Kommer oor veiligheid in Wes-Kaap reservate

Silvermine-dam (Foto: Kaapstad Toerisme)

Daar het oor die afgelope 12 maande minstens 85 aanvalle in SANParke-gebiede in die Wes-Kaap plaasgevind.

DA-LPW Mirreille Wenger, voorsitter van die parlement se staande komitee oor gemeenskapsveiligheid, het in ʼn verklaring gesê dié skoksyfers het verlede maand voor die parlement se komitee oor toerisme aan die lig gekom.

Wenger het gesê die DA eis dat die veiligheid van meer as vyf miljoen jaarlikse besoekers aan die SANParke-omgewings verseker word.

“In my hoedanigheid as voorsitter van die staande komitee oor gemeenskapsveiligheid het ek aan SANParke se Wes-Kaapse streeksbestuurder geskryf en vir meer inligting gevra oor planne om die kwessie van misdaad in die omgewings wat onder SANParke se verantwoordelikheid val aan te spreek,” het Wenger gesê.

Sy het gesê slegs in die Kaapse metropolitaanse gebied het daar verskeie misdaadvoorvalle plaasgevind, insluitend nege stappers wat in die berge bokant Kalkbaai (in die Silwermyn-natuurreservaat) aangeval is, ʼn man wat op die berg by Muizenberg vermoor is terwyl hy saam met sy vrou gestap het en ʼn gesin wat aangeval is terwyl hulle op Noordhoek-strand gestap het.

“Inwoners moet verseker wees dat daar genoegsame maatreëls in plek is om die kwessie van misdaad in nasionale parke en natuurreservate aan te spreek. Ons is geseën met ʼn oorvloed van natuurlike reservate wat inwoners moet kan geniet sonder enige vrees om slagoffers van misdaad te word.

“Vir ons nasionale parke om suksesvol te wees, is dit noodsaaklik dat omgewings beskerm word. Ons vertrou dat SANParke gehoor sal gee aan ons beroep vir die Wes-Kaap en ons provinsie sal bystaan waar dit nodig is om misdaad te beveg en veiliger natuurlike omgewings te skep,” het Wenger gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

PJC ·

Weens die omvang van misdaad in SA en die regering se kroniese geld tekort dink ek nie die owerhede sal veel aan die situasie doen nie. Die enigste oplossing is dat die publiek meer veiligheidsbewus word en begin om na hul eie veiligheid om te sie.

Lollie ·

Hoekom is DIT ń kommer? Misdaad in die hele land is kommerwekkend! Is dit dalk omdat buitelandse toeriste meer daarvan gebruik maak en hulle meestal daaronder ly?
Die regering moet hulle meer toespits om die land vir ALMAL veilig te kry sodat almal die land kan verken en geniet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.