Kommer oor ‘verdagte’ voorvalle by Transnet

 ʼn Brand het Dinsdagoggend op die luukse Bloutrein uitgebreek het waar dit tans herstel word. (Foto: The Blue Train/Facebook)

Die vervoervakbond Untu sê hy is diep bekommerd oor ’n “string kwaadwillige voorvalle” waartydens Transnet se infrastruktuur oor die afgelope twee jaar skade gely het.

Dít volg nadat ʼn brand Dinsdagoggend op die luukse Bloutrein uitgebreek het.

Die trein is by die maatskappy se fasiliteit in Koedoespoort in Gauteng waar herstelwerk gedoen word.

John Pereira, waarnemende hoofsekretaris van Untu, sê volgens die inligting wat die vakbond ontvang het, het kabeldiewe glo ’n lewendige elektriese kabel van die treinwa gesteel waar dit gestaan ​​het. Dit het vonke veroorsaak wat tot ’n brand gelei het. Slegs een treinwa is beskadig.

Pereira het sy bekommernisse tydens ʼn vergadering oor die voorval met Transnet se bestuur gedeel.

Transnet het die afgelope twee jaar ongekende misdaad en sabotasie van sy infrastruktuur in al sy operasionele afdelings ervaar. Dit het dié staatsonderneming, wat voorheen finansieel volhoubaar was, in ’n kontantvloeikrisis gedompel.

“Untu glo Transnet is noodsaaklik vir die ekonomiese groei van Suid-Afrika. Ons het in die verlede herhaaldelik ’n beroep op die regering gedoen om Transnet en sy bates tot nasionale sleutelpunte te verklaar sodat dit die broodnodige beskerming kan geniet wat dit behoort te geniet. Tans word slegs sommige van die infrastruktuur van Transnet-pypleidings tot nasionale sleutelpunte verklaar.”

Pereira meen drastiese maatreëls is nodig om Transnet te herstel, nadat dit tussen 2008 en 2018 die episentrum van staatskaping was.

Luidens ’n verslag deur die Zondo-kommissie na staatskaping het 72% van kontrakte wat met staatskaping verband hou, by Transnet ontstaan. Daar word ook aanbeveel dat die voormalige hoofde van Transnet, Brian Molefe en Siyabonga Gama, sowel as die voormalige finansiële beampte Anoj Singh, krimineel vervolg word vir klagtes wat korrupsie, rampokkery en nalatigheid insluit.

“Die staatsonderneming het R41,2 miljard se onreëlmatige tenders toegeken aan maatskappye wat bande met die Gupta-familie gehad het. Transnet het ook R60 miljard se kontrakte betaal om Chinese vervaardigers onregverdig te bevoordeel,” sê Pereira.

Hy doen nou ʼn beroep op enige Untu-lid met inligting oor die vlaag voorvalle, om dit direk aan Untu te stuur alvorens dit elders versprei word.

“Transnet-werknemers word toegelaat om met hul vakbondverteenwoordigers te praat. Hulle mag nie met die media praat nie. Indien sodanige werknemer daarvan aangekla word dat hy die werkgewer in oneer bring deur die publikasie van foto’s op sosiale media of enige ander platform, kan dit daartoe lei dat die werknemer ontslaan word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

15 Kommentare

jongste oudste gewildste
Junior

Snaaks dis net na zondo verskag

Casper

Dit kom neer op ekonomiese sabotasie en dit kan voor die deur gelê word van voormalige hoofde.

Suzette

Brand en breek – viva cANCer

Diline

Skep nog ‘n kommissie om hierdie ondersoek te hanteer soos met die res van die land se probleme! Transnet bestaan lankal nie meer in SA nie – Kom hulle dit nou eers agter? Alle spoorlyne, treine en stasies is lankal vernietig. Taxi verenigings soek in elk geval geen treine of busdienste in die land nie. Dis hulle brood en botter en floreer in die bedryf.

Desiré

R101.2 miljard, eintlik is ons ń skatryk land. En hierdie is net die puntjie van ń ysberg.