Kommer oor Volksblad wat dalk afskaal

Volksblad_(S.A)Gerugte dat Media24 sy noordelike dagblad Beeld na die binneland wil uitbrei en die plaaslike dagblad Volksblad wil afskaal, is met kommer begroet.

Tussen Volksblad, Beeld en die suidelike Burger was Volksblad die enigste dagblad wat in die vorige boekjaar ’n wins gemaak het, berig OFM. Fergus Sampson, Media24 se hoof van koerante, het glo aan OFM gesê die Afrikaanse koerantafdeling se sake is nie gesond nie en dat daar langtermyn oplossings gekry moet word.

Johanna van Eeden, redakteur van die Volksblad-groep, het in ‘n verklaring op die koerant se webtuiste gesê Media24 ondersoek die sakemodel van al sy koerante om die volhoubaarheid daarvan in die lang termyn te probeer verseker.

“Geen besluit is nog in die verband geneem nie en enige voorstelle sal eers deur Media24 se direksie goedgekeur moet word. Tot daar `n besluit geneem word, gaan sake vir ons by die Volksblad-familie normaal voort. Omstandighede is moeilik, maar ons het `n koerant om uit te gee en ‘n onderneming om te bedryf,” het Van Eeden gesê.

Die burgerregte-organisasie AfriForum het intussen ʼn dringende versoek aan Media24 gerig om Volksblad soos tans te behou. “Volksblad dien ʼn belangrike nismark. Die koerant se aanslag is meer op plaaslike nuus gefokus as Beeld en die feit dat dit verlede jaar ʼn wins gemaak het, bewys die sukses van dié benadering,” het Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, verklaar.

Bailey sê Media24 het die afgelope tyd verskeie proefnemings in die Afrikaanse lesersmark onderneem. “ʼn Maatskappy kan natuurlik nie winsgewendheid uit die oog verloor nie, maar om wins te probeer maak deur ʼn winsgewende produk tot niet te maak, is belaglik. Die planne sal bloot die Volksblad-lesers vervreem en die Afrikaanse joernalistieke aanbod verder verskraal.”

Bailey sê as dagblaaie soos Beeld nie winsgewend is nie en Media24 se Afrikaanse koerantafdeling se sake sleg lyk, is dit wys om eerder te kyk waarom dit lesers inboet as om dit op ʼn ander deel van die publiek te probeer afdwing, ten koste van ʼn dagblad en personeelspan wat duidelik meer in voeling met hulle gemeenskap se behoeftes is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

AmY ·

Oepsie, lyk my hulle begin nou die boikot voel. Hulle het dit oor hulself gebring.

Grassie ·

Dit lyk vir my of die Beeld swaar kry omdat hy weens sy liberale beriggewing die meeste van sy meer behoudende Afrikaanse lesers verloor het. Die PUK debakel is ‘n goeie voorbeeld hiervan. Nou wil hulle die problem probeer regstel deur die meer gematigde Volksblad in te sluk. Dit kan mos nie werk nie. Geen wonder mnr Tim du Plessis het laat spaander van Naspers na Kyknet toe nie.
Dit is vir my so al of ek die laaste paar dae my lus begin verloor om op Kyknet in te skakel. Ek wonder hoekom.

Ria Maritz ·

Hallo Grassie, jip, ek is een van hulle, geen Naspes koerant vir my nie. Groete, T

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.