Kommer oor Wes-Kaapse moordsyfer

Alan Winde, die Wes-Kaapse LUR vir gemeenskapsveiligheid. Foto: Courtney Africa/ANA

Alan Winde, die Wes-Kaapse LUR vir gemeenskapsveiligheid, sê ondanks die minister van polisie se bewering dat die polisie se ingryping in die provinsie vrugte afwerp, is die provinsie se Maart-moordsyfer steeds kommerwekkend hoog.

Winde het Maandag in ʼn verklaring gesê 341 mense is in Maart vanjaar in die Wes-Kaap vermoor vergeleke met 343 in Maart 2018. “Tussen 1 November 2018, die dag waarop die teenbende-eenheid op die been gebring is, en 31 Maart 2019 is 1 567 mense in die Wes-Kaap vermoor,” het hy gesê.

Hy sê dié syfer is gegrond op die provinsiale departement van gesondheid se lykshuisstatistieke.

“Minister [Bheki] Cele se leierskap het geen verskil gemaak aan die syfer van tien moorde per dag in ons provinsie nie, tog meen hy dit is nie nodig vir verdere ingryping nie. Hy kan dit maklik sê, want hy sit in sy gemaklike kantoor in Pretoria, 1 500 km weg van die probleme wat ons in die gesig staar. Minister Cele moet sy oogklappe afhaal en onmiddellik hierdie krisis begin aanpak,” sê Winde.

Volgens die LUR is 140 mense verlede maand dood tydens noodlottige skietvoorvalle, terwyl 152 mense met skerp voorwerpe doodgesteek is. Steekmoorde het veral toegeneem, vanaf 138 in Maart verlede jaar.

“Soos met vorige statistieke sal ek ook hierdie syfers met minister Cele bespreek. Dit is baie duidelik dat die huidige polisiestrategieë nie doeltreffend is nie. Ek wil weereens ons aanbod aan minister Cele herhaal dat die R5 miljoen om die polisiereservisteprogram te laat herlewe steeds beskikbaar is. Die aanbod van ons eie werknemers as kommissarisse van ede is ook steeds op die tafel en wag net op die groen lig van die polisiebestuur.”

Winde het gesê daar word dringend op die minister se goedkeuring vir bogenoemde kwessies gewag sodat polisiepatrollies in die gemeenskappe wat die ergste onder misdaad deurloop, verskerp kan word.

“Ons moet aanvaarding van verantwoordelikheid sien, asook die vermoë om vinniger op plaaslike toestande te reageer en die gemors uit te sorteer wat die nasionale minister veroorsaak het. Ons moet die polisiediens desentraliseer en dit wegneem van die ANC om ʼn veiliger Wes-Kaap te bou.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Dries ·

Sjoe, skokkend!

Byna 20% van di land se moorde net in di Wes-kaap. Ek sou my kop in skaamte gehang het, indien ek n amptenaar van enige aard, enigsins hierby betrokke moes wees…

Paaries ·

Die sistematiese de-stabilisering van die Wes-Kaap is presies waarmee die ANC regering besig is. Deur die jare onder DA beheer was dit vir die totalitêre ANC ‘n groot doring in die vlees dat hulle daar geen beheer het nie. Wat dit natuurlik nog erger maak is dat die ANC dan sleg afsteek teen ‘n behoorlik regeerde provinsie. Indien die DA ‘n eie polisiemag in die Wes-Kaap op die been kan bring kan die SAPD, soos nou, maar net in naam daar wees. Dit sal egter nooit toegelaat word deur die woelgeeste in Lethuli huis nie aangesien dit die de-stabiliseringstaktiek van die ANC sal oopvlek tot skande natuurlik. Die Creme de la Creme van oud Veiligheids en Misdaad Inligtings diens sal korte mette maak van die verborgenheid van die ANC se veldtog. Wie weet dalk net miskien kan dit ‘n werklikheid word. Die DA regering in die Wes-Kaap het die aandag van ander lande ook.

Annie Webb ·

Stem saam. Die Wes-Kaap en Stad Kaapstad word puik regeer deur die DA. Behalwe in die geval van dienste soos polisiëring, voorsiening van grootmaat water en elektrisiteit, en alle ander waarvoor die nasionale regering verantwoordelik is. Dit wil voorkom asof die ANC spesifiek probeer om in dié gevalle juis te sorg dat hulle die DA-rade in ‘n swak lig stel.

TimJan ·

My gedagte ook… Da regeer, anc polisieer.
Met die stats tussenin. Met die huidige integniteit….. Ag man dit kan mos nie goeie resutaatm bring nie?

Stoffel ·

Die Weskaap moet wegbreek en ‘n Republiek word. Daar is geen ander uitweg nie.

Henda Myburgh ·

Kaap was altyd die melk en heuning provinsie en almal wil net altyd Kaap toe …. nou is die moord syfer daar al net so hoog indien nie hoer as Gauteng nie ….. nou wonder ek ..

