Kommer oor stadige pas van inentings

Daar is groot kommer oor die stadige pas waarteen inentings gedoen word. (Foto: Twitter)

Hy wil glo die regering se ambisieuse Covid-19-massa-inentingsprogram gaan suksesvol wees, maar die South African Parastatal and Tertiary Institution Union (Saptu) sê die stadige pas waarteen inentings tot dusver gedoen is, kan nie geïgnoreer word nie.

“Dit is uiters kommerwekkend vir ons lede by die Nasionale Gesondheidslaboratoriumdiens wat noodsaaklike werkers is en op die voorste linie van die pandemie staan,” sê adv. Ben van der Walt, algemene sekretaris van Saptu.

Die DA-leier John Steenhuisen sê ook die “stadige en chaotiese” aanvang van die regering se massa-inentingsveldtog is net nog ʼn rede om beheer te desentraliseer.

Die amptelike inentingsprogram – benewens die inentings van gesondheidswerkers – het Maandag afgeskop. Steenhuisen sê hoewel die uiteindelike doelwit is om kudde-immuniteit te bereik deur 40 miljoen mense in te ent, is die belangrikste saak nou om soveel moontlik hoërisikogevalle in te ent voor die derde vlaag Covid-19-infeksies die land tref.

Steenhuisen sê Suid-Afrikaners en die openbare en private sektor moet saamwerk – en dokters, apteke, klinieke en inentingsentrums moet volstoom aan die gang wees.

“Ongelukkig is ons uitgelewer aan die genade van ʼn regering wat vasbeslote is om die program sentraal te beheer, maar nie in staat is om dit doeltreffend te doen nie.”

Steenhuisen sê daar is weinig dringendheid te bespeur. “Soos gewoonlik benut die Ramaphosa-administrasie nie die private sektor ten volle nie, hou hy lede van die publiek in die donker en stel hy teikens waaraan hy nie kan voldoen nie.”

Hy sê die behoefte om klein te begin en inentings dan te versnel is verstaanbaar, maar dat die regering maande lank gehad het om die verspreiding te beplan – baie langer as talle ander lande.

Van der Walt sê ook die departement van gesondheid het verlede week bevestig dat net sowat 480 000 van die land se sowat 1,18 miljoen gesondheidswerkers sedert Februarie ingeënt is. Volgens die Discovery- mediese fonds is dié werkers se kans om ernstige infeksie op te doen of te sterf tot 4,8 keer groter as die res van die bevolking. Die oorblywende 700 000 gesondheidswerkers sal nou saam met bejaardes en mense met onderliggende siektetoestande ingeënt word.

“Ons is onseker of ons vir Zweli Mkhize, minister van gesondheid, moet glo as hy sê die stadige begin was ʼn keuse. Is dit nie dalk ʼn maklike manier om die versuim om volgens die oorspronklike skedule in te ent, te verdoesel nie?” sê Van der Walt.

“Die minister moenie uit die oog verloor dat ons lewens verloor en dat gesondheidswerkers op die voorste linies is nie. Hulle is nie net statistieke nie.”

Van der Walt sê Saptu gaan ʼn fyn oog hou op die vordering wat tydens die tweede fase gemaak word en hoop dat die verhoogde getal inentingsentrums gaan lei tot groter sukses in die toedien van die beoogde 62 miljoen dosisse entstof.

Volgens Mkhize gaan Suid-Afrika teen die einde van volgende maand nagenoeg vyf miljoen senior burgers – mense van 60 en ouer – inent.

Steenhuisen is skepties hieroor.

“Dit bied net 45 dae. As jy aanneem dat die meeste van hulle ʼn dubbele dosis benodig, vereis dit dat tussen 180 000 tot 200 000 dosisse entstof per dag, elke dag, van [Maandag] af toegedien moet word.

“Dit gaan bloot nie gebeur nie,” sê Steenhuisen.

Eskom se beurtkragstelsel is vandeesweek ook weer op kort kennisgewing ingestel en Steenhuisen sê meer inentingsentrums kon geregistreer word as kragopwekkers nie nodig was vir entstof-yskaste nie.

“Suid-Afrika is onbeskerm en ongelooflik kwesbaar op pad na ʼn derde vlaag. Lewens en werksgeleenthede gaan onnodig verloor word en die skuld lê vierkant by die nasionale regering se obsessie met gesentraliseerde beheer,” sê Steenhuisen.

Mkhize het Maandag gesê hy is tevrede met die opkoms by die land se 87 entstofsentrums.

Deel van: SA-nuus

Koronanuusbrief

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Teken in op die nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

16 Kommentare

jongste oudste gewildste
Anton

Almal is bekommerd maar niemand is verras nie :-)

Fedup

Don’t get me wrong. All the da can do is talk and complain.
If you have a problem make sure you do something about it.
I have learned a 100 years ago, talking never solved anything.
Action on the other hand….

Francois

Kan niemand opstaan en die ANC regering aanvat in n hof vir poging tot moord oor die traagheid oor die Corona pandemie. Stop hulle in die tronk

JM

Kommunistiese metode: wil ten alle koste alles beheer.

Ilze

Ek is baie bly hieroor. Want ek glo nie in die ” vaccine” nie.