Kommer oor talle nuwe Covid-19-gevalle in Noord-Kaapse skole

Daar is kommer oor die groot getal nuwe Covid-19-infeksies in Noord-Kaapse skole. (Argieffoto: Unsplash)

Daar is groot kommer oor ʼn skerp styging in Covid-19-infeksies in Noord-Kaapse skole in vergelyking met die voorafgaande drie weke.

Die provinsie se departement van onderwys sê minstens 526 nuwe Covid-19-gevalle, wat 54 onderwysers, 439 leerders en 33 steunpersoneellede insluit, is aangemeld.

Teen Saterdag is minstens agt skole in die provinsie gesluit sodat kontakopsporing en ontsmetting by die skole gedoen kon word.

Vyf van dié skole sal na verwagting Maandag weer heropen.

“Die pandemie veroorsaak groot ontwrigting in die onderwyssektor en die departement is diep bekommerd oor die verlies aan leer‑ en onderrigtyd,” lui ʼn verklaring van die departement.

Distrikskantore in die provinsie het sogenaamde leerplan-herwinningsprogramme ontwikkel vir dié skole wat regstreeks deur die pandemie geraak word en naweekklasse word aangebied om vanjaar se matriekklas te help.

“Dit plaas bykomende druk op ons onderwysers, leerders en steunpersoneel by skole wat moet verseker die verkorte leerplan word ten volle gedek en leerders is deeglik voorbereid vir die eindeksamen.”

Die departement sê skoolgemeenskappe speel ʼn belangrike rol om skole in verskillende gemeenskappe te ondersteun en hy het ʼn beroep op mense gedoen om Covid-19-regulasies na te kom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.