Kommer oor toename in plaasaanvalle in Addo

Argieffoto (Foto: tung256/Pixabay)

Die toenemende getal plaasaanvalle in die Addo-polisiëringsdistrik in die Oos-Kaap is ʼn kwessie wat dringend aangespreek moet word. Veertien van 74 plaasaanvalle die afgelope jaar het in dié gebied plaasgevind.

Bobby Stevenson, DA-LP, het gesê die rooi ligte flits al ʼn geruime tyd. “Vrydag se aanval word ten sterkste veroordeel,” het Stevenson gesê.

Maroela Media het vroeër berig twee persone is Vrydagaand beseer tydens ʼn gewapende rooftog by ʼn gastehuis op ʼn plaas buite Addo. Vyf gaste het omstreeks 20:35 in die braaigebied van die gastehuis gesit toe een van die gaste ʼn groep van vyf verdagtes opgemerk het. Die rowers het skote op hulle gevuur en twee van die gaste is beseer.

“Ek het verlede maand reeds deur ʼn parlementêre vraag my kommer uitgespreek oor die getal plaasaanvalle in die Addo-gebied,” het Stevenson bygevoeg. “Ek wou weet watter stappe die polisie doen om landelike veiligheid in die gebied op te skerp.”

In reaksie op Stevenson se vraag het LUR Weziwe Tikana Gxothiwe onthul dat plaasaanvalle in die gebied van nege in die 2018/19- finansiële jaar tot 14 in 2019/20 toegeneem het.

“Hierdie aanval is nóg ʼn waarskuwingsvlag van die toenemende gewelddadige misdaad in landelike gemeenskappe in die Oos-Kaap en benadruk die dringende behoefte dat die SAPD sy pogings moet verskerp oor landelike veiligheid en om kwesbare gemeenskappe te beskerm.”

Stevenson het gesê hy sal weer die kwessie met die provinsiale kommissaris aanroer. “Die polisie moet alles in sy vermoë doen om hierdie misdadigers aan te keer. Dit is onaanvaarbaar dat daar die afgelope twee jaar nie enige suksesvolle vervolgings was vir plaasaanvalle in die gebied nie, soos wat die LUR in sy antwoord bevestig het.”

Die Demokratiese Alliansie glo die volgende stappe moet gedoen word om landelike veiligheid op te skerp:

  • Gespesialiseerde eenhede wat daarop fokus om landelike gemeenskappe te beskerm
  • Verbeterde navorsing en statistiese inligting oor dié misdade
  • Verhoog die ondersoekende kapasiteit van die polisie en om alle beskikbare tegnologie (soos hommeltuie) te gebruik wanneer oortreders agtervolg word
  • Herklassifiseer plaasaanvalle as prioriteitsmisdade sodat meer hulpbronne beskikbaar gemaak kan word om dit te hanteer
  • Belastingverligting vir diegene in landelike gebiede, soos boere, wat privaat sekuriteitsmaatskappye moet betaal en subsidies vir plaaspatrollies, plaaswagte en maatskappye wat sekuriteit in landelike gebiede verskaf
  • Vergroot misdaadintelligensie-kapasiteit vir landelike gebiede
  • Verbeter grensveiligheid

“Ek benadruk my versoek vir ʼn beraad oor landelike veiligheid in die Oos-Kaap. Ons moet lewens beskerm. Dit sluit voedselsekuriteit en toerisme in,” het Stevenson gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Persheks Adri ·

Ons is absoluut nêrens veilig nie! Dra julle wapens en wees paraat ten alle tye en gebruik jou wapen! Dis nie ‘n wit olifant wat in die kluis moet lê nie. Ons almal is sitting ducks op die stadium

Sonia ·

By die lys moet gevoeg word Julius Malema en sy maters moet uit die samelewing verwyder word

Cecilia ·

Mens kan nie eers in vrede ontspan op n Vakansie bestemming nie!
Kry on SAW soldate terug uit d buiteland en laat hulle begin met beveiliging. Dis mos nou maar tipies vd SA. Stuur ons soldate om ander lande se burgers te gaan beskerm terwyl ons belastingbetalers uitgemoor word. Bring d SAW terug. Laat d ander Afrika lande hul eie gemors uitsorteer.

Werner ·

Wel as ons Sien hoe knus ou malema en cele langs mekaar in die hof gesit het Vrydag ,sou ek se maak julle maar reg vir nog baie aanvalle

Jannie van Niekerk ·

Ou Hoedjie Cele sal sorg dat niks gebeur nie want hy en sy boesemvriend, die Mal Onderkorporaal van die Rooi teletubbies ontken mos plaasmoorde.

Dries ·

Ek hou van daardie 2de punt, oor die statistieke. Want as jy ‘n ordentlike analise doen, en geen vooroordele het nie, sal jy verbaas wees om te sien hoe die eindresultate ooreenstem met spesifieke sterftes elders in die wereld, waaroor ‘n baie groter bohaai gemaak word deur die media en ‘aktiviste’. Ek bly verstom hoe ons erkenning moet gee aan ‘sekere’ sterftes en misdade, maar dieselfde mense wat hierdie eise stel, is dan vinnig om te veralgemeen: “Plaasmoorde is maar net nog deel van misdaad. Wat van ander sterftes?”
My siel raak rerig moeg vir hierdie tipe redenasies.

Sanet ·

Meer mense word vermoor, vermink en vir dood agter gelaat as wat die sogenaamde virus doen in Suid Afrrika.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.