Kommer oor veiligheid van GPS-horlosies vir kinders  

Verskeie organisasies het wêreldwyd al hulle kommer uitgespreek oor GPS-slimhorlosies vir kinders. Foto: TechCrunch.com

ʼn Gesin van Pretoria-Oos het ʼn nare ondervinding gehad met ʼn slimtoestel wat veronderstel is om te help om hul kinders veilig te hou.

Estelle Rodrigues sê die gesin het verlede naweek ontslae geraak van hul sewejarige dogtertjie se GPS-horlosie, nadat ʼn vreemde stem skielik op dié slimhorlosie onder meer vir hul dogter gevra het wat haar naam is.

“Ek het GPS-horlosies vir my kinders van drie, vyf en sewe aangeskaf omdat ons op ʼn veiligheidslandgoed bly en my kinders graag fiets ry. So weet ek altyd waar hulle is, en kan ek ook seker maak hulle ry nie sommer by ons landgoed se hekke uit nie,” sê Rodrigues.

Dit was vir die Rodrigues-gesin ook ʼn goeie manier om met hul oudste kind te kommunikeer sonder om haar op ʼn jong ouderdom aan slimfone bloot te stel.

“Dit was my dogtertjie se tweede GPS-horlosie en sy het die nuwe een nog net ʼn week lank gehad,” sê Rodrigues.

Haar dogtertjie het dié naweek by ʼn maatjie gaan oorslaap en sy het die GPS-horlosie saamgestuur omdat haar dogtertjie maklik met haar deur middel van die horlosie kan kommunikeer.

“Die maatjie het Saterdag vir my vertel iemand het met my dogter probeer praat deur die horlosie. Ek het eers gedink dit was ek, en hulle het dalk nie my stem herken nie, maar op daardie oomblik het die horlosie gepiep en die vreemde stem het weer gepraat.”

Rodrigues het Sondag ʼn video gemaak van die vreemde stemboodskap.

Sy het die vervaardigers van die horlosie gekontak om uit te vind of hulle al voorheen klagtes oor soortgelyke gevalle gehad het. “Hulle het gesê dit het al een maal vantevore gebeur, maar dit was omdat dié betrokke horlosie se IME-nommer deurmekaar geraak met ʼn ander slimfoon wat vir herstel ingestuur is. Hulle het aangebied om my terug te betaal vir die horlosie, maar ons het die aanbod van die hand gewys omdat ons van die toestel ontslae geraak het.”

Rodrigues sê sy was geskok om uit te vind daar is eintlik geen regulasies wat die apps op dié soort horlosies vir kinders reguleer nie.

“Niemand maak jou bewus van die veiligheidsrisiko’s van hierdie toestelle nie. Die meeste van hierdie horlosies gebruik ʼn ‘SE-tracker’-app en kuberkrakers kan maklik toegang tot die data op dié horlosies kry.

“ʼn Misdadiger kan ook toegang kry tot jou kind se GPS-ligging en selfs valse inligting aan ouers stuur oor hul kinders se ligging,” sê Rodrigues.

Foto ter illustrasie. Foto: Den1979/Pixabay.com

ʼn Noorweegse verslag het al in 2017 ʼn waarskuwing bevat oor die GPS-horlosies vir kinders. Die Noorweegse verbruikersraad het in dié jaar vier van die horlosies getoets en bevind drie daarvan voldoen nie aan enige basiese veiligheidsmaatreëls nie.

Die verslag het bevind die horlosies kan data lek wat vreemdelinge in staat stel om persoonlik inligting van ʼn kind te kry. Kuberkrakers kan ook die kind sonder ʼn ouer se medewete kontak.

Finn Myrstad, direkteur van digitale beleid by dié verbruikersraad, het aan CBS gesê dit was ontstellend maklik om die sekuriteitsmaatreëls op die horlosies te omseil.

Die BBC berig dat Duitsland in November 2017 selfs ʼn stap verder gegaan het en ʼn verbod op die verkope van slimhorlosies vir kinders geplaas. Die land se reguleerder het die horlosies as “spioenasietoestelle” beskryf.

Independent.co.uk het in Desember berig dat navorsers by die kuberveiligheidorganisasie Rapid7 sê verskeie slimhorlosies vir kinders op Amazon het ernstige sekuriteitsfoute.

Luidens die berig kan kuberkrakers die horlosie se stemkletsfunksies oorneem om direk met die draer van die horlosie te praat.

Ouers en verskeie internasionale verbruikerswaghonde het al hul kommer uitgespreek oor speelgoed wat aan die internet gekoppel is, apps vir kinders en selfs baba-monitors.

Watchful Dad, ʼn blogger wat veiligheidstoestelle vir kinders resenseer, is egter van mening ouers kan steeds GPS-slimhorlosies vir kinders uittoets.

