Kommer oor toename in waterverbruik in Kaapstad

Foto verskaf deur LekkeSlaap

Die Stad Kaapstad het Maandag sy bekommernis uitgespreek oor ’n skielike toename in waterverbruik.

Volgens ’n verklaring deur Ian Neilson, die stad se adjunk-burgemeester, het die Moederstad se waterverbruik oor die afgelope wintermaande van 505 miljoen liter per dag na 519 miljoen liter gestyg.

Nelson bevestig dat Augustus ’n uitdagende maand vir Kaapstad is, met sommige gebiede wat net ’n kwart of hoogstens ’n derde van die gebiede se langtermyn- gemiddelde reënval ontvang. Dié tekort aan reënval het ’n einde gebring aan die welkome blaaskans wat Kaapstadse damme aan die begin van die winter beleef het.

“Oor die afgelope paar weke is reënval onder die verwagte gemiddeld en dit het die herstel van die damme wat water aan Kaapstad verskaf drasties vertraag,” sê Nelson.

Nelson bevestig dat die Moederstad steeds in ’n beter posisie is ten opsigte van waterverbruik wat rondom die 500 miljoen liter per dag is teenoor verlede jaar se waterverbruik van 608 miljoen liter per dag. Damvlakke het teen verlede jaar op ’n skamele 31,9% gelê.

Hy bevestig dat waterbeperkings en gepaardgaande tariewe beslis help om water te bespaar.

Die stad het daarom ’n beroep op inwoners gedoen om voort te gaan met waterbesparing om sodoende die lading op die stad se reeds sukkelende damstelsel te verlig. Inwoners word aangemoedig om die water in die damme te spaar sodat die stad “’n buffer het vir die warm somermaande wat voorlê,” sê Nelson.

Volgens die verklaring sal waterbeperkings en watertariewe steeds geld totdat die Nasionale Departement van Water en Sanitasie kan bevestig dat die stad se waterkrisis onder beheer is.

Foto verskaf deur LekkeSlaap

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Anoniem ·

Wees ferm met elke persoon in die Kaap moenie vir sommige voorkeur behandeling gee nie, ‘DAG ZERO’ is nou hier !

Sê maar net ·

Ferm is hulle wel, las nou by elke Munisipale rekening ‘n bedrag wat jy moet opdok, net sodat jy beskikbaarheid het. Ons gebruik glad nie eers meer die munisipale water nie, het reënwater gekoppel aan huis. Hier is te veel mense en te min infrastruktuur. Te veel mense wat glad nie betaal nie, maar water gebruik soos hulle wil. So, ek wonder maar net

corne ·

Wie wil geldmaak uit kaapstad se water tekort?Mens hoor net aldag van stad kaapstad se water het iemand al gekyk na PE se watertekort??? Nepson Mandela bay sit al water af seker tye van die dag maar hoor bitter min daaroor hoekom want da nie iemand wat wil geldmaak uit die storie nie

Stuiwer ·

Wat het geword van al die planne vir addisionele waterbronne: ontsoutingsaanlegte, boorgate, ens.? Seker ook nou opsygeskuif weens die hoër damvlakke?

Nettie ·

Nou ja, dan moet julle maar wéér “D-Dag” afkondig in die Kaap – dit het laaskeer gewerk ……

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.