Kommer oor Shell-planne met Wildekus neem toe

Die seismiese opnames sal na verwagting op 1 Desember begin. (Foto: Department of Forestry, Fisheries and the Environment/Facebook)

Verskeie politieke partye doen opnuut ʼn beroep op die regering om in te gryp by die olie-en-gasreus Shell se planne om van volgende maand af na olie en gas aan die Wildekus te soek. Dít terwyl die minister van omgewingsake haar hande steeds in onskuld was.

Shell beplan om van 1 Desember seismiese opnames vanaf Morgansbaai tot by Port St. Johns uit te voer op soek na aardgas en ruolie. Skokgolwe sal vir sowat vyf maande op die seebodem afgevuur word, dikwels ten koste van die delikate ekosisteem in die gebied.

Die bewaringsorganisasie Oceans not Oil het ʼn petisie teen hierdie projek opgestel, wat reeds meer as 250 000 handtekeninge sedert Donderdag ontvang het.

Die sakeonderneming se planne is reeds in 2014 deur die departement van minerale hulpbronne en energie goedgekeur.

Volgens Dave Bryant, DA-LP en woordvoerder oor bosbou, visserye en omgewingsake, het hy menigmaal die minister van omgewingsake, Barbara Creecy, aangespoor om by dié beplande bedrywighede in te gryp.

“Ek het ʼn beroep op die minister gedoen om haar ondersteuning te gee aan lede van die publiek se oproepe om die opnames te staak sodat nog ʼn ronde van openbare deelname eers kan plaasvind, aangesien die vorige een reeds jare gelede plaasgevind het,” sê hy.

“Daar is ongelukkig nog geen aanduiding dat die regering enige voorneme het om in te gryp om die brose seelewe aan die Wildekus te beskerm nie.”

Die departement van bosbou, visserye en omgewingsake het vandeesweek gesê dat die besluit destyds deur die minister van minerale hulpbronne en energie goedgekeur is en dat min. Creecy se departement geen insae daarin gehad het nie.

“Die minister van minerale hulpbronne en energie was verantwoordelik daarvoor om versoeke van dié aard te oorweeg, dus is min. Creecy nie gemagtig om die goedgekeurde aansoek te heroorweeg of ʼn besluit oor die magtiging van die opnames te maak nie,” lui die departement se verklaring.

“Die aansoekproses vir hierdie opnames is reeds jare vantevore gefinaliseer. Alle besluite wat destyds ingevolge die Wet op Minerale en Petroleumhulpbronontwikkeling geneem is, bly geldig en bindend totdat dit deur ʼn geregshof tersyde gestel word.”

Die VF Plus het intussen gevra dat die beplande opnames opnuut aan ʼn omgewingsimpakstudie onderwerp moet word, voordat dit kan voortgaan.

“In hierdie tyd is dit broodnodig dat die departement van omgewingsake betrokke is by ʼn besluit soos dié,” sê dr. Wynand Boshoff, VF Plus-LP van minerale hulpbronne en energie.

“Dit is vir die VF Plus uiters belangrik dat toestemming vir hierdie projek herroep word en opnuut aan ʼn ondersoek onderwerp word omdat die huidige regulatoriese omgewing nou vereis dat toestemming ook van die departement van omgewingsake nodig is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

EnoughSaid ·

n Mens kan seker net wonder óf en hoeveel geld daar al gevloei het……

Shakespeare ·

Kaders was al vanaf 1994 hulle hande in onskuld en kom weg met hrwig kriminele bewyse teen hulle.

JohanR ·

Doen dit al jare Dorry. Selfs op ‘n hoofpad sal ek verby ‘n Shell ry tot by die volgende vul stasie.

Jonico ·

As genoeg van ons Shell boycott sal iemand iewers die boodskap kry… Dit kos net saamstaan

Surfer ·

Alles gaan oor geld, nie die natuur vir hierdie spul nie. Die minister het seker al klaar haar “skenking” uit gegee.

Hermien ·

Ons moet ten minste probeer help, teken die petisie en boikot Shell dan staan ons dalk ‘n kans. “Individually, we are one drop. Together, we are an ocean”.

Dirk Mostert ·

Ek steun die soektog heelhartig en neem kennis van watter groepe die ekonomie saboteer met hul onwetenskaplike besware. Waarom nie S.A. onafhanklik van buitelandse voorsieners maak nie? Ek steun ook skaliegas-ontginning.

JohanR ·

Gaan lees oor wat Shell in Nigeria oor die jare gedoen het. Daar is groot areas waar daar nooit weer lewe sal wees nie. Alle is net daar dood. Die mense, die diere die plate, die bome. Met Shell is dit “profits before the environment!” Maar dan is daar seker ‘n paar ANC minister en vriende en familie wat nou baat gaan vind met vet bank rekeninge!

Anoniem ·

Om Shell bloot te boikot deur nie daar te koop nie, sal niks beteken nie. Massa bymekaarkomstes by Shell vulstasies, tesame met boilkot sal dalk die ding doen.

Miskruier ·

Stop! Ons kan meer geld verdien met toerisme en dan ook werk verskaf.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.