Kommer oor skerp styging in transitorooftogte

‘n Transitorooftog op die N14 vroeër vandeesmaand. (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Die voorkoms van transitorooftogte vanjaar in vergelyking met die getal voorvalle in die ooreenstemmende tyd verlede jaar, dui op ʼn kommerwekkende toename in Gauteng wat dringend ingryping benodig.

Die Gautengse polisiehoof, lt.genl. Elias Mawela, en verskeie van sy senior offisiere het Woensdag met belanghebbendes vergader om die styging in voorvalle te pak en samewerking tussen die polisie en die bedryf te versterk.

Mawela het ook verskeie operasionele risikofaktore uitgewys wat beteken het dat Fidelity en G4S tot dusver die swaarste getref is.

Mawela het die belang van die hersiening van bestaande planne en samewerking benadruk en alle betrokkenes sal dadelik maatreëls in werking stel en begin met ingrypende optrede om voorvalle te vermy of te voorkom, reaksietye te verbeter, asook om inhegtenisnemings en vervolgings te verseker.

Maroela Media het vroeër berig die polisie is op die spoor van minstens 15 gewapende rowers ná ʼn transitorooftog Dinsdagoggend in die Wonderboom-omgewing in Pretoria. Die aanvallers het in die GS4-geldwa vasgejaag, die veiligheidswagte uitgepluk toe die voertuig tot stilstand gekom het en die geldwa met plofstof oopgeskiet.

Mawela het die bedryf geloof vir die stigting van die Transitorooftogvereniging van Suid-Afrika (CITASA) en die tegnologies gevorderde operasionele bevelsentrum wat reeds op die been gebring is. Die polisie word ook op die vereniging verteenwoordig en het toegang tot die gedeelde dienste en tegnologie wat pogings moet steun om die styging in transitorooftogte te stuit.

(Argieffoto: Twitter)

“Wanneer ons transitorooftogte pak, moet ons kennis neem van die feit dat ernstige sekondêre misdade uit dié rooftogte spruit en dat dit uiteindelik ʼn uitwerking op die breër misdaadprentjie in die provinsie het,” het Mawela gesê.

“Een transitorooftog kan eindelik lei tot bykomende misdade soos opsetlike saakbeskadiging, poging tot moord en in sommige gevalle selfs moord wanneer veiligheidswagte, polisiebeampte en veiligheidswagte geskiet en gewond of gedood word; roof van die geld, kaping vir die verdagtes se wegkommotor en ander misdade.

“As ons ʼn positiewe impak wil maak en die stedelike terreur wil stuit, moet ons hard werk aan ʼn waardegedrewe verhouding en daar moet operasionele planne wees om proaktief, eerder as reaktief, op te tree,” het Mawela gesê.

Hy het ook die belang wat misdaadintelligensie hierin speel, ernstig benadruk.

Grant Clark, namens CITASA, het gesê alles word in die stryd gewerp en alle partye is verbind tot samewerking en koördinering van pogings om dié rooftogte hok te slaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.