leerder van ʼn ander skool in die omgewing met die hoof en adjunkhoof se motorsleutels aangekom en gesê mans wat hy nie ken nie, het hom aangesê om dit na die skool te neem.

Die polisie ondersoek die voorval en die betrokke amptenare ontvang traumaberading.

In nog ʼn voorval is ʼn amptenaar van die Leeuwpoort Primary School in Germiston Saterdagmiddag as gyselaar gehou terwyl vier gewapende mans die administrasiegebou geplunder het.

Die personeellid is glo met ʼn elektriese koord vasgebind en beveel om op sy maag, met sy gesig na onder, op die vloer te lê. Hulle het die sleutels van al die kantore geëis, maar kon eindelik net ʼn stoorkamer oopsluit. Die personeelkamer, administrasiekantoor en kantoor van die adjunkhoof is met geweld oopgebreek.

Van die gesteelde items sluit in ʼn skootrekenaar, musiekstelsel, grassnyer, blaarblaser, hoeksnyer, ontsmettingsmiddels, kos en R250 wat in ʼn kleinkas gehou is, sê Mabona.

Die rowers het noemenswaardige skade aan die kantore waarby hulle ingebreek het, aangerig en het onder meer ook ʼn rekenaarbediener en radio-alarmstelsel beskadig. ʼn Algehele skadeberekening word nog gedoen.

Die polisie ondersoek ook dié voorval.

Die LUR vir onderwys in Gauteng, Panyaza Lesufi, het sy misnoeë oor die voorvalle te kenne gegee.

“Hoe steel mense die kos van hul kinders of ander lede van die gemeenskap? Dit is werklik hartseer.”

Lesufi het ook ʼn beroep op mense gedoen om hulle nie tot geweld teenoor onderwyswerkers te wend nie.

“Hierdie amptenare speel ʼn geweldige groot rol in gemeenskapsontwikkeling.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
Marius

viva !!! anc !!!! viva !!!!!

JM

Gebrek aan die nodige breinselle: waarom het die mense by die hek nie eers seker gemaak of die skoolhoof WEL met die betreders ‘n afspraak het nie? Dit gaan deesdae net te maklik, want die polisie is pateties. Hierdie land is in sy maai in!

Corrie

Hierdie land is verrot tot in sy stam. Dankie ANC.

Swerwer

Hou op bekommerd wees en doen iets daadwerkliks. Bring Godsdiens en dissipline terug in skole en stel ordentlik opgeleide personeel aan.

Heinrich

Dis Lesufi en Sisulu se mense, probeer net die land red van die kolonistiese leerplanne en invloede soos tegnologie…hulle stemme betaal sy salaris.