Kommer oor veiligheid in hospitale

Argieffoto

Die VF Plus is besorg oor die veiligheid van pasiënte in hospitale na die dood van ʼn sesjarige seun, Karabo Thankanyane, tydens ʼn bendeaanval in die Carletonville-staatshospitaal in Gauteng.

Die monitor van die ventilator waaraan Karabo in die hospitaal se ongevalle-eenheid gekoppel was, is ten tyde van die voorval ontkoppel. Van die hospitaalpersoneel is beseer, het Ben van der Berg, VF Plus-raadslid, in ʼn verklaring gesê.

“Dit is skokkend dat bendes by ʼn lewensnoodsaaklike instelling kan instorm waar faksies mekaar met bakstene, messe en pangas aanval. Die geweld is eers ná twee ure in bedwang gebring toe die hospitaalbestuurder versterkte sekuriteit ingeroep het, en die polisie opgedaag het,” het Van der Berg verduidelik.

Die VF Plus dring daarop aan dat dié hospitaal veiligheidsmaatreëls instel om soortgelyke gebeure in die toekoms te verhoed en sal die saak op provinsiale vlak met die polisie opneem.

Die VF Plus vra ook dat die Carletonville-polisie die saak as dringend sal hanteer en ondersoek. Die bendelede wat verantwoordelik is, moet spoedig tot verantwoording geroep word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Adri ·

Wonderlik! En nou dat die VF+ gepraat het, gaan die regering spring! Regtig?

A2 ·

Regtig A3? “wonderlik” word groot toe, dié raak jou mos nie, so jy gee net nie om dat n kind dood is nie.

Ja wohl ·

Hoekom skenk die VF+ nie aandag aan plaasmoorde nie, nou word die veiligheid van bendelede en hulle kinders voorop gestel? Hoeveel kinders is nie al op plase saam met hulle ouers vermoor nie? BENDEGEWELD is ‘n ander storie, VF+ julle is bietjie lig in die broek vir daardie een, nie eers die polisie sien kans vir bendegeweld nie …Niemand gaan ongelukkig vir julle luister nie, maar dankie dat julle probeer het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.