“Ek dink nie dit is die slimhorlosies wat so gevaarlik is nie, maar wel eerder die manier waarop ouers dit gebruik. ʼn GPS-horlosie kan nooit ʼn volwassene se oordeel of toesig vervang nie en dit is beslis nie ʼn kinderoppasser nie.

“ʼn GPS-horlosie is vir my ʼn manier om met my kind in verbinding te bly en bied ook ʼn ekstra laag sekuriteit, want ek weet waar hulle is.

“GPS-tegnologie is reeds algemeen in gebruik in ons lewens en in baie situasies is dit nuttig. Wat as dit my kan help om my kind te vind as hy ooit verdwaal? Na my mening is dit ʼn klein prys vir gemoedsrus.”

Nicholas Thompson, die redakteur van Wired, het in ʼn onderhoud met CBS gesê al meer mense gee hul privaatheid prys vir gemak en innovasie in die era van kunsmatige intelligensie (KI). “KI is afhanklik van data om beter te funksioneer en ons kan die data kry as soveel moontlik inligting van kliënte versamel word.”

  • Laat weet Maroela Media wat jy van GPS en slimhorlosies vir kinders dink in die kommentaarafdeling. Is dit goed of sleg, en wat dink jy van die veiligheidsrisiko’s verbonde hieraan?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Gene ·

Ons seuntjie het n Polaroid soos in jul foto’s en nou is ek nogal bekommerd. Ons gebruik dit wel net in gevalle waar dit nodig sou wees, en juis omdat ons nie wil he ons kinders moet selfone he nie…

Leeuwyfie ·

Ek is dankbaar dat ons nou ook meer inligting oor dit kry. Ek was glad nie bewus van dit nie. Dis baie kommerwekkend. Die persoon wat sê mense gee nou al te graag hul privaatheid prys vir veiligheid.
Ons doen dit verseker nie doelbewus nie. Ons wil juis ons privaatheid beskerm, en dan vertrou ons dat die mense wat hierdie apps aan ons verskaf ook ons privaatheid beskerm. Lyk my ons is baie naïef. Waar vind mens uit wat is die beste uitweg?
Ek is glad nie eers op sosiale media nie, juis oor ek my privaatheid so hoog ag.
Watse apps kan ons dan gebruik wat nie jou data versamel nie?
Dis eintlik skrikwekkend.

Wonder net ·

My meisiekind het dieselfde Polaroid. En juis omdat hy met n simkaart werk, kan enige iemand dit eintlik bel. Hulle doen n random call met random nommers. My meisiekind het selfs iemand gehad wat aanhoudend na haar selfoon whatsapps gestuur her. Gelukkig weet sy sy mag niemand anteoord as hulle nie op haar contacts is nie en sy moet my wys. Nadat ons die nommer geblock het op whatsapp het hy begin sms en toe het ons hom heeltemal geblok by vodacom. Die tegnologie wat veronderstel is om hulle veiligheid te verseker, is ook nie goed wat hulle blootstel aan die gevare daarbuite.

Phoenix ·

Dit is werklik baie kommerwekkend! Ek het juis eerder só een vir my kind aangeskaf om die risiko van ‘n selfoon uit te skakel… Met alles wat in ons wêreld aangaan wil mens as ouer tog ‘n sekere mate van gemoedsrus hê dat jou kind met jou kan kommunikeer as hulp dringend nodig is.
Die vraag is nou, is alle KI toestelle ewe hoë risiko? Is daar wérklik ‘n manier om jou kinders se veiligheid te probeer verseker? Wat is die “veiligste” opsie tussen ‘n “slim horlosie”, ‘n gps horlosie of ‘n selfoon? Of moet ons maar terugkeer na die tye wat sulke toestelle nie beskikbaar was nie en eerder net op genade staatmaak?

Vriendelike Frikkie ·

Ek lees en kyk na die probleme wat gerapporteer word en dis baie maklik om te verklaar wat aangaan. Selfoon nommers word hergebruik sodra die rekening weens een of ander rede gesluit word. Die sim is nuut maar die nommer nie. Afhangend wie die ou nommer gehad het kan die nuwe gebruiker van die nommer daaglikse dreig smse ontvang, vreemde oproepe of niks nie. Omtrent elke nuwe nommer wat ek onlangs gekry het kry gereelde “please call me” versoeke. Dis gladnie sinistêr om ‘n stem oproep van ‘n vreemde persoon op die horlosie te kry nie. Hy soek maar net na die vorige eienaar van die nommer.

Mavan4 ·

Ek dink nie jy verstaan hoe die toestel werk nie. Enige persoon kan nie die horlosie skakel nie. Jy gebruik ‘n app, waarop jy tot 10 nommers “toestemming” gee om die nommer te kan skakel. Jy kan ook nie van jou selfoon af’ n voice note los soos wat jy ‘n voicemail los nie – jy kan slegs deur die app vir haar boodskappies en voice notes stuur. Die ma kan ook na die hele geskiedenis van voice notes en boodskappies van alle persone kyk op die app, maar daardie voice notes was nerens te vinde nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.