Kommer oor skoolfinansies

Argieffoto

Argieffoto

Die meeste openbare skole se finansiële posisie is glo só benard dat dit ’n wesenlike bedreiging vir gehalte-onderrig inhou.

“Dit is eintlik merkwaardig dat skole ten spyte van amper onoorkombare geldnood steeds uitstekende resultate lewer,” het Paul Colditz, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS), gesê.

Die inligting oor skoolfinansies het aan die lig gekom nadat FEDSAS ’n omvattende omgewingsanalise onder 561 openbare skole landwyd gedoen het. Die analise word elke vyf jaar gedoen ten einde FEDSAS in staat te stel om besluite te neem aan die hand van betroubare inligting.

“Ons lidskole vind baat by hierdie navorsing omdat dit probleemgebiede uitwys, wat dit vir FEDSAS moontlik maak om sterker ondersteuning aan lidskole te bied,” het Colditz verduidelik.

“’n Gemiddelde hoërskool se koste aan munisipale dienste is meer as wat die staat se bydrae tot die skool is,” het Jaco Deacon, adjunkhoof van FEDSAS, gesê. “Skole bestee gemiddeld 5% van hul inkomste aan munisipale dienste, terwyl die staatsubsidie aan hoërskole slegs 3.6% van die totale begroting beloop.” FEDSAS doen ’n dringende beroep op die regering om ’n spesiale munisipale tarief vir skole te beding. Skole kan eenvoudig nie besigheidstariewe bekostig nie.

Volgens Deacon is daar ’n wanpersepsie dat skole buitensporige skoolgeld hef. “Hierdie syfers skets ’n ander prentjie. Volgens ons analise word gemiddeld 68% van ’n openbare hoërskool se begroting ingesluk deur vrystelling van skoolgeld, wanbetaling van skoolgeld, munisipale kostes en die koste van beheerliggaamposte.”

Volgens FEDSAS is die voorsiening van genoeg personeel ’n groot rede waarom skole sukkel om finansieel kop bo water te hou. Die FEDSAS-analise het uitgewys dat 30% van opvoeders in openbare skole se salarisse deur die beheerliggame betaal word. “Hierdie is nie bykomende poste nie; dit is noodsaaklike poste waarvoor die onderwysdepartement nie betaal nie. Wat administratiewe en steundienspersoneel betref, styg die syfer tot 57%,” het Deacon bygevoeg.

FEDSAS sal hierdie inligting gebruik om ’n begrotingsgids vir lidskole saam te stel. Volgens hom sal so ’n gids aanvaarbare perke aan bepaalde komponente van ’n begroting heg sodat skole hul eie begrotings daaraan kan toets.

Slegs die inligting rakende skoolfinansies is nou bekend gemaak. Die volledige resultate van die omgewingsanalise sal volgende jaar gepubliseer word.

“Hierdie inligting stel FEDSAS in staat om sinvol te onderhandel met die minister van onderwys en ander rolspelers. Dit is betroubare inligting wat dit vir FEDSAS moontlik maak om op openbare platforms op gesaghebbende wyse aan debatte en gesprekke deel te neem,” het Colditz gesê.

(FEDSAS is ’n vrywillige vereniging van skoolbeheerliggame van openbare skole en staan die behoud en bevordering van gehalte-onderwys in dié skole voor. Meer as 1800 openbare skole is reeds lid van FEDSAS.)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Zom Apo ·

En nou moet al die universiteite ook ver-enegels om seker te maak dit gaan ook ten gronde. Ek weet die artikel het niks met Engels te doen nie, maar dit is merkwaardig hoe alles wat ver-enegels in duie stort. Al die Afrikaanse skole wat ek van weet (waar my kinders is) het geen finansiele probleme nie

pop ·

Dis mos nou nie net die skole nie, dis elke liewe instansie in die land. Medies, krag, water. Paaie, noem maar op, niks is reg nie.O maar ek het bietjie vergeet soos liewe heksie. Dis mos Apartheid se skuld.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.