Kommer oor skade, misdaad by tydelike Pta-skuiling  

Lede van die polisie, weermag en Tshwane-metropolisie het onlangs ‘n klopjag by die tydelike skuiling uitgevoer.

Hawelose mense wat sedert die staat van inperking by ʼn tydelike skuiling op die Lyttelton-sportpark in Pretoria gehuisves word, is waarskynlik verantwoordelik vir die toename in voorvalle van koperkabeldiefstal in die gebied.

Die spoorlyn tussen Pretoria en Johannesburg, wat reg langs die terrein verby loop, word glo veral die afgelope weke deur koperdiewe geteiken.

ʼn Groot hoeveelheid koperkabels en gereedskap wat vir dié soort misdaad en huisbraak gebruik word, sowel as dwelms, is verlede week tydens ʼn gesamentlike klopjag deur die polisie, weermag en die Tshwane-metropolisie tussen die besittings van die haweloses gevind.

Verskeie gereedskap wat vir die diefstal van koperkabels en vir huisbraak gebruik word is tydens die klopjag gevind.

Hulle word in tente op die terrein gehuisves en is glo ook verantwoordelik vir duisende rande se skade wat aan die tennisbane en ablusiegeriewe op die terrein aangerig is. Voertuie  van die Tshwane-metropolisie wat daar parkeer was se wiele is ook afgesteel en ʼn masjien wat gebruik word om die rolbalbaan in stand te hou en blykbaar meer as R50 000 kos is gestroop.

Die chaotiese situasie by die skuiling het skynbaar ontstaan nadat Tshwane se hoof van gemeenskap- en maatskaplike ontwikkelingsdienste, Tich Mekoe, en die span wat hom by die skuiling bygestaan het ʼn ruk gelede geskors is en alle ondersteuningsdienste toe na bewering tot ʼn einde gekom het.

Johan van Buuren, wat die DA-raadslid in die betrokke munisipale wyk was voordat Tshwane onder administrasie geplaas is, sê die woonbuurt se belastingbetalers is ongelukkig omdat hul sportterrein oorgeneem en feitlik vernietig is nadat die skuiling daar gevestig is. “Daar was geen vooraf kennisgewing hieroor nie en nou word ons vrae ook nie beantwoord nie,” sê hy.

Die hawelose mense was aanvanklik op die terrein toegesluit en kon nie sondermeer uitgaan nie. Later is dit ook met lemmetjiesdraad afgesper maar dié is eenvoudig versnipper om in en uit te kon gaan.

“Die Tshwane-metropolisie het wag gehou tot vlak 3 en toe onttrek, maar daar was steeds private sekuriteit tot vlak 2 en nou lyk dit asof daar vrye toegang is,” aldus Van Buuren.

Die gebrek aan veiligheid rondom die skuiling is ʼn groot bron van kommer vir huiseienaars in die woonbuurt, veral sedert die metropolisie nie meer die gebied patrolleer nie.

“Die mense wat daar gehuisves word dwaal rond in die dag as ons by die werk is en in die nag as ons slaap,” sê ʼn inwoner wat verkies om anoniem te bly. “Die gevolg is misdaad.”

Nogtans sê die woordvoerder van die Lyttelton-polisiestasie, kapt. Dave Miller, dat misdaad in die voorstad afgeneem het sedert die staat van inperking begin het. Die waarnemende voorsitter van die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum, Merle van Staden, stem saam. Albei het net lof vir die stasiebevelvoerder, brig. TP Mathlala, wat glo nagte lank tydens die inperking aan diens gebly het om seker te maak dat die gemeenskap veilig is.

Wanneer die skuiling gaan sluit en of dit ooit gaan gebeur en wat van die hawelose mense gaan word, is ʼn raaisel. Nie die Gauteng-provinsie of die Tshwane-metro kon tot dusver antwoorde verskaf nie.

Skriftelike vrae in die provinsiale wetgewer deur die DA se Crezane Bosch het dieselfde herhalende antwoorde opgelewer dat daar tans gekonsulteer word en dat die besluit bekend gemaak sal word wanneer dit goedgekeur is.

Volgens die LUR vir maatskaplike ontwikkeling, Nomathemba Mokgethi, moes Tshwane reeds op 21 Augustus die stad se langtermynplan vir skuilings aan die provinsie voorgelê het. Sy het ook erken dat die tender vir spyseniering reeds op 30 Junie verval het en bevestig dat die skuiling toe reeds sou gesluit het.

Dit het egter nie gebeur nie en Maroela Media het vasgestel dat daar steeds sowat 170 mense gehuisves en gevoed word. Plaaslike welsynsorganisasies staan in sonder dat enige bydraes van die provinsiale regering of die Tshwane-metro ontvang word.

Bosch sê sy is diep bekommerd oor ʼn onlangse hongerstaking by die skuiling en oor die gehalte van die kos wat sedert die begin van Augustus afgeneem het omdat daar nie meer geld beskikbaar is nie.

Die inwoners van twee ander skuilings, minder as ʼn kilometer van Sportpark by die Lyttelton-stadsaal en -biblioteek, word ook deur skenkings gevoed en van ander benodighede voorsien. Onder dié inwoners is tien jong kinders wat saam met hul mense in die gemengde kwartiere by die biblioteek woon.

Dié twee skuilings word streng beheer deur Tebogo Mpufane, ʼn direkteur van die Centurion Haven of Hope. Mpufane het voorheen jare lank op straat geleef en is ʼn gerehabiliteerde alkoholis wat direk gemoeid is met die rehabilitasie van die verslaafdes onder die meer as honderd hawelose mense in die stadsaal en biblioteek.

“Van hulle het in die bosse en onder brûe gebly, maar doen nou stukwerk in die omgewing,” sê hy. “Skuilings soos hierdie word benodig waar dinge reg gedoen word en tydens die pandemie is higiëne die belangrikste.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
Cornelius

Dis n prentjie wat voorentoe nie beter gaan word nie.

Friedrich

Hoekom laat hulle nie daai mense sommer op die grasperke van die Unie geboue kamp opslaan nie?

Termiet

Gee die pinkie dan gryp hulle die hele hand.

ElizeK

Watse vieslike, vuil plek het ons eens pragtige land nie geword nie. Dit bly vir my een van die “sadste” goed om te aanskou. Sien ANC ondersteuners wat ALLE rasse insluit, dit nie raak nie!!!
Hoe kan dit okay wees om soos n vark te leef as jy beter gewoond is/was.
My breinselle is beslis te min om dit te verstaan.

Elsabe

Gee geen skuiling, kos, gratis sorg van enige aard aan hierdie kriminele. As daar dwelms en daardie soort gereedskap daar gevind is, het hulle geld om na hulself om te sien. Dit is friekin skokkend. Sluit die spul toe en vergeet van hulle. Afbreek en mors is al wat hulle ken en doen.