Kommer oor storting van bloed in Kuruman

Die plaaslike munisipaliteit pomp glo reeds die afgelope jaar bloedwater in die veld wat op die grond van die plaaslike natuurreservaat geleë is (Foto: Verskaf)

Inwoners van Kuruman is bekommerd oor ’n abattoir se bloed wat deur die plaaslike munisipaliteit in ’n veld by die dorp gestort word. Dié stuk veld vorm boonop deel van ’n plaaslike natuurreservaat.

Asof dit nie genoeg is nie, sukkel inwoners met rou riool wat in die strate afloop en voor hul huise opdam.

Buiten die reuk van die bloedwater en riool wat inwoners onderkry, is hulle bekommerd dat dit op die lange duur gesondheidsrisiko’s vir hulle kan inhou. Talle klagtes oor dié aangeleentheid is reeds by die Ga-Segonyana‑ plaaslike munisipaliteit ingedien, maar dit val blykbaar op dowe ore.

Volgens Braam van der Westhuizen, DA-wyksraadslid in Kuruman, betaal die betrokke abattoir die munisipaliteit ʼn maandelikse bedrag om die dierebloed uit hul tenks te pomp en te verwyder. Die eienaar van die abattoir het anoniem aan Maroela Media bevestig die munisipaliteit is verantwoordelik vir die verwydering van die bloed.

Van der Westhuizen sê die munisipaliteit pomp al byna ’n jaar lank die bloedwater in die veld wat op die grond van die plaaslike natuurreservaat geleë is. “Hulle het hier hul eie reservoir gemaak waarin hulle die bloedwater stort,” vertel Van der Westhuizen.

“Die munisipaliteit het in die verlede al die bloedwater sommer by die naaste mangate afgegooi.”

Buiten die reuk van die bloedwater en riool wat inwoners onderkry, is hulle bekommerd dat dit op die lange duur gesondheidsrisiko’s vir hulle kan inhou (Foto: Verskaf)

Van der Westhuizen sê die munisipaliteit is veronderstel om die bloed by ’n spesifieke verbrandingsoond uit te droog of uit te brand, maar beskik nie oor hierdie geriewe nie.

“Ons groot bekommernis is dat die bloedwater op die ou einde in ons drinkwater gaan beland. Die aanhoudende gestort van die bloedwater kan later in die grond afsyfer en in die ondergrondse are en boorgate beland.”

Slegs ’n paar meter van die veld waar die bloedwater gestort word, is die dorp se rioolplaas. Volgens Van der Westhuizen kan die rioolplaas nie die hoeveelheid rioolvuil hanteer nie en van dié rioolvuil word ook in ’n nabygeleë veld uitgepomp.

“As die oostewind waai, dan waai dit die stank van die bloedwater en rioolwater na die dorp toe.”

Van der Westhuizen sê die kwessie met die bloedwater is al by die Groen Skerpioene aangemeld en talle kere onder die munisipaliteit se aandag gebring.

AfriForum het ook aan die munisipaliteit ’n brief gerig waarin hy eis dat stappe gedoen moet word om die probleem op te los. Dié brief en verdere bewyse is ook aan die departement van omgewingsake se Groen Skerpioene gestuur om verdere ondersoek in te stel.

Tertius Whitehead, ’n jarelange inwoner van Kuruman wat oorkant die natuurreservaat woon waar die bloed gestort word, sê die stank is ondraaglik.

“Ons het net een dag die vrot reuk begin ruik. Ek het aanvanklik gedink dit is ’n dier wat in die veld gevrek het. Nou sit ons al amper ’n jaar met die reuk,” vertel Whitehead.

“Dit is vernederend wanneer ons gaste kry en dit stink só.”

Bloed én rioolvuil

Die rioolplaas kan glo nie die hoeveelheid rioolvuil hanteer nie en van dié rioolvuil word ook in ’n nabygeleë veld uitgepomp (Foto: Verskaf)

Rioolwater dam boonop voor Whitehead en talle ander inwoners in die dorp se huise op. Inwoners is raadop oor rou rioolwater wat vir jare al in die dorp se strate afloop.

Van der Westhuizen, wat op ’n stuk grond buite die dorp boer, vertel sy erf is toe onder die rioolwater. Altesaam 28 van sy skape het van die rioolvuil gevrek en hy was genoop om sy oorblywende skape te verkoop.

Pieter du Toit, ’n voormalige hoof van gesondheid by die munisipaliteit, sê die rioolwater hou ’n groot gesondheidsgevaar vir die inwoners in omdat dit ook by die boorgate kan invloei en só die dorp se drinkwater besoedel.

Inwoners is raadop oor rou rioolwater wat vir jare al in die dorp se strate afloop (Foto: Verskaf)

“Inwoners kan erg siek word. Van die rioolwater wat in die strate loop, is van die hospitaal afkomstig en ’n mens kan net dink watter siektes daar kan uitbreek indien dit in ons drinkwater beland,” sê Du Toit.

Du Toit woon al vir langer as 39 jaar op die dorp en sê dit is ’n hartseer prentjie om te sien hoe die munisipale dienste ten gronde gaan.

“Dit is net weer eens ’n bewys hoe die munisipaliteit se infrastruktuur nie onderhou word nie. En die probleem met die bloed wys ons hoe die munisipaliteit versuim om ’n basiese diens te lewer waarvoor hulle betaal word.”

Maroela Media het navraag aan die Ga-Segonyana‑ plaaslike munisipaliteit gerig, maar het tot dusver nog geen reaksie ontvang nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

10 Kommentare

jongste oudste gewildste
Wielspore

In kleiner dorpe is dit nie vreemd dat slagpale se diere bloed in spesifieke areas geplaas word om uit te droog vir latere gebruik. As kind op Thaba Nchu was daar so ‘n terrein waar bloed en beendere geplaas is vir uitdroging en latere gebruik. Ek het dit altyd bewonder om te sien watter voels aangetrek word na hierdie plekke.

Tiptol

O nee, dis vreeslik. Niemand kan so leef nie. Daar móét ‘n beter manier wees om van die bloed ontslae te raak. En dan loop die riool nog in die strate ook af. Onaanvaarbaar.

Pieter

Die malligheid met Covid is verregaande. Rioolprobleme is bykans in elk ANC beheerde munisipaliteit en ‘n bron van typhus, maagkoors, diaree, wurms, ens. wat baie mense kan besmet en laat sterf. Maar dit kry nie aandag nie.

Kokerboom

Raak ontslae van ANC en probleme is opgelos!

Johan

Ga ga skonyana,klink vir my onbewoonbaar…trek weg,dis ellendiger as 3de wêrelds…