Kommer oor waarskuwingslig op FlySafair-vlugte

Argieffoto (Foto: Maroela Media)

Een van FlySafair se vliegtuie sal vir eers gegrond bly sodat ’n tegniese fout op die vliegtuig ondersoek kan word.

Dié fout het twee keer binne net een week veroorsaak dat ’n vlug tussen Oos-Londen en Kaapstad na Gqeberha (Port Elizabeth) herlei moes word.

Die onderskeie voorvalle het verlede Woensdag (30 Maart) en toe weer Dinsdag plaasgevind.

Die lugredery sê ’n waarskuwingsliggie het tydens albei vlugte begin flikker. Die liggie dui op ’n fout op ’n klein komponent op die vliegtuig se vlerk. Die vlugkaptein het albei kere veiligheidsprotokol gevolg en eerder in Gqeberha geland as om die reis na Kaapstad voort te sit.

’n Ondersoek na die eerste voorval het daarop gedui dat die flikkerende waarskuwingsliggie ’n vals alarm was. FlySafair het egter nou besluit om verdere ondersoek in te stel nadat die liggie vandeesweek vir ’n tweede keer geflikker het.

“Tydens albei geleenthede het ons vlug- en kajuitpersoneel ingetree om die veiligheid van alle passasiers aan boord te verseker,” sê Kirby Gordon, hoofbemarkingsbeampte by FlySafair.

Die lugredery sal nou in samewerking met die Burgerlugvaartowerheid (BLO) probeer om die ware oorsaak van die flikkerende noodliggie te bepaal.

Geen onderbrekings in gereelde dienste word verwag nie.

“Dit is nooit ideaal om ’n vliegtuig te herlei nie, want dit veroorsaak vertragings vir klante en het verskeie uitgawes vir die lugredery tot gevolg, maar dit is ons beleid om altyd konserwatief op te tree wanneer dit by enige moontlike veiligheidskwessies kom,” sê Gordon.

“Suid-Afrika se lugvaartveiligheidsrekord is een van die bestes in die wêreld. Dit is belangrik dat ons as burgers verstaan ​​dat die BLO en die operateurs wat hulle reguleer, hierdie gebeure, hoe gering ook al, baie ernstig opneem om ons veilig in die lug te hou.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

15 Kommentare

jongste oudste gewildste
Misky

Seker nie toevallig dat al hierdie dinge nou gebeur met ander lugrederye nie en enigste wat baat by so iets, is ons eie sukkelende SAA. Meer hieragter vermoed ek.

Anel

En dan wonder almal hoekom ek weier om te vlieg!!

Nie Verbaas

Klink na n beter idee om te loop waar jy wil wees eerder as vlieg met enige vliegtuig wat deur ons Suid Afrikaanse lede gediens word.

Martin

Almal moet kalmeer sulke dinge gebeur met enige lugredery en vlieëniers is opgelei om te vlieg en te reageer op ‘n waarskuwingsliggie. Enige lae koste lugredery is sensitief oor die handhawing van hul reputasie en vlugveiligheid rekord. Hulle besef dat ‘n ongeluk ‘n ramp vir hul maatskappy in elke sin van die woord sou wees. As sodanig streef lae koste lugrederye daarna om foutlose veiligheidsrekords te hê eerder as om enige kompromie oor veiligheid te oorweeg om koste te besnoei. Om te vlieg bly altyd ‘n risiko maar dit word gesien as ‘n aanvarbare risiko as jy kyk na die… Lees meer »

Stephen

Die nuus is maar dun vandag.