Kommer oor toenemende aanvalle op paramedici

‘n Rescue Care-ambulans.

ʼn Toename in aanvalle op nooddienste kan veroorsaak dat onskuldige mense in werklike mediese noodgevalle omkom omdat paramedici vir hul lewens vrees. Só meen private speurder Mike Bolhuis oor rooftogte en aanvalle op nooddienste en paramedici wat die afgelope jaar toegeneem het.

Volgens Bolhuis is sowat 30 aanvalle op nooddienste is die laaste ses maande in die land aangemeld.

Die verskynsel het verlede jaar in Johannesburg, KwaZulu-Natal en Kaapstad begin kop uitsteek.

Soos vroeër berig, is ʼn paramedikus in Julie verlede jaar deur sowat 50 ontstoke gemeenskapslede in die Empilisweni- informele nedersetting in Tokoza getakel. ʼn Week later is nog twee paramedici in Port Elizabeth met vuurwapens aangeval.

“Hoëmisdaadgebiede wat veral geteiken word, is Alexandra, Johannesburg-Sentraal, Cosmo City, Matholeville en Doornkop,” sê Bolhuis.

“Daar is veral ʼn toename in paramedici wat beroof word en ambulanse wat beskadig word wanneer op ʼn noodgeval gereageer word.”

Volgens Bolhuis is sosio-ekonomiese faktore, soos hoë werkloosheid en desperaatheid van mense om te probeer oorleef, die grootste oorsaak van misdrywe soos die kaping en roof van ambulanse. Hy sê aanvallers sal gewoonlik persoonlike besittings van paramedici, duur mediese toerusting of medikasie steel en verkoop. Dwelmverslaafdes wat ambulanse vir medikasie beroof, is ook ʼn verskynsel wat gereeld kop uitsteek.

“Hierdie misdade is gewoonlik goed deurdink. Paramedici sal op ernstige mediese noodgevalle reageer en dan beroof word. Aanvallers sal nooddienste ontbied en in ʼn lokval lei. Partykeer sal hulle iemand in die middel van die pad laat lê en dan só die paramedici dwing om te stop.”

Bolhuis sê in informele nedersettings is straatname en adresse nie altyd behoorlik sigbaar nie. In sekere gebiede is straatligte buite werking en só word paramedici se lewens ook in gevaar gestel.

Volgens Bolhuis kan aanvalle ook aan bendegeweld gekoppel word.

Gevalle is al aangemeld waar gesinne in rou paramedici persoonlik teiken omdat hulle voel paramedici moet aanspreeklik gehou word vir die dood van hul geliefdes.

“Van die aanvalle op paramedici is geweldadig en kan baie trauma in hul lewens veroorsaak.”

Bolhuis stel voor ambulanse moet vanaf 22:00 tot 06:00 deur polisievoertuie vergesel word, veral in hoëmisdaadgebiede. Hy sê noodpersoneel moet toegelaat word om vuurwapens op hulle te dra en alle paramedici moet toegang tot ʼn paniekknoppie in die ambulanse hê. “Die polisie en die gemeenskap moet saamwerk om sulke kriminele aktiwiteite te bekamp.

“Ons doen ʼn beroep op die publiek om te onthou dat paramedici en mediese personeel hier is om ons te help. Die toename in dié aanvalle is ʼn aanduiding van die gebrek aan respek vir mense se lewens in ons land.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Hoe nou.. ·

Miskien sal Minister Cele sy _SAPS VIP Protection Unit_ stuur om hul te vergesel, aangesien hy nie wil hê die wetsgehoorsame publiek moet vuurwapens besit nie….
Paramedici sal vinnig en veilig by die noodgeval kan uitkom.

toy ·

Daar gaan ‘n dag kom dat die wat paramedics so aanval, hulle self nog ‘n ambulans dalk nodig gaan he, en wat dan as daar nie hulp is vir hulle nie.

George in Bloem ·

Die misdadige element in hierdie land het absolute geen respek vir niks of niemand nie en het net respek vir geweld want dis al taal wat hy mooi verstaan. Diegene in beheer moet plan maak om hulle reg te sien of permanent uit die samelewing te verwyder.

Johanna Botha ·

Hulle soek die toerustig en die drugs ….nerens in die wereld gaan dit so !

CK ·

Nee jy het dit verkeerd, dit gaan orals in die wêreld so met ambulaansdienste. Jy hoor net nie daarvan in die nuus nie. Ek het baie pelle wat versprei is oor die aarde wat dit vir ons vertel

Nico ·

Dis wratig die enigste land in die wereld waar ek nog van die tipe misdaad gehoor het. Dis net eenvoudig te erg. Dit is seker die naaste vergelyking met Anargie wat daar kán wees.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.