Kommer oor vertragings by hawens

(Foto: Untu)

Die vervoervakbond Untu sê hy is uiters bekommerd deur die waarskuwing deur die Sitruskwekersvereniging dat Transnet sy status as die poort na Afrika kan verloor weens voortdurende vertragings by die land se hawens.

Justin Chadwick, uitvoerende hoof van die organisasie, het gesê Suid-Afrika het ʼn uitstekende reputasie in die mark opgebou. Dit word grootliks toegeskryf aan die navorsing en tegnologie wat hier gebruik word vir die manier waarop vrugte geproduseer, verpak en vervoer word, asook die hoë vlak wat produsente en verpakkers handhaaf – en die land se uitstekende logistiek.

“Ongelukkig het die afgelope twee jaar ʼn negatiewe uitwerking op dié goeie naam gehad,” het Chadwick gesê.

Volgens hom het probleme in die Oos-Kaap verlede jaar veroorsaak dat vrugte die mark in ʼn uiters slegte toestand bereik het. Die afgelope jaar het dieselfde probleem by die Kaapstad-hawe kop uitgesteek en sommige vrugte het die mark eers twee maande later bereik.

“Ons moet verseker dat ons goeie naam beskerm word, want dit is moeilik om dit weer terug te kry. Die afgelope twee jaar se vertoning het ook beteken dat uitvoerders na alternatiewe hawens kyk. Ons is bewus van beduidende beleggings in die Maputo- en Walvisbaai-hawe. In die geval van Maputo is dit nader aan die noordelike sitrusproduserende streke as Durban. As die pad-, spoor- en grenspos gepak word, is daar die gevaar dat uitvoerders van vrugte uit die noorde na daardie hawe kan oorslaan – wat skadelik vir werksgeleenthede in Suid-Afrika kan wees.”

(Argieffoto: Hennie de Beer/Vaalbostrust-boerdery)

Chadwick het gesê Durban word lank reeds voorgehou as die poort na suidelike Afrika. “Die status word bedreig tensy hawedoeltreffendheid verbeter en opeenhopings uit die weg geruim word,” het hy gewaarsku.

Steve Harris, algemene sekretaris van Untu, sê die bedryf het rede tot frustrasie. Hy sê Michelle Phillips, die voormalige waarnemende uitvoerende hoof van Transnet-haweterminale (TPT), het die bedryf verlede jaar beloof dat agterstande binne nege maande uitgewis gaan word nadat twee mobiele hawehyskrane aangekoop is.

“Dit het ʼn onrealistiese verwagting geskep. Die twee hyskrane ter waarde van R80 miljoen het in April vanjaar aangekom. Phillips het egter nooit in ag geneem dat haar werkers nie opgelei is om dit te bedryf nie. Hulle het opleiding deur die Maritieme Skool vir Uitnemendheid ontvang toe die Covid-19-pandemie uitgebreek het en die skool gesluit moes word,” het Harris gesê.

Hy sê die hawens ondervind enorme probleme met die instandhouding en verkryging van onderdele vir die hyskrane. Hy sê ook dat Transnet nou die prys betaal omdat hy nie verseker het dat poste op verskillende vlakke van hawebestuur gevul word nie en jare lank werkers in hierdie ampte laat waarneem.

Velile Dube is in Julie vanjaar as die uitvoerende hoof van TPT aangestel en het uit die staanspoor die krisis by die Kaapstad-vraghouerterminaal – wat reeds deur die Covid-19-pandemie geraak is – geërf.

“Die meerderheid van Transnet-werkers in die Wes-Kaap wat die infeksie opgedoen het, het op die hawens gewerk. Hulle is regdeur die afsonderingstydperk blootgestel omdat hulle tot noodsaaklike werkers verklaar is.

“Dit was die perfekte storm. Werkers in bedryf- en instandhoudingspanne het dieselfde tyd siek geword of in self-isolasie gegaan. Hulle moes werk met toerusting wat tekort geskiet het weens die dekade van staatskaping,” sê Harris.

Untu sê dit het in Julie 2017 aan die lig gekom dat miljoene rande aan Gupta-maatskappye betaal is nadat Transnet aan hulle ʼn kontrak toegeken het om hyskrane aan Suid-Afrikaanse hawens te verskaf.

“Sedertdien het Transnet nog nie woord gerep oor die kontrakte of enige ondersoek daarna nie en niemand is nog in hegtenis geneem nie,” sê Harris.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

4ntj13 ·

Nou hoe kan mens die nuwe bestuurder jammer kry wat daar instap sonder enige kennis of plan? Ek sou eerder sê dit maak die probleem duidelik: geen opgeleide bestuurslede…

Jakes ·

Produktiwiteit in die Durban se hawe is lankal nie na wense nie en die enigste rede daarvoor is onbevoegdheid van bestuur en n gebrek aan goeie beplanning en beheer.

Moedeloos ·

Ja nee die Guptas se vingers was baie lank. Opleiding is lankal nie meer die orde van die dag nie. Solank jy uit die agtergebleme omgewing kom is die joppie joune.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.