Nuwe SA ·

Stem anargie. Nuwe morele standaarde in SA. Die vervalle Oos Kaap stem ANC maar gaan bly in die Wes Kaap vir werk, huise, dienste ens. Dan is al die onwettige mense van noord van ons grense ook daar. In hulle lande van herkoms krepeer hulle en hulle stem ook vir die partye wat in beheer is en bly. Koop van ‘n SA ID is ook baie maklik.

George in Bloem ·

Dis beter as Cele eerder sy Bheki hou. Useless verby.

Jax ·

Sekere stede in die Wes-Kaap!! Nie die hele Wes-Kaap nie. Kry julle feite reg! Die gang-geteisterde dele van die Wes-Kaap is waar daar n groot probleem is. Die res van die Wes-Kaap gaan dinge eintlik baie goed! Ons lig ons alies en partoleer saam met SAPS deur ons strate – die moord en roof syfers waar ek bly, is baie gering (verseker geen moorde en dalk een motor inbraak in n maand. En voor iemand nou weer “slim” wil wees – ek bly in die noordelike voorstede, nie in n sekuriteits kompleks nie maar in n gewone buurt, in n middelklas huis en voel glad nie bedreig of bang nie. )
Raak betrokke, ken jou bure en jou buurt. Maak alarm as jy iets vermoed wat uit plek is. Ry saam Met jou Buurtwag rond en raak sigbaar! Dit maak n baie groot verskil. Ons is te gemaklik – sit in ons huise, kyk en lees nuus en raak de hel in maar lig nie n vinger nie!
Los jou dop en TV – help SAPS en die buurtwagte om ons almal veiliger te laat lewe! Veilig leef begin by jouself!

bollie ·

Die Wes-Kaap se hoë moord-syfer is uniek in die opsig dat dit grootliks a.g.v. bendebedrywighede in sekere gebiede (meestal Kaapse Vlakte) is. Dit raak nie mense regstreeks wat nie in daardie gebiede woon nie. Dit gaan ook al jare so aan, ook tydens apartheid so gewees.

Hanna Hoekom ·

Ek stem saam! Woon al baie jare in die Weskaap (selfs as kind daar gebly) en die bendegeweld is absoluut niks nuuts nie. Voeg dan die miljoene Ooskapenaars wat instroom (en al wat n onwettige immigrant uit Afrika uit) en jy het n resep vir n oorlogsone. Syfers opsig self is misleidend.

Willie ·

Wat verwag jul, die SAPD sit met n kamma 4000 sterk manne/vroue met rekords teen hulle…

Brandy ·

EK is bekommerd oor die MOORDSYFER Op plase en in klein dorpies .. nie spesifiek in enige area nie .. wanneer gaan julle dit begin raaksien?

Hanna Hoekom ·

Ek stem saam! Woon al baie jare in die Weskaap (selfs as kind daar gebly) en die bendegeweld is absoluut niks nuuts nie. Voeg dan die miljoene Ooskapenaars wat instroom (en al wat n onwettige immigrant uit Afrika uit) en jy het n resep vir n oorlogsone. Syfers opsig self is misleidend.

KrokodilBotha ·

Ja in die DA se kaap moet jy koes en wakker slaap. Dankie DA vir jou ondersteuning van BEE en reg stellende aksie ensv. Meeste van die polisie in die provinsie , ai eish is nie 12 volt nie.

Jannes ·

Een van die Weskaap se grootste probleme is die onbeheerde instroming van mense veral uit Transkei wat met net die klere aan hulle lywe aanland en oral oor sinkhuisies bou. In hulle massas begin hulle eise stel. Hulle plak op enige moontlike plek en stel eise wat gepaard gaan met geweldadige optredes by wyse van klipgooi en brande. Hulle hou onwettige stakings selfs op hoofroetes wat dae aanhou. Hulle werksvermoe is beperk wat tot minimum hongerlone lei.
Hoe gaan die omstandighede ooit opgelos word. Bestaan daar ‘n regering in die wereld wat so ‘n bevolking kan beheer?

schalk ·

Tipies politikus as jy bekommerd is ,is jy stupid. Die land is in n misdaad krisis hoor jy vrot van bo tot onder.DIS N KRISIS en eis daadwerklike optrede.Kan nie met politiek korrekte taal aangepak word nie. WORD WAKKER HOU REGERING VERANTWOORDELIK.

Heksie ·

Bheki Cele se hande is agter sy rug vasgebind … hy is net maar nog ‘n pion in die skaakspel van die anc.

Christo ·

Mnr. Winde ek stem saam dat verskriklik baie man-ure en vrou-ure vermors word in polisiestasies waar dokumente gesertifiseer word. Hierdie polisiebeampte hoort om op patrollie te wees. Tweedens weet ons dat die ANC minister die DA gyselaar hou wanneer dit by polisieëring in die Wes-Kaap kom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.