Kommer oor ‘verkeerde’ vuurwapens vernietig kan word  

Die Wes-Kaapse polisie het op verskeie onwettige vuurwapens beslag gelê. (Foto: SA Polisie)

AfriForum is bekommerd dat vuurwapens wat tydens die amnestietydperk ingehandig is vir bewaring terwyl eienaars weer aansoek doen om hul lisensies, moontlik verkeerdelik vernietig kan word. Vuurwapeneienaars wat van die amnestietydperk gebruik maak om heraansoeke in te dien, word gemaan om seker te maak dat hul vuurwapens nie deel is van die lys van vuurwapens wat vernietig word nie.

Dit volg nadat genl. Khehla Sitole, nasionale polisiekommissaris, in ’n kennisgewing in die Staatskoerant van 13 Mei bevestig het dat wapens, ammunisie en wapenonderdele wat vrywillig ingehandig is of wat aan die staat verbeur verklaar is, vernietig sal word. Volgens die SAPD se webwerf sal die vernietiging van dié vuurwapens, ammunisie en onderdele op 25 Junie plaasvind.

Ingevolge die vuurwapenamnestietydperk, wat tot 31 Mei van krag is, kan vuurwapeneienaars hul vuurwapens by hul naaste polisiekantoor inhandig indien hulle van die vuurwapens ontslae wil raak. Dit sluit ongelisensieerde vuurwapens in en die eienaar van die wapen sal nie vervolg word omdat hy ’n ongelisensieerde wapen in sy besit het nie. Eienaars wat van die amnestieperiode gebruik maak, kan ook binne 14 dae nadat die wapen ingehandig is van voor af aansoek doen vir ’n lisensie. Die wapen word dan by die SAPD gehou terwyl die aansoek oorweeg word. Indien die aansoek suksesvol is, kan die eienaar weer die wapen gaan afhaal. Die heraansoekproses vir lisensies is egter verleng, omdat lisensiekantore nie tydens die tydperk van afsondering oop is nie.

“Dit is ’n reusebeslommernis om, veral in dié tyd, aansoek te doen vir ’n vuurwapenlisensie. Dit sal ’n hartseer dag wees as ’n persoon aansoek doen vir ’n vuurwapen, die geld betaal en die administrasie deurgaan om die lisensie te bekom, net om later uit te vind die vuurwapen is per abuis vernietig,” sê Marnus Kamfer, AfriForum se regs-en-risikobestuurder vir gemeenskapsveiligheid.

Vuurwapeneienaars wat hierdeur geraak word, word versoek om die polisie se webtuiste te besoek om seker te maak die wapens waarvoor hulle aansoek doen, is nie ingesluit by die lys van wapens wat vernietig word nie. Indien ’n vuurwapen verkeerdelik op die lys verskyn, moet die voornemende eienaar binne 21 dae (bereken van 13 Mei) ’n e-pos stuur na [email protected] om die SAPD daarvan in te lig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Pieter J ·

Die ANC raak al hoe ernstiger om ons te ontwapen. Dit laat ń mens wonder wat skuil agter dit.

JohanEtz ·

Server Error

404 – File or directory not found.
The resource you

Megan Swart ·

Dagsê JohanEtz
Die skakel was inderdaad foutief. Dit is gewysig en behoort nou te werk.
Dankie! Groetnis
Megan
nms Maroela Media

Piet parys ·

Dis om nou weer die groenlig vir misdadigers te gee waar om wapens te kry want ons weet die polisie is onbevoeg om enige wapenregister te bestuur